ADVERTISEMENT:

 

 
 

52. Daisy skrik vir haar eie spesiale Prado-projek

Date: 06 November 2014 By: News Correspondent

Bernard weet dat ‘n mens ‘n vrou net moet liefhê en haar nie probeer verstaan nie. Hy weet ook beter as om die saak met Daisy aan te roer voordat sy afgekoel het. En op die oomblik kan hy hom verbeel dat hy stoom by haar ore sien uittrek!

Dus ry hy rustig berg-op. By Mountain Inn stop hy en, gentleman wat hy is, help hy vir Daisy uit die kar uit sonder om ‘n woord te sê. Hy hou haar net saggies aan die elmboog vas en stuur haar na die houtdek wat oor die hele dorp uitkyk. Hy bestel nog sjampanje en ‘n yskoue Heineken vir homself.

Dit is meer as ‘n halfuur later wat Daisy vir Bernard in die oë kyk en saggies met hom begin praat:  “Ek weet jy verstaan nie, Bernard. En ek is vreeslik jammer dat ek so ‘n scene gemaak het daar by die handelaar, maar soos altyd verstom jy my – enige ander man sou sy stert in ‘n groot krul getrek het en soos ‘n woedende bul in ‘n glaswinkel gereageer het ... Dit sou die hele situasie net vererger het. So, dankie vir jou kalmte.

“Maar wat op aarde besiel jou om uit die bloute uit vir my ‘n ryding te koop? En nie sommer enige ryding nie – dit moet een wees waarvan die koopprys ‘n klein Afrika-nasie vir ‘n jaar kan kos gee? En jy wil hê ek moet dit sommerso gebruik vir die bouery daar by die gastehuis? Al daai fênsie gadgets en dis nie eers ‘n bakkie wat mens kan gebruik vir karweiwerk nie...”

Daisy gooi haar blonde hare parmantig oor haar skouer en gluur vir Bernard aan.

“Hokaai, Daisy. Wag nou net ‘n oomblik. Laat ek sien of ek verstaan wat aangaan: jy wil nie ‘n Prado hê nie, maar eerder ‘n bakkie soos myne?” Bernard lyk oorbluf.

“Ek het geweet jy sal nie verstaan nie, Bernard. Ja, gedeeltelik is dit miskien oor die funksionali­teit van die kar. Maar ek kan nie vir ‘n oomblik vrede maak met die hoeveelheid geld wat jy wil spandeer nie! 

Een van die hoofredes vir die bouery by die gastehuis is juis om die plaaslike gemeenskap se lewenspeil te verhoog en dan spandeer jy ‘n plaas se geld om ‘n statussimbool te koop? Ek wil glad nie deel wees van sulke dubbele standaarde nie!”  Daisy se oë skiet behoorlik vlamme.

“Haai, Daisy – ek het nooit kon dink dat jy só daaroor voel nie! Om jou die waarheid te sê, het ek nie vir ‘n enkele oomblik daaraan gedink nie. Al wat ek wou bereik is dat jy moet ophou om met daai belaglike bromponie rond te rits en ‘n veilige ryding moet hê. Ek weet jy moet partymaal jou beurt afwag om dorp toe te gaan met een van die plaasvoertuie en ek weet jy sal die bouery meer effektief kan bestuur as jy jou eie ryding het. Buitendien is ek so beïndruk met jou werk dat ek gedink het ek kan jou op só ’n manier bedank...”

“Bernard, laat ek en jy sommer nou en sommer hier iets klaarpraat. Ek weet jy is ryk. En vir party meisies sal dit seker manna uit die hemel wees. Vir my het dit nog altyd gepla dat jy ‘n onophoudelike bron van geld so vanselfsprekend aanvaar soos water uit ‘n kraan. Ja, okei – anders as jy het ek arm grootgeword en dit beïnvloed my persepsies. Maar ten spyte van jou welvaart het ek jou as mens leer ken en liefkry en ek gun jou al jou skatte en speelgoed; geniet dit selfs saam met jou as ons rondrits oor die hele wêreld.

“Nou vra ek jou baie mooi – moet asseblief nie verwag ek moet my siel verkoop nie. Ek kan insien dat ek ‘n voertuig nodig mag hê – daar stem ek saam met jou.

 Maar op so ‘n flambojante manier? Ons weet albei dat daardie geld baie beter aangewend kan word!”

‘n Week later kom kuier Plore vir Daisy die Saterdagmiddag. Hy en Daisy sit saam met twee van Plore se studentepêlle op die stoep en braai. Bernard is vir besigheid landuit en Jakobus en Ousus is vir ‘n week in die Wildtuin.

“Hei, Daisy,” vra hy met ‘n gesig wat niks verraai nie, “vertel nou eers van jou nuwe kar, man?”
Daisy giggel maar sy sê niks. Sy weet hier kom ‘n ding en sy wag om te kyk watter kant toe hierdie gesprek gaan. Duidelik het Plore stories gehoor.

“Antie,” probeer Plore weer. “Ek hoor jy kry toe ‘n Prado uit die boks uit met ‘n bloedrooi strik op die dak?”

“Plore, gaan speel op die N1! Jy het verkeerd gehoor. Wie van julle wil nog ‘n bier hê?” Daisy weier om saam te speel.

“Daisy, maar wat maak daai wit Land Rover hier op die werf? Nog ‘n jaar of drie en dis ‘n classic daai?” Plore knipoog vir sy vriende wat al lankal die storie van Plore se onkonvensionele tannie gehoor het.

“O, daardie? Ja, dis my nuwe ryding, so met die bouery saam. En dit sal vreeslik handig te pas kom met my nuwe projek om mense allerhande nuwe vaardighede te leer.”

“Bernard het die fondse bewillig. Ek noem dit die Prado Projek.”

 
 
 

Viewed: 239

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT