ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die boodskap voor in die Bybel.

‘n Bybel vol herinneringe

Date: 15 March 2020 By: Anton van Zyl

‘n Ou Statenbijbel het die afgelope week teruggekeer na Louis Trichardt. Dié spesifieke Bybel was na alle waarskynlikheid teenwoordig toe die N.G. & H Kerk se eerste “gemeentevergadering” op 24 Maart 1906 gehou is en sou waarskynlik ook byderhand gewees het toe die eerste kerkgeboutjie in 1909 in gebruik geneem is.

Die Bybel het die afgelope paar dekades ‘n eensame en ietwat verstote bestaan gevoer. Sowat 20 jaar gelede het boukontrakteurs ‘n ou Bybel bo-op ‘n plafon gevind in ‘n huis in Arcadia, Pretoria. Die Bybel is gegee aan Philip en Memory Burger van Pretoria. Volgens Philip is dit aan hulle gegee omdat hulle heelwat oudhede versamel en moeite doen om kultuurhistoriese skatte te bewaar.

Philip vertel dat hy aanvanklik hard probeer het om die familie aan wie die Bybel behoort het, op te spoor. Die enigste leidraad was voor in die Bybel, waar dit geskryf staan:

Aan D.G. Grobler. Van L.D. Adendorff, op zyn 61ste Verjaardag, 29ste July 1899”

Hy was egter onsuksesvol en vir die volgende twee dekades het die Bybel in ‘n kas bly lê. Aan die begin van hierdie jaar het sy vrou, Memory, besluit om weer te begin soek. Sy was egter gewapen met “nuwe” hulpmiddelle, soos Google, en sy het afgekom op ‘n berig wat in 2019 in die Zoutpansberger verskyn het. Dié berig het gefokus op die graf van D.G. Grobler wat net suid van Louis Trichardt lê. Hy was een van die pioniersfigure van die destydse Schoemansdal en is in 1864 oorlede.

Memory het kontak gemaak met die Zoutpansberger en haar vermoede is deels bevestig dat die Bybel van Louis Trichardt kom. Binne die Bybel was daar verskeie leidrade, soos byvoorbeeld kwitansies van S.S. Himmelhoch & Son. Himmelhoch was ‘n bekende Joodse handelaar op die dorp.

Die Bybel het die pad terug na die noorde gevat en sal nou na alle waarskynlikheid eindig in die klein museum van die N.G. Moedergemeente. Hierdie tuiste is gepas synde die Bybel behoort het aan een van die stigterslede van die gemeente.

Die Douw Gerbrand Grobler wat die Bybel in 1899, op sy 61ste verjaardag ontvang het, was die derde oudste seun van Douw Gerbrand Grobler (geb. 1811) en Neeltjie Christina (Eloff) Grobler.

D.G. Grobler (jr.) is op 29 Julie 1838 in Cradock gebore. Hy en sy broer, Hermanus, asook die twee susters Neeltjie Christina (Hugo) en Anna Susanna (Raaths) het saam met die familie na die noorde gereis. Hulle het deel gevorm van die groep Voortrekkers wat onder leiding van veldkornet Jan Valentyn Botha getrek het. Op 3 Mei 1848 het hulle aan die suidelike hange van die Soutpansberge gearriveer by die plek wat eers as Oude Dorp bekendgestaan het.

D.G. Grobler (sr.) was aktief betrokke by die kerkbedrywighede in die dorp wat later jare as Schoemansdal bekend sou staan. Hy het gehelp om die eerste kerkgebou te laat oprig en het ook ‘n sleutelrol gespeel in die onderhandelinge om ‘n eie predikant na die gemeente te lok. Ongelukkig is hy oorlede voor dié ideaal verwesentlik sou word. Eers op 30 Julie 1864 het ds. N.J. van Warmelo sy intreepreek gelewer, ses maande ná D.G. Grobler (sr.) oorlede is.

Die kinders sou na alle waarskynlikheid ook nou betrokke wees by die destydse Nederduitsch Hervormde Kerk. Die Grobler-familie is een van ‘n handjievol families wat in die streek aangebly het nadat Schoemansdal in 1867 ontruim is.

Vanaf 1882 het formele samesprekings begin om kerkeenheid in die susterskerke te bewerkstellig. In die destydse Transvaal was die Nederduitsch Hervormde Kerk (die staatskerk) die sterkste groepering. In die Kaap was die Nederduitsch Gereformeerde Kerk weer die dominante groep. In Desember 1885 is voorlopige “eenheid” bereik en is na die Verenigde Kerk verwys, meer amptelik as die Nederduitsch Hervormde of Gereformeerde Kerk.

Die kerkeenheid is egter nie deur al die groepe aanvaar nie en ‘n groep gemeentes van die Nederduitsch Hervormde Kerk het op hul eie voortgegaan. Die derde “lid” van die susterskerke,  die Gereformeerde Kerk, het nooit aan die samesprekings deelgeneem nie en steeds onafhanklik voortgegaan.

Uit dokumente wat in Grobler se Bybel bewaar gebly het, blyk dit dat hy nou betrokke was by die Louis Trichardt N.G. en H-gemeente - onder meer ‘n poskaart wat op 7 Februarie 1911 gestuur is aan “Den Eerw. Kerkeraad, Ned. H. of G. Gemeente, Louis Trichardt, Transvaal”. Die skrywer was ene G.J. Rudolph van der Merwe, wat navraag gedoen het oor die name van die Ring se afgevaardigdes. D.G. Grobler was na alle waarskynlikheid betrokke by die kerkraad.

Die Grobler-gesin se betrokkenheid by die kerk op Louis Trichardt strek waarskynlik verder terug as 1906, toe die gemeente amptelik gestig is. Kort voor die Mphephu-oorlog in 1898 is ‘n gelofte afgelê onder aanvoering van Generaal Piet Joubert. Die onderneming was dat ‘n Godshuis opgerig sou word op die plek waar die gelofte gemaak is. Hierdie ideaal is egter eers etlike jare later verwesentlik en eers op 25 Augustus 1906 kon ds. J.L du Preez van Pietersburg ‘n erediens vir die pasgestigte gemeente hou. Die handtekeninge van die kerkraadslede met gemeentestigting sluit dié van D.G. Grobler in.

Douw Gerbrand Grobler is op 17 November 1917 te Louis Trichardt oorlede. Sy vrou, Jacoba Hendrina (‘n nooi Eloff), is bietjie meer as twee jaar later, op 28 September 1919, oorlede. Die egpaar het sewe kinders gehad. Aan wie die Bybel gegee is en hoe dit in die dak van ‘n huis in Pretoria beland het, is egter nie duidelik nie. Die beste raaiskoot is dat dit gegaan het aan Petrus Johannes Grobler, wat in 1863 gebore is. In die Bybel is 'n begrafnisbrief wat onderteken is deur “P.J. en J.R. Grobler” met die afsterwe van hul jaaroue seuntjie. Die spoor loop egter daar dood.

‘n Laaste interessantheid is dat die Bybel aan D.G. Grobler gegee is deur L.D. Adendorff. Adendorff, wat in een bron beskryf word as die “sekretaris van die kommissie van konsessionarisse”, het bekendheid verwerf as leier van die “Adendorff-trek”. Hierdie berugte trek noordwaarts het sy oorsprong in die vroeë 1890’s. Dié groep wou ‘n eie Boererepubliek oorkant die Limpoporivier in die destydse Suid-Rhodesië tot stand bring.

Die planne van die trekkers is tot ‘n groot mate in die wiele gery deur die inmenging van Cecil John Rhodes. Op 24 Junie 1891, toe ‘n groep gewapende Afrikaners die Limpopo probeer oorsteek het, is hulle gekonfronteer deur lede van die British South Africa Company, die “polisiemag” van Rhodes. L.D. Adendorff het na alle waarskynlikheid teruggekeer na Louis Trichardt. Verskeie van die Adendorff-familielede is steeds woonagtig op die dorp.

 
 
 

Viewed: 2088

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Een van die hartseer-briefies in die Bybel. Hierdie "begrafnislys" is saamgestel met die afsterwe van D.G. en J.R Grobler se seun op 9 Oktober 1930. Die seun is op eenjarige ouderdom oorlede.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT