ADVERTISEMENT:

 

 
 

54. Daisy beplan vir haar vyfster “road trip”

Date: 20 November 2014 By: News Correspondent

Laatoggend stap Bernard in die hoofslaapkamer in.

Daisy sit kruisbeen op die bed. Rondom haar is ‘n strooisel tydskrifte oor binnenshuise versiering asook meubelgidse. Sy loer net vinnig oor haar Mickey Mouse leesbril in Bernard se rigting voor sy haar weer verdiep in die leesstof. In haar hand het sy ‘n papbakkie en sy eet ingedagte met ‘n teelepel.

“Bernard, ons sal voor al die fabrieke sluit in Desember by die meubelmakers en tekstielfabrieke moet uitkom. Dit gaan ‘n groot bestelling wees wat ons plaas vir die gastehuis en as ons nie nou spring nie gaan hulle nie eerste ding volgende jaar aan ons goed begin werk nie...” Sy suig aan die teelepel.

“Daisy, is dit wragtig grondboontjiebotter en stroop wat jy so met die lepel sit en eet?” ‘n Rilling trek deur Bernard.

“Mmmm. Ja. Stapelvoedsel in die koshuis op Messina. Jy sal nie weet nie,” antwoord Daisy afgetrokke. “Mens eet dit wanneer jy moet flinkdink.”
“Hoorie, Daisy – ek moet ernstig met jou praat,” begin Bernard.
“Mmmm,” antwoord Daisy, lepel in die mond.
“Daisy!!” verhef Bernard sy stem.

“O, hello Bernard. Ek het jou nie sien inkom nie... Hoe gannit met die njalas wat gister hier aangekom het?” Daisy is die ene vriendelikheid noudat haar aandag nie meer verdeel is nie.
Bernard skud net sy kop en gee vir Daisy ‘n soen in haar nek.

“Daise, daar is iets ernstig wat ek met jou oor wil gesels en jy moet asseblief konsentreer op wat ek sê anders is daar nou-nou weer ‘n bloedige geveg soos toe ek die splinternuwe Land Cruiser vir jou wou koop!”

Daisy haal haar leesbril af en kyk diep in Bernard se blou oë. “Dit klink ernstig, boerseun. Ek is die ene ore. Praat maar, ek sal fokus.” ‘n Glimlag pluk-pluk aan Daisy se mondhoeke. Bernard is vir haar vreeslik snaaks wanneer hy so ernstig raak.

“Dit gaan oor ‘n Kersgeskenk vir jou. En besigheid. Kyk, ek sal bitter graag saam met jou wou gaan na al hierdie interieurplekke en –fabrieke, maar dit is die Silly Season vir my en ek moet nog voor Kersfees Engeland en Kanada toe. Toe het ek nou gedink...”

“Solank dit net nie iets uitspattig en peperduur is nie, ou Barries. Ek dink ons verstaan mekaar na die Nuwe Kar-episode sommer baie beter op daardie gebied!”

“Nee, ek belowe. Niks uitspattig nie. Maar ek dink dit kan heerlik vir jou wees. Wat dink jy daarvan dat jy vir Kathy saam nooi en dan maak julle twee sommer dinge plesierig terwyl jy besigheid doen vir die gastehuis?”

Daisy is ‘n rukkie stil. Sy kyk na al die brosjures rondom haar. “En as ek nou goed aankoop waarvan jy nie hou nie, Meneer Young? Ek weet jy het baie definitiewe idees as dit kom by die gastehuis...”

“Haai Daisy, dit gaan wees asof ek reg langs jou staan! Jy vergeet ook maar lekker van al die tegnologie, nê? Ek gaan jou Big Brother, my mooiste – jy sal niks kan doen of koop waarvan ek nie weet nie!”

“En jy sê ek moet vir Kathy saam nooi? Is dit nou net omdat jy so baie hou van al daai stoute klere wat sy verkoop?” terg Daisy.

“Nee, Daise. Kathy is ‘n baie goeie besigheidsvrou en ek het respek vir haar insigte. Natuurlik sou dit beter wees as jy vir Carla kon saamvat – sy is klaar in die gastehuisbedryf en haar insette sou ook waardevol wees. Maar dit is seker nie moontlik dat sy nou verlof kan neem nie, of hoe?”

“Miskien is drie koppe beter as een, Bernard. Miskien moet ons aldrie op hierdie trippie gaan. Dan kan jy mos doodgerus wees dat ons die regte besluite gaan neem: Kathy gaan seker maak dat ons die beste deal kry, Carla kan raadgee oor die tegniese en praktiese aspekte en ek sal al die kreatiewe en estetiese besluite neem...” Daisy se oë blink by die vooruitsig om saam met haar twee oudste en beste vriendinne tyd deur te bring.

“O, mooi. Snaaks genoeg, ek wou dit so voorstel maar toe is ek bang jy dink dalk dit is te uitspattig, Daisy.” Bernard lag heerlik omdat Daisy sonder enige suspisie in sy fyn beplande lokval ingestap het. “Dis hierdie deel wat jou Kersgeskenk is, Daisy – dat jy albei jou beste vriende kan saamvat op ‘n grondige sakereis!”

“Maar ek het ‘n paar voorwaardes van my eie wat ons moet bespreek, Daise. Jy moet asseblief net koelkop bly en jouself heeltyd herinner dat die trippie oor besigheid gaan. Daarom wil ek hê julle moet heelpad vyfster reis. Die verblyf ook; veral die verblyf.”

“Ons gastehuis se vere moet reggeskud word vir groot welvaart. Internasionale rykes, waarvoor net die beste goed genoeg is. En daarom gaan julle die beste van die beste in Suid-Afrika ervaar sodat ons ons standaarde kan vasstel.”

“Sal jy asseblief die nodige navorsing doen en vir my so gou moontlik ‘n reisplan voorlê? Miskien moet jy dalk die Bloutrein ook iewers benut en natuurlik vlieg julle orals nét Eerste Klas. Waarsku ook maar vir Kathy en Carla dat ek volledige verslae van hulle sal vereis wanneer julle terug is.”
Daisy staar vir Bernard oopmond aan. “Dis goed so Bernard,” sê sy geïntimideerd.

“Ek sal sorg dat jy dit binne 24 uur op jou lessenaar het.”

 
 
 

Viewed: 156

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT