ADVERTISEMENT:

 

 
 

70. Daisy ontmoet haar gypsy op Waterpoort

Date: 01 April 2015 By: News Correspondent

Dit was ‘n doodgewone Dinsdagoggend op die plaas, net nadat die varsheid van die oggend pad gevat het voor die dag se hitte.

Daisy sit met haar bril op haar neus voor haar rekenaar in die studeerkamer. Sy is diep onder die indruk van hoeveel werk sy het na Bernard en Plore so ernstig met haar gepraat het. Maar, tipies Daisy, doen sy dinge met oorgawe – deesdae moet Bernard kos maak want Daisy sit tot in die vroeë oggendure en werk. Haar vriendin Kathy het al moed opgegee om met Daisy op die telefoon te gesels; Daisy het nooit tyd nie. “Jy is niks fun meer nie, Daisy!” het sy haar beskuldig en dit is min of meer almal se opinie van die Nuwe, Verantwoordelike Daisy.

Dit is dus ‘n hoogs geïrriteerde Daisy wat opstaan en voordeur toe stap toe ‘n kar buite stop. By die deur steek Daisy vas toe sy die kar sien – definitief nie iemand van hier rond nie. Dis ‘n bloedrooi affêre uit die Vyftigerjare, kompleet met vlerkies, two-tone bande en ‘n wit afslaandak. Die kar sleep ‘n karavaan – duidelik doelgemaak om by die kar te pas – rooi met baie chroom en dieselfde two-tone bande.

Die vrou wat na haar aangestap kom lyk soos die kar en karavaan – rooi hare, blink oorversie­rings wat teen haar nek afslinger en ‘n broekpak waarop ‘n sirkusmeester trots sal wees.
“Miskien is almal reg – ek werk heeltemal te hard. Dis van gisteraand se min slaap wat ek so hallusineer,” dink Daisy hardop en draai om om te gaan koffie maak vir haarself.  

“Dis baie sleg vir jou, weet jy?” praat die hallusinasie met Daisy en agtervolg haar kombuis toe. “En ek sal ‘n koppie Earl Grey tee vreeslik waardeer, hartjie.”  Daisy is redelik seker dat skimme nie Earl Grey drink nie, maar mens weet nooit. Sy vat aan die vrou se skouer net om seker te maak.

“Haai, liewe aarde, ek is onbeskof! My naam is Daisy en ek maak met plesier vir jou tee. Wat het jy gesê is so sleg vir ‘n mens?”

“Nie vir alle mense nie, hartjie. Vir jóú. Die gewerkery in die aand mors met jou bioritmes. Jy is ‘n naguil wat daarvan hou om deurnag te kuier, nie om voor ‘n rekenaarskerm te sit nie.” Die vreemde vrou haal ‘n silwer sigaretkoker uit haar handsak en stap deur sitkamer toe.

Daisy laat val amper die skinkbord. “Wie sou tog oor sulke nuttelose dinge by die vrou geskinder het?” wonder sy.

“Pragtige huis wat julle het, Daisy. ‘n Gelukkige huis. Daar is groot harmonie hier. En sulke lieflike kunswerke – dis natuurlik van al julle oorsese reise, nê?

“Ek drink ‘n klein bietjie melk in my tee, maar dan moet jy die melk eerste inskink, asseblief. Kyk net die lieflike fyn porseleinkoppie en -piering! Dit was jou ma s’n. Dis goed dat jy dit gebruik, sy het agtergekom dat mens dinge moet geniet terwyl jy dit het.”

Die vrou kyk om na Daisy wat haar oopmond aanstaar.

“Ai Daisy, nou is ek weer ongemanierd. Laat ek myself voorstel – ek is Mimi,” sê sy vriendelik en steek ‘n hand met lang rooi naels na Daisy toe uit.

“Kom sit hier by my op die bank. Wil jy een van my sigarette rook? Ons het so baie om oor te gesels.”

Daisy sit verdwaas en steek ‘n sigaret aan.

“Is ons familie, Mimi? Of waar het ons ontmoet? Ek kan glad nie onthou dat ek jou al vantevore gesien het nie – en glo my, ek sou dit onthou het!”

“Nee, my liewe Daisy. Ons ken mekaar nie. Of liewers, jy ken my nie, maar ek weet al heelwat van jou.”

“Dis die euwel van sulke klein gemeenskappe, nê? Altyd ‘n geskinner...” sug Daisy.

“Ook nie jou bure nie, my liewe kind. Ek ken niemand in hierdie omgewing nie. Dis jou ma wat my gestuur het.”

Daisy bars uit van die lag. “O, nou weet ek – dis natuurlik Kathy wat jou gestuur het om my te kom verpes. Hoeveel betaal sy jou om my uit my werk uit te kom hou? En waar kruip sy weg – seker in daai rooi karavaan van jou?”

Mimi is dodelik ernstig as sy Daisy stip in die oë kyk. “Liewe Daisy, ek weet jy verstaan nie mooi nie. Maar dit is regtig jou ma wat my gestuur het.”

“Maar ... maar ... My ma is al vier jaar lank dóód!”

(Word vervolg)

 
 
 

Viewed: 171

 

 
 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT