ADVERTISEMENT:

 

 
 

60. Daisy se Kersmaal met haar loslappie vriende

Date: 15 January 2015 By: News Correspondent

Kersdag breek helder en skoon aan. Maar nie rustig nie.

“Ek weet nou hoekom vernoem hulle tropiese storms na vrouens, Daisy,” kreun Bernard net voor sonop. “Jy is die afgelope twee dae soos ‘n warrelwind op ‘n roller coaster! Hoe laat begin hierdie mal idee van jou?”

“So twaalfuur, ou Barries! Toe-toe, kry daai loslyf van jou uit die bed uit – daar is tafels wat gedek moet word, vlaggies wat jy moet ophang en dan daai heerlike mojitos van jou...! Ek dink ons moet sommer die dag afskop met ‘n mojito, net om seker te maak jou resep is nog in die kol. En moenie brêkfis maak nie – jou mojitos het al die voedingswaarde wat nodig is tot middagete toe,” roep sy laggend oor haar skouer en trippel terug kombuis toe.

Miesies Cohen van oorkant die straat is die eerste een om die deurklokkie te lui. Sy is opgedress in ‘n blinkerige rok en klem haar handsakkie met altwee hande senuweeagtig voor haar vas. Die gesigggie onder die dun-gedoende haartjies is ingekleur, al sit die twee wange nie op dieselfde hoogte nie.

“I brought a few things, my darling. Never heard of a kosher Christmas before, so I sent my driver to that lovely delicatessen in Illovo. Also some presents, just for fun!”

Daisy omhels die klein lyfie. “Ah, Miesies Cohen, that was not necessary. I know about preparing kosher foods and I made ample provision for you. But thank you very much; it is really lovely that you can join us! Come and have one of Bernard’s mojitos, he is outside at the pool.”

Voor Daisy kan wegglip kombuis toe kom Plore en sy meisie ook daar aan. “Ag, dankie tog, nou kan julle help. Die mojitos het my bietjie stadig gemaak,” giggel sy. “Julle is op voordeurdiens. Ontvang die mense en stap met hulle deur na die patio toe en kondig hulle aan. Soos in die movies. En sê vir Bernard dis slegte maniere as daar nie musiek speel wanneer die gaste opdaag nie. Toe-toe, spring!”

Toe al die mense daar is, glip Daisy kamer toe om te gaan zoosh. Tien minute later maak sy haar verskyning op die patio, die ene rooi rok en rooi lippe en ‘n skitterende glimlag.

“Ek is seker julle het almal mekaar nou al ontmoet.” Sy praat Engels. “Maar die kanse is goed dat julle nog niks van mekaar weet nie. So, net voordat ons na die tafel toe gaan, wil ek vertel hoekom julle gekies is vir hierdie loslappie geleentheid. Dan skiep ons ‘n paar stappe en daar is genoeg om oor te gesels wanneer ons eet.”

“Kom ons begin daar by Carla. Hardste werker wat ek ken. Bestuur ‘n Marokkaanse gastehuis in Pretoria en is uitgelewer aan die nukke en grille van klante. Sy is hier om van kop tot tone bedien te word, sodat sy met nuwe krag die volgende jaar kan begin.”

“Langs haar is Kathy. My vriendin van skool af, van voordat ons rondborstig geraak het. Sy is my familie, nie deur bloed en gene nie, maar dik en dun. En dames, gesels met haar oor die mooiste, stoutste onderklere – sy het kontakte!”

“Dan is daar Louis, Marius en Petrus. Drie bachelors wat ‘n besigheid in antieke ware bedryf in Pretoria.  Hulle doen hulle eie restou­rasiewerk en verkoop enigiets van ‘n ou kar tot ‘n ou kar se nommerplaat. Een van hulle winkels spesialiseer in die maak van meubels uit herwonne materiale.”

“Miesies Cohen bly oorkant die pad van ons af. Sy het as ‘n baie jong kind die kloue van Nazi Duitsland ontsnap en het meer stories om te vertel as Oom Schalk Lourens.”

“My mede-dramastudent – Annette. Sy het letterlik ‘n week gelede teruggekom na langer as ‘n jaar in ‘n ashram in Indië. Sy is nie iemand van baie woorde nie, tot jy haar voor ‘n klavier neersit. Die mooiste blues ... Mens kan haar amper vergewe dat sy ‘n vegetariër is!”

“Juan en Rosarito is van Argentinië. Vars van Argentinië, nog net een maand in onse land. Ek het nog nooit mense mooier sien salsa nie! Miskien kan hulle ons later wys hoe om ‘n paar steps te gee.”

“Die chef dude van die Saxon is Alex. Hy is ‘n inspirasie as dit kom by bak. Die mooiste, die fynste, die delikaatste pragstukkies wat mens kan eet. Hy léwe daarvoor.”

“Jannes en Jackie. Jannes werk al langer as 40 jaar vir Bernard se familie. Sy vrou Jilly het ook, maar sy is twintig jaar gelede dood aan borskanker. Van toe af maak Jannes alleen vir Jackie groot. Volgende jaar is Jackie se finale jaar medies by die Universiteit van Kaapstad. Een van die dae het ons ons eie dokter om na ons om te sien...”

“En Ben. En Karien en Boeta. Hierdie is Bernard se familie deur dik en dun. Dis hulle eerste Kersfees sonder Erna; sy is verlede jaar net voor die feesseisoen dood.”

“Mary hier is een van daai nurse by die patoloë wat gate in mens se arm steek vir bloed. Maar eintlik wil sy ‘n operasangeres wees.”

“Laaste maar nie die minste nie, my eie, eie peetkind, Plore, en sy meisie. Ek durf julle nie meer as dit vertel nie want hy ken te veel van my eie geheime. Maar hy is my hart se punt!”

“En nou dat almal mekaar se binnestories weet, is daar geen verskoning vir ongemaklike stiltes nie! Kom ons gaan sit aan – die tafels is hier onder die bome gedek.”

Dit word ‘n fees.

Een wat uiteindelik vir Bernard en Daisy laat met herinneringe vir ‘n leeftyd. ‘n Dag van vrede en liefde en dankbaarheid en oorvloed.

Presies nes Kersfees bedoel is om te wees, met of sonder mojitos.

‘n Wonderlike 2015 aan al die lesers van Daisy se manewales!

 
 
 

Viewed: 433

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT