ADVERTISEMENT:

 

 
 

94. Daisy vind die voëlryk se domste skepsels

Date: 17 September 2015 By: 

Daisy en Plore lê vir kwaadgeld rond by die swembad. Lank uitgestrek lê hulle op ‘n Sater­dag in die lenteson wat hulle winterwit velle­tjies gevaarlik bloedrooi piets.

“Kom laat ek nog sonblok aan jou skouers smeer, Plore. En sommer die bokant van jou ore ook. Eendag as jy oud is, lyk jou ore soos daai lekker cabanossies van Vivo af. Gaan jy vir ons nog van hierdie lekker mojitos maak? Hierdie sonnetjie maak my nou lekker lui, hoor...” babbel Daisy.

“Ja antie, nee antie,” terg Plore. “Eintlik moet jy vir my aanloklike goedjies aandra – ek is mos druk besig om te swot. Jy moet moreel onder­steun, dis jou werk as my peetma! En praat van ma ... Wanneer gaan ons braai? Ek is so honger ek kan drie poue met grênd vere en al opeet. Vir voorgereg.”

Toe Plore die yskoue glas met vars kruisementblare en ‘n funky swart strooitjie vir Daisy aangee, sit sy aandagtig na die poue en kyk wat langs die swembad rondskrop. “Hierdie oorgroeide hoenders is vir my die vreemdste goed. Ek was so bly toe Bernard met hulle hier aangekom het, maar nou begin ek gróót bedenkinge kry. Kyk net daar – orals op die plaveisel is daar poupoef! Dis ook nie dieselfde as hoendermis nie, dis ‘n behoorlike gedoente met ‘n soft serve krul.”

“Nee regtig, Daisy – moet jy so gross wees en poupoef in sulke detail bespreek terwyl ons drink? Sies man, jy daal nou laer as slangpoef!” Plore is nie geamuseerd nie.

“Dis ‘n bloot praktiese observasie, Plore. Poupoef is nie omgewingsvriendelik nie – dis moeilik om skoon te vee en dit word heeltyd by die huis ingetrap. En kyk net hoe pluk hulle aan die nuwe blare en lote van die plante! Niks is veilig nie – ook nie die hoenders se kos nie. Hulle stoei behoorlik met Elvis en sy manskap­pe en raak sommer lelik aggressief.”

“Hmmm,” sê Plore en hy gaap. Hy stel duidelik meer belang in sy grommende maag as die banale onderwerp van pluimvee. “Wat is daar om te eet, Daisy?”

“Nee, Plore, luister nou eers. Almal dink poue is sulke koninklike gevoëltes oor hulle laventelhaanvere. Maar kyk net hoe vaal is die wyfies! En die mannetjies is so blêddie dom – hulle pronk sommer vir die hoenderhenne en eende ook. Nou die oggend vroeg toe kom ek op die een poumannetjie af wat vir ‘n potplantpot pronk. En toe hy my sien toe pronk hy sommer vir my ook! Wat dink jy daarvan? Brille vir poue?”

Daisy lag met oorgawe en frommel haar gesig op om te verduidelik: “Dink nou net – so ‘n klein knypbrilletjie in perlemoenkleure...

“En hulle is vervlaks lui! Die hoenders kraai sommer dwarsdeur die nag net om doodseker te maak hulle mis nie die deadline nie, maar hierdie spulletjie ... Asof dit nie genoeg is dat hulle mens ‘n hartaanval gee wanneer hulle met die dakkappe orkaan-orkaan speel wanneer hulle inkruip vir die nag nie, strompel hulle eers lááááánk na sonop uit die vere. Dan sit hulle die hele wêreld en beskou en krap in hulle neuse en wag dat iemand vir hulle koffie en beskuit bring. Dis eers as ek hulle uittrap dat hulle een vir een met ‘n beangste gilletjie afvlieg grond toe.”

Daisy is die ene arms soos sy vir Plore verduidelik. Plore kan nie help om vir Daisy se storie te lag nie.

“Nee maar genuine, Plore, poue is die blondi­nes van die diereryk. Regtig nie veel grysstof onder daai blinkblougroen nie. Hulle is ook nie juis vriendelik of mak nie. Ek het hulle al probeer omkoop met allerhande popcorn om van my te hou en aangehardloop te kom wanneer hulle my sien ... Maar verniet. Waardeer ook niks.

“Maar wat ek wel sal waardeer is nog ‘n mojito, Plore. Toe, ‘seblief man? Ek lê nou so lekker op hierdie dekstoel...”

“Nee, Daisy, ons moet kos in ons lywe kry. Kom stap saam kombuis toe dan maak jy vir ons ‘n paar snacks terwyl ek nog mojitos maak.”

Later by die vuur vertel Plore vir Bernard van die snacks wat Daisy die middag vir hulle aanmekaar geflans het.

“Ek kon my oë nie glo nie, swaerie. Sy gaan haal daai blitsblou bord van haar uit en begin allerhande dinge uit die yskas en blikkies optower. En soos sy sny en kap en klits groei die eetbare pouvere. Die mooiste, mooiste snackies wat ek nog gesien het. Ek het nie geweet of ek dit in my mond moet prop of teen die muur ophang nie,” lag Plore. “Maar ek was so honger, ek het nie eers een vir jou oorgelos nie. Darem foto’s geneem – kyk net hier ... Natuurlik, teen die tyd wat sy klaar was met haar kunswerke, was sy so uitgeput dat sy eers ‘n slapie moes gaan vang.”

“Gmf,” sê Bernard. “Ek wonder of dit haar moeite of die mojitos was wat julle gedrink het? Maar toemaar, sodra die T-bones reg is, sal ek haar gaan wakker maak.

“En jy sê dit het alles by die poue begin?”

 
 
 

Viewed: 120

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT