ADVERTISEMENT

 
 

 

Voorverlede Saterdagoggend vroeg luister ek ewe getrou na die RSG-radioprogram, Omgewingspraatjies. Dit is altyd ‘n ontspannende wyse om die naweek mee te begin, en prof. Kobus van der Walt kan interessante onderwerpe aanroer terwyl hy luisteraars se vrae beantwoord. Maar, jammer professor, een opmerking het my bietjie omgekrap en laat wonder.

In die geselsie het prof. Kobus ‘n paar stellings gemaak oor Suid-Afrika se bevolkingsgroei. Hy het ook gemeld dat, in Suid-Afrika, jong meisies deur die staat vergoed word as hulle kinders het. Sy verwysing was sekerlik na die stelsel waarvolgens toelaes betaal word aan behoeftige moeders.

My vraagtekens het nie gehang oor of daar sulke kindertoelaes betaal moet word al dan nie; dit is ‘n heel ander debat. Dit was vir my vreemd dat ‘n wetenskaplike die stelling maak dat kindertoelaes lei tot ‘n toename in bevolkingsgroei. Ten einde so ‘n stelling te maak, moet die data tog gemeet word aan bevolkingsgroei in lande waar sulke toelaes nie betaal word nie.

‘n Jaar of wat terug het ek vlugtig ‘n artikel gelees wat die verband ondersoek het tussen die toelaes en ‘n toename in geboortes. As ek reg onthou, was daar nie ‘n direkte verband nie. Ongelukkig kon ek nie onthou waar ek dit gelees het nie, dus moes ek maar my eie krapwerk gaan doen. Op die oog af klink dit na ‘n baie logiese argument – die Staat gee vergoeding aan moeders met kinders, so hoe meer kinders ‘n vrou het, hoe meer geld kry sy...

Die realiteit is dat dit nie so werk in ‘n sosiale omgewing nie. Die kinders word dikwels deur die families “grootgemaak” wat die moeder bystaan. Die druk op so ‘n moeder is geweldig en ‘n vrou wat meer kinders het as wat sy kan “bekostig”, sal baie kritiek van haar familie en diegene naby aan haar moet verduur. Verlede jaar was die toelae R320 per maand, wat weliswaar ook nie baie doeke, melk en ander noodsaaklikhede koop nie. Tog is daar rondom 12 miljoen Suid-Afrikaners wat staatmaak op hierdie toelaes.

Die vraag is egter of Suid-Afrika se bevolking vinniger groei as dié van sy buurlande en selfs die res van die wêreld. Die antwoord is nee, Suid-Afri­ka se inwoners vermeerder wel, maar nie so vinnig soos die gemiddeld vir die res van die wêreld nie. Die webtuiste Worldometers (www.worldometers.info) is ‘n skatkis van inligting wat data van regoor die wêreld bevat. Die statistieke gaan ook baie ver terug, sommer tot by 8000 vC toe die wêreld ‘n geskatte vyf miljoen inwoners gehad het. Die effek van eksponensiële groei is egter duidelik sigbaar in hierdie statistieke. Rondom die jaar 1800 nC het die aarde se mense die een miljard-kerf bereik. Van hier het dit egter vinnig begin gaan. Slegs 130 jaar later is die tweede miljard-kerf bereik en 30 jaar later (1959) kon ons drie miljard mense tel. In 1974, 15 jaar later, was ons vier miljard en in 1987 was dit vyf miljard. Vandag is daar reeds meer as 7,4 miljard mense op aarde.

As ons kyk na die nuutste syfers, sien ons dat ons nie die Russe kan blameer vir verdere toenames nie. Hulle het nou wel 143 miljoen burgers, maar sedert ‘n jaar gelede het meer as 17 000 êrens verdwyn. Die land met die meeste inwoners is steeds China (1,38 miljard), maar Indië, met 1,32 miljard, is kort op hul hakke. Indië se groeikoers is egter 1,2% per jaar, wat aansienlik meer is as China se 0,46%.

Die wêreldwye gemiddeld vir bevolkingsgroei is 1.13%. Dit is ook aansienlik laer as die “hoogtepunt” wat in 1963 bereik is, toe die mensdom met 2,19% per jaar gegroei het.
Suid-Afrika is ‘n “ondergemiddelde” presteerder. Volgens Worldometers, wat hul data op navorsing van die Verenigde Nasies en die VSA se sensusburo baseer, het die bevolking die afgelope jaar met 0,9% gestyg. Die hoeveelheid mense in die land word op so ‘n raps minder as 55 miljoen geraam, wat beteken sowat 488 000 “nuwe” landsburgers het in 2015 by ons aangesluit.

Suid-Afrika beklee die 25ste plek op die ranglys, gerangskik vanaf groot na klein. Ons is net ná Tanzanië, wat interessant genoeg ‘n groeikoers van 3,15% toon. Dit is in lyn met ander “groot” Afrika-lande soos die DRK (3,18%), Ethiopië (2,48%) en Nigerië (2,63%).

Net vir interessantheid – die kleinste land is die Vatikaanstad (in Rome, Italië) wat die 233ste plek inneem met slegs 801 burgers. Daar het darem die afgelope jaar een nuwe een bygekom. Tokelau, wat net bo hulle is, spog met ‘n groeikoers van 2,08% wat beteken het dat hul 26 nuwelinge die getal mense in dié land tot 1 276 laat styg het.

Daar is weliswaar ander bronne wat nie saamstem met Worldometers se syfers nie (Wikipedia gee die groei aan as 1,51%), maar vir doeleindes van vergelyking behoort die prentjie nie te skeef te wees nie.

- Anton van Zyl, redakteur van die Zoutpansberger:

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT