ADVERTISEMENT:

 

 
 

64. Daisy bak brood en Bernard beplan ‘n feesmaal

Date: 12 February 2015 By: 

Bernard stap voor sonop die kombuis binne. Daar is goddelike reuke wat in die plaaskombuis hang – varsgemaalde koffie, varsgebakte brood ... Wag ‘n bietjie. VARSgebakte brood? Hier op Waterpoort?

Daisy staan in haar pajamas en ‘n lang voorskoot en deeg knie. Daar is ‘n meelstreep oor haar wang en sy glimlag breed vir Bernard.

“Ek het gedínk al hierdie ongewone reuke sal jou uit die bed uit kry! Wat sê jy van vars brood saam met jou koffie? Daar is ‘n heerlike camembert en ingelegde heelvye of net botter? Sal graag jou opinie wil hoor van die brood en hierdie spesifieke koffiemengsel uit Kenia.

“Kon nou nie eintlik net ‘n klein bakseltjie vir ons maak nie – die resep is bedoel vir vier brode. Ek sal vir Ousus-hulle ook gaan verras met vars brood en miskien sommer een vir die nuwe bure vat. Het jy hulle al ontmoet, Bernard? Ek hoor die man is nie eintlik ‘n boer nie, sy vrou is glo. Baie knap ook. Weet net nie wat sy gaan maak met hierdie klomp Boere nie – dis maar vrekmoeilik om jouself te bewys in hierdie testosteroon-geteisterde omgewing!”

Bernard staan op en soen Daisy in haar nek. “Hierdie is die heel lekkerste brood wat ek nog geëet het, my mooiste! Is dit van daardie klipgemaalde meel wat jy in die Kaap in die hande gekry het? En is dit hierdie brood wat jy beplan vir die spyskaart van die gastehuis? Mmmm, dis elke keer so lekker om uit te vind jy is nie net ‘n ou mooi dingetjie nie, maar daar is ook ‘n formidabele brein wat ek kan bewonder,” terg Bernard.

“En om jou vraag te antwoord, ja – ek het die nuwe bure ontmoet. Miskien wil jy sommer van die vars kruie en baba-groentetjies en ‘n bossie kappertjies ook saamvat. Jy sal aangenaam verras wees...” Voor Daisy verder kan uitvra, het Bernard sy hoed gegryp en die pad lande toe gevat.
Sononder sit Bernard en Daisy op die stoep en drink ‘n dop.

“Ek was toe daar by die nuwe bure, Bernard; maar hulle was blykbaar in Pietersburg. Toe het ek maar net die goed daar in hulle kombuis gelos saam met ‘n notatjie. Sjoe, maar daardie kombuis is van de stainless steel en rakke en Jamie Oliver se kastrolle en gasplate! Dit lyk amper soos ons kombuis in die gastehuis gaan lyk! Ek wonder waar kry die vrou nog tyd om in so ‘n kombuis te speel as sy die hele boerde­ry moet behartig? Miskien is sy juis een van daardie fenomenale vrouens wat als kan doen en dan nog mooi lyk ook! Ek kry die gevoelte dat ek nie vreeslik baie van haar gaan hou nie!”

“Hokaai, Daisy!” roep Bernard ‘n halt aan Daisy se gebabbel. “Ek wil gou met jou praat oor Valentynsdag. Daar gaan niks snaaks gedoen word hierdie jaar nie, Daisy. Ons kan ongelukkig nie stad toe gaan nie, nie eers vir die aand nie, en jy weet ons het nare ondervindings gehad met die kastige romantiese plekke in die omgewing. Maar ek wil jou steeds date ... Hoe klink ‘n T-bone met ‘n lekker stukkie vet en ‘n avokadoslaai vir jou? En as jy baie mooi vra, maak ek spesiaal vir jou krummelpap!

“Maar jy mag NIKS doen nie, my mooiste. Jy moet net sorg dat jy op jou eetbaarste lyk – jy mag ook nie loer wat ek als gaan doen om die plek mooi te maak nie. Om jou die waarheid te sê, sal ek dit verkies as jy die dag in die dorp spandeer – gaan doen hare en naels en lippe en wat ookal – dan kom jy nie in die versoeking om my verrassing te kelder nie.”

“Ag, my liefste engelman, dit is genoeg vir my dat ons net bymekaar kan wees. Ons is mos nou al ‘n bietjie verby die ergste hormone en storm en drang! Maar ek sal dêm goed onthou – miskien kan jy opmaak en my volgende jaar vir Valentynsdag Venesië toe vat?”
Daisy gaan sit op Bernard se skoot en soen hom tot sy ore tuit.

(Volgende week: ‘n onverwagse wending op Valentynsdag. Bloedrooi blessings en hope verrassings vir almal en vir die res wollerige beertjies met mooi liefdeswoorde ... Geniet!)

 
 
 

Viewed: 256

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT