ADVERTISEMENT:

 

 
 

51. Daisy (en Bernard) kry 'n spierwit verrassing

Date: 30 October 2014 By: News Correspondent

Dis eers anderkant die tonnels dat Daisy begin onraad vermoed.

“Wat is hierdie ding wat jy my moet gaan wys, Bernard? Sover ek weet is alles onder beheer daar by die bouterrein en ons het vir die oomblik alles wat ons benodig ... Jy het my nou vreknuuskierig!”

“Jy mag mooi wees, my liefste Daisy, maar partymaal is jy maar baie soos die mis op hierdie bergpas! Daar is iets baie belangriks wat kortkom en dis hoog tyd dat ek dit regstel.” Meer as dit wil die man nie verklap nie, alhoewel dit duidelik is dat iets hom baie binnepret verskaf.

“Mmm, dit lyk asof Chuck Norris jou nie eers sal laat praat nie, Ou Barries! Dan sal ek maar net geduldig moet wag ... Maar net vir jou straf sal jy saam met my moet kom om te gaan kos koop wanneer ons klaar is met jou geheimsinnige besigheid! Vandat jy daai lawwe dieët laat staan het, is dit weer ‘n plesier om vir jou kos te maak! Miskien moet ons vir Ousus en Jakobus nooi om vanaand T-bones by ons te kom eet; wat dink jy?”

Daisy babbel soos gewoonlik wanneer sy onseker voel. Sy praat nog een stryk deur terwyl Bernard parkeer, omstap en die bakkie se deur vir haar oopmaak. Sonder dat sy die draad van haar storie verloor, vat sy Bernard se hand en begin saam met hom aanstap. Tien tellings later kom Daisy eers agter dat Bernard stilstaan en nie meer na haar luister nie. Sy kyk op.

Voor Daisy is daar ‘n spierwit Landcruiser met die grootste, rooiste strik op die dak. Voor Daisy haar mond aan die beweeg kan kry om te begin vrae vra, skiet daar ‘n sjampanjeprop en iemand druk glase in haar en Bernard se hande. Daisy kyk vraend na Bernard.

“Dis joune, Daisy. Laat ek jou nou net weer vang met daardie belaglike pienk bromponie by die bouterrein...” Bernard lag diep uit sy maag uit vir die uitdrukking op Daisy se gesig.

“Myne? Myne? Wat bedoel jy, Bernard?”

“Die Landcruiser. Dis wit. Dis joune.”

Skielik is Bernard nie meer so uitgelate nie. Iets is verkeerd.

Daisy kyk af na die glas sjampanje in haar hand asof sy nog nooit vantevore die koue borreltjies gesien het nie. Toe drink sy die hele glas met een sluk leeg en hou dit uit na die verkoopsman vir nog. Die tweede glas volg die pad van die eerste glas sonder dat Daisy ‘n oog knip.

“Daisy?” vra Bernard. Daisy se totale gebrek aan reaksie is die laaste wat hy verwag het.
“Ek weet dis seker bietjie oorweldigend en miskien moes ek jou geken het in die saak, maar ek kon dit nie weerstaan om dit as ‘n groot verrassing vir jou te hou nie...” Bernard se stem word al flouer.

“Kom ons ry,” sê Daisy en draai om.

“Daisy...” probeer Bernard weer.

“Kom klim, Bernard of wil jy hê ons moet voor al hierdie mense die sakie uitpraat?” Haar stem is angswekkend koud.

In die verbygaan gryp sy die bottel sjampanje uit die verbaasde verkoopsman se hand uit.

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 148

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT