ADVERTISEMENT:

 

 
 

56. Daisy en kie reis in weelde op die Bloutrein

Date: 04 December 2014 By: News Correspondent

Dit is ‘n helder, skoongewaste Maandag­oggend in Pretoria toe Daisy en Kathy by die stasie registreer vir die Bloutrein. Oral is daar vriendelike gesigte van deftige personeel. 

Halfagt die oggend verskyn daar glase sjampanje in Daisy en Kathy se hande terwyl hulle bagasie suutjies verdwyn. Op silwer skinkborde is daar guitige klein ontwerpershappies wat aangebied word vir die passasiers.

Daisy se oë dwaal oor die versameling toe­riste - die meeste natuurlik buitelanders, van ‘n sekere ouderdom en baie duidelik welvarend.

“Dis ook maar dêm goed dat ons by al daai haar- en skoonheidsalonne uitgehang het, of hoe vriendin? En al die nuwe klere ... Ons is duidelik nie heeltemal deel van hulle dammetjie nie! Maar gelukkig help die rooi naels, die ge­klitsde bolla en die nuwe haaipolfaais om ons te kamoefleer, nê? Kyk, kyk gou daar, Kathy, daai mense het ‘n volledige reeks Louis Vuitton bagasie. Tot die skeepskis! Ek kan so wragtig my oë nie glo nie...”

“Maak toe jou mond, Daisy, en moet asseblief tog nie so staar nie! Hou die pose, Daisy, hou die pose – verbeel jou dat jy ook ‘n celebrity is. Hier is vir jou nog ‘n glas bubbly, dit sal help om jou airs en graces te gee.” Kathy kan haar lag nie hou nie. Sy kan ook nie besluit of dit noodwendig ‘n goeie eienskap is dat Daisy so ‘n ope boek is nie. Sy sou nooit ‘n goeie politikus wees nie...

‘n Aantreklike ouer man kom stel homself aan Daisy en Kathy voor. Sy naam is Herman en die twee is aangenaam verras toe hy nie ‘n passasier is nie, maar hulle persoonlike butler vir die volgende twee dae! Hy nooi hulle op ‘n kort toer van die Bloutrein voordat hy hulle na hulle kompartement vergesel. “’n Laat ontbyt word bedien tot ongeveer 14:30, dan is daar ‘n egte High Tea om 15:30 en julle weet dat daar ‘n dragkode is vir aandete? Net julle fraaiste en blinkste tabbertjies sal doen vir die aand,” gee hy vriendelik advies. “Maar julle twee pragtige dames is natuurlik welkom om vooraf by die kroeg in die sitkamerwa iets te drink voor ete. En gedurende die dag is daar die Observation Car of die Club Car waar julle allerhande afleiding sal vind of net die geselskap van die ander passasiers kan opsoek. Rook word toegelaat in die Club Car. Alle eet- en drinkgoed is inge­sluit by die prys, behalwe natuurlik vir Franse sjampanje en kaviaar.”

“Nee, regtig?” vra Kathy teleurgestel. “Die Franse vonkel vloei nie verniet nie? Wat van oesters? Is dit darem ingesluit?”

“Soveel as wat jy aan kan weglê,” belowe Herman. “Julle is ook welkom om kamerdiens te bestel – daar is ‘n spyskaart op die tafel by die venster. Ek is 24 uur tot julle diens en as dit van my afhang sal julle nooit honger of dors ly nie!” verklaar hy opgeruimd.
“Salig, saliger, Bloutrein!’ sug Daisy en sak in ‘n leunstoel neer met haar lang bene oor die armleuning. “Ek is só bly my geliefde het my in hierdie trippie ingepraat! En is dit nou nie perfek dat jy dit saam met my doen nie, Kathy? Kyk, ons klere is alreeds uitgepak, ons hoef regtig nie ‘n vinger te lig nie!”

“Kom ons gaan rook ‘n sigaret in die Club Car, en sodra die trein goed op pad is, kan ons gaan brêkfis eet. Oeee, ons moet seker maak ons mis niks nie, Daisy,” raak Kathy ook skielik uit haar vel uit. “Ek het nog nooit ‘n High Tea gehad nie. Nie eers toe ons net na skool vir daardie tyd in London was nie. Dink jy mens moet ‘n hoed dra?” vra sy bekommerd.

Dis toe met die einste High Tea dat die moeilikheid soos Karoobossies begin uitslaan.

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 254

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT