ADVERTISEMENT:

 

 
 

63. Daisy vind die kuur op haar eie Daisy-manier

Date: 05 February 2015 By: 

Dis twee weke later toe Bernard vir Daisy by Lanseria oplaai.

“Daisy, het jy al hierdie bagasie gehad toe jy Kaap toe gevlieg het? Hoe voel dit dan nou asof jou bagasie skielik verdubbel het? Om jou die waarheid te sê, onthou ek net ‘n nederige rugsak...”

“Dis ‘n lang storie, Bernard,” lag ‘n vrolike, bruingebrande Daisy. “Maar kom gee my eers nog ‘n groot druk. Van alles wat ek gemis het, het ek die meeste na jou verlang! Kom ons ry en dan gaan koop jy vir my oesters en sjampanje vir middagete. Iewers waar ek kan rook ook.”

Oor middagete hoor Bernard toe die hele storie.

Daisy het self vir haar ‘n bespreking gemaak by ‘n spirituele retreat in die Wes-Kaap. Op die webwerf was dit alles wat Daisy toe begeer het – stilte, afsondering, eenvoudige kos, meditasie, joga en die pragtige see.

“Dit alles het ek gekry, Bernard. In oorvloed. Ons program het in die oggende begin met meditasie – HALFVYF in die oggend! En net so op die nugtermaag – g’n koffie en beskuit om eers wakker te word nie. Natuurlik ook geen nikotienskoppie uit die harde enkelbed nie. Gelukkig het ek darem die voorgestelde gemaklike, wit klere reg gehad.”

“Die meditasiekamer het lieflike groot vensters wat oor die see uitkyk – maar dit sou ek eers agterkom na sonop. Toe almal ewe deur die mis daar opdaag, is daar net groot donkerte en groot, harde kussings om op te sit. Die hard is om wakker te bly, jy sien?”

Bernard knik sy kop en giggel binnekant toe.

“Maar die heel ergste was die stilstuipe! Ek het gemeen hulle bedoel geen rockmusiek of harde lag toe hulle op die webwerf verwys na ‘n silent retreat nie. Maar ek het nie geweet ek mag met niemand praat vir tien dae nie!” Daisy se verontwaardiging is opreg.

Bernard se binnepret verander in ‘n proes. Hy bestel vinnig nog ‘n bottel Kaapse Vonkel en meer oesters. Dan sit hy gou sy sonbril op sodat Daisy nie kan sien hoe geamuseerd hy is nie. Almal wat Daisy ken, weet dis die ergste straf vir haar – sy moet met mense kan lag en gesels.

“Natuurlik mag mens ook nie enige selfone of rekenaargoete daar hê nie. Ek moes soos ‘n misdadiger selfs my iPad en sigarette ingee vir veilige bewaring! En dan die kos. Ek het regtig uitgesien na die eenvoudige vegetariese kos waarvan die webwerf gepraat het. Heerlik Asiese geregte met allerhande eksotiese groentes, vrugte en neute. Ha!” Sy begin lag.

“Ek vermoed hulle sjef het weggeloop die aand voor ek daar aangeland het en toe moes die skottelgoedwasser skielik kos voorberei. Geen uie, geen knoffel, geen T-bones nie en GEEN kleur of geur van enige aard nie! Maar ‘n oorvloed bone en spruite wat jou laat opswel soos ‘n warmlugballon ... En het jy al gehoor daarvan dat mens tofu kan gaarmaak dat dit soos snotterige, wit maalvleis lyk?”

Bernard kan sy bulderende lag nie meer onderdruk nie.

“Ja, lag maar ou Barries. Dit was karma vir my vir als wat ek in my vorige lewens verkeerd gedoen het. Maar daar is ook net soveel karma wat enigeen kan hanteer.”

“En toe, Daisy? Wat maak jy toe?”

“Toe doen ek wat enige vrou met selfrespek sal doen. Toe ek die derde dag in daai donker venster vaskyk met ongekamde hare en sonder die hulp van koffie en beskuit, gaan klim ek terug in die bed en slaap tot die son oor die see opkom. Toe trek ek my styfste Guess jeans aan en ‘n laehals wit T-hemp en gaan eis my selfoon, iPad en sigarette terug.”

“Binne ‘n uur was ek gedress en gepress en als getas toe die taxi my kom oplaai.”

Die trane rol oor Bernard se wange en hy stik aan ‘n sluk sjampanje. “En toe, Daisy? Waar was jy die res van die tyd?”

“Daar is daardie lieflike vyfster hotel by die Waterfront, liefste man. En toe gee ek myself oor aan die beste kaartterapie. En as ek voetseer raak van al die shopping, het ek in die son gaan lê of vir ‘n massering gegaan.”

“En natuurlik het ek diep nagedink oor my vreeslike diep gewroeg oor nog gemeenskaps­projekte.”

“Sal dit reg wees met jou as ek nou eers weer volgende jaar ná Kersfees daaroor dink?”

 
 
 

Viewed: 180

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT