ADVERTISEMENT

 
 

 

Me. Santie Gildenhuys, waarnemende hoof van Hoërskool Warmbad, het die volgende skrywe ingestuur na aanleiding van ouers wat volgende jaar moet besluit waar hulle kind(ers) Graad 8 gaan begin:

Alle skole landswyd het deesdae groot uitdagings om die hoof te bied. Almal beleef die een of ander tyd ‘n krisis. Party se krisisse word net beter verdoesel as ander…

Die vraag is net: Gaan ek as ouer my vertroue behou in my plaaslike skool of verkies ek dat my kind die grootste deel van sy/haar tienerlewe onder wildvreemdes se skool- en koshuisdakke gaan studeer en bly?

Waar gaan ek as ouer my hulp en finansiële steun aanbied? By my plaaslike, plattelandse skool waar onderwysers, ouers en leerlinge oor die jare heen deur trane, tradisies EN transformasie moedig en getrou voortgebeur het, of by ‘n glanspapier-leerlingfabriek waar u geld in ‘n put verdwyn saam met dié van ander skenkers wat u nie van adamskant af ken nie?

Om elektronies in kontak met u kind te bly of so nou en dan deur te ry vir ‘n opvoering, kan vir seker nie opmaak vir die voorreg om elke dag jou kind se lewe te deel nie. “Paddaboudjies” in die vreemde is ‘n bitter bleek plaasvervanger vir ‘n warm koppie tuisgemaakte Milo met ‘n warm drukkie daarby.

Glo my, as hierdie opgroeiende tienerseun of –dogter eers finaal uit die huis uit is na sy/haar studiejare – en wie weet waarheen op pad is na hulle eerste betrekking - DAN gaan jy lang trane huil en jouself verwyt vir daardie spesiale weekstye wat nooit gebeur het nie...
Besef u dat u kind u gesins-, fami­lie- en u lewenswaardes baie nodiger het as enige iets anders? Hier­die waardes is die grootste voorvereiste om eendag in ons diverse land te oorleef -  en te floreer!

Spesialiteitsafrigting in ‘n spesi­fie­ke sport kan ook vir seker nie die plek inneem van ‘n pa of ma se gereelde teenwoordigheid langs die veld of baan nie.

Eksotiese vakkeuses is nie die alfa en die omega nie. Van ons land se grootste ekonome, onder­wyskundiges, regsgeleerdes en ander het op die platteland (of hier in die Bosveld!) grootgeword. Studente vanaf die platteland behaal steeds puik matriek- en universi­teits­uitslae en dien oraloor in prominente rade en op komitees.

Wil u nie eerder ons toegewyde opvoeders steun deur te help met die opvoeding van ELKE kind wat by ons skoolhekke in- en uitstap nie? Die werk is baie en ons getalle is min. Wees u asseblief die oë en ore eerder as om vingers te wys. Kom meld asb. enige voorval persoonlik by ons skole aan, eerder as om op sosiale media keel skoon te maak.

Kom gesels ook asseblief oor die beste vakkeuses vir u kind. Ons sal die nuwe Tegniese vakke/Studie­rig­tings aan u verduidelik. Moenie dat onkunde lei tot die verkeerde keuses nie.
Dit is uiters belangrik dat u kind moet leer om met ander kultuur­groe­pe saam te werk en leef, anders gaan hy/sy nie eendag vir seker NIE in sy/haar werksomstandighede kan aanpas of toegelaat word om leiding te neem nie.

Skole word noodgedwonge ‘n kleiner weergawe van ons land se samestelling. Ons kan nie weghardloop van die realiteit nie. Die kuns is om nog steeds jou identiteit te behou terwyl jy vir ander ook ‘n plek in die son gun.

Inskrywings vir Graad 8 leerders sluit vanjaar reeds op 21 Junie 2016.  Doen asseblief wat reg is vir u kind, nie wat gerieflik is nie.

Hou u kind nie net IN u hart nie, maar ook TEENAAN u hart.

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT