ADVERTISEMENT:

 

 
 

59. Daisy berei voor vir ‘n loslappie Kersfeesmaal

Date: 08 January 2015 By: News Correspondent

Daisy en Bernard lê uitgestrek op die bank en kyk televisie. Sommer so met swem­klere. Daisy se sonbruin bene lê op Bernard se skoot.

Dis twee dae voor Kersfees.

Vir ‘n verandering is Daisy doodgelukkig om by Bernard se groot tuinhuis in Parktown te kuier. 
Die meeste aktiwiteite op die plaas het afgewater in afwagting van die feesseisoen en Daisy het besluit om haar senuwees ‘n blaaskans te gee van romanspinnekoppe, reuse oorkruipers, skerpioene en slange.

“Vir ‘n klein rukkie wil ek my liewer net bekommer oor normale dinge soos kapers en inbrekers,” het Daisy vir Bernard verduidelik. 

“Ek is al so jittery soos ‘n renoster met ‘n tweevoet horing! Mens weet nooit wat snags uit die dak uit val of aan jou vinger vasgebyt sit wanneer jy jou hande in ‘n laai indruk nie...”

Bernard se bloubulblou oë verkreukel as hy onthou hoeveel keer hy Daisy van ‘n toonbank of ‘n tafel moes kom red waar sy gillend staan en kyk het na ‘n grillerige indringer. Maar behoede die inbreker wat hom vasloop teen ‘n verwoede Daisy!

“Bernard?” flikflooi Daisy.

“Hmmm?” sê ‘n skeptiese Bernard.

“Jy weet mos met hierdie feesgety en so...” begin Daisy.

“Hmmm,” se Bernard. Hier kom ‘n ding, hy voel dit sommer so aan sy brand-name swembroek.
“Daar is soveel mense wat alleen is. En jy weet mos daar is so baie mense wat selfmoord oorweeg in hierdie tyd, wat g’n kind of kraai het om ‘n krismisboom voor op te maak nie...”
“Mmm,” kreun Bernard.

“En ons families is ook ver – jou ma is iewers in die sneeu en Ousus-hulle is geklik genoeg Caprivi toe om te gaan hengel...”

Bernard hou op om Daisy se voete te masseer. “Toe nou, Daise, uit daarmee! Ek sien klaar in watter rigting jy mik.”

Daisy sit begeesterd regop. Haar oë blink en haar hande praat opgewonde saam.

“Ek het nou gedink, Bernard, miskien kan ons hierdie ‘n loslappie Kersfees maak. Jy weet, almal wat nie iemand of iewers het om Kersfees mee te vier nie. My vriendin Kathy wat die stoute kleertjies verkoop, Plore wat soos ‘n verliefde donkie in Pretoria naby sy meisie rond­hang, Carla van die gastehuis wat geen mens wil bedien in haar vakansietyd nie, daardie drie ou bachelor ooms van die antieke winkel in die Moot, Miesies Cohen van oor­kant die straat, jou chauffeur en sy dogter, die nurse by die patoloë waar hulle nou die dag jou bloed getrek het, die jong immigrante uit Argentinië wat nog nie vriende gemaak het nie...

“O ja, en my vriendin Annette wat saam met my geswot het en wat gister teruggekom het na ‘n jaar in ‘n ashram, en daai chef dude van die Saxon wat ons annerdag vertel het hoeveel hy opsien na Kersfees, en jou pêl Ben wat sy kinders het vir die Kersvakansie en hy kan nie eers ‘n eier kook nie...”

Daisy is op dreef.

“Dink jy dit is genoeg mense, Daise? Dink jy nie ons moet ‘n paar plakkate in die straat ook opsit nie?”

“Nee wat, Bernard. Mens wil ook nou nie te veel vreemdelinge in jou poorte hê nie, nê? En dink jy jou ma sal vreeslik omgee as ons haar kombuis ook gebruik om die kos te maak? Ons kan sommer tafels dek hier onder die bome by jou swembad, in regte Mediterreense styl...”

Daisy se entoesiasme is so opreg dat Bernard se sarkasme bo-oor haar kop gaan.

Haar mooi blonde kop werk in die hoogste versnelling. Sy vlieg op en gaan haal haar iPad en skryfgoed.

“Ek moet lyste maak en almal bel en spyskaarte en resepte bymekaar hark. As jy nie omgee nie, sal ek sommer vir jou ook ‘n lysie maak van dingetjies wat jy kan doen om te help, liefste man? Al die drank en die liggies en ys en musiek...

“Nataniël se Tafel se alie! Hierdie gaan die beste, mooiste, entertaining-ste Kersfees ooit wees, tralalalala, la, la, la, la!”

Bernard sug.

Hy het so uitgesien na rus en stilte en ‘n intieme, stille en heilige nag.

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 296

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT