ADVERTISEMENT

 
 

 

Jacques van Heerden van Louis Trichardt, skryf:

Die skrywe onder die opskrif “Ek is ... die Weg, die Waarheid en die lewe,” in die Zoutpansberger van 10 Augustus kan nie onbeantwoord gelaat word nie. Daar is ‘n hele paar mistastings in die stuk.

In die eerste plek is nie-Christene, ook diegene wat vrydenkers is, nie noodwendig mense sonder morele standaarde nie. Norme verskil van kultuur tot kultuur, maar moord, roof, verkragting en desgelyke optredes word deur die meeste veroordeel. Ons het in werklikheid al bietjie vooruitgang gemaak sedert die Ou Testamentiese beginsel van ‘n “oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ʼn tand”. Wat die skrywer miskyk, is dat die mens basies ‘n dier is met dierlike instinkte wat op verskillende maniere tot uiting kom, onder andere deur geweld en seks, gefundeer in die oorheersingsdrang.

Wat voorhuwelikse seks betref, is die volgende van belang. Tot sowat ‘n eeu gelede kon jongmense voor die ouderdom van twintig al trou en hulle seksdrang binne die huwelik bevredig. Vandag kan baie min dit bekostig, maar dit is juis in die tienerjare wat die seksdrang die sterkste is! ‘n Alwyse en almagtige skepper sou dié probleem oplos deur die mens se geslagsontwikkeling te vertraag; as hy (of sy of hulle) dit nie doen nie, kan hulle beswaarlik die jonges kwalik neem vir ‘n wet wat eintlik in die omstandighede heeltemal onredelik is.

Wat aborsies betref: Die alternatief is dat ons reeds oorbevolkte wêreld verder oorlaai gaan word en nie met kinders wat goed versorg en welopgevoed is nie. Dis die kinders wat liefdeloos grootword, selfs in sogenaamde Christelike huise, wat later sosiale probleme word. Die idee dat ‘n fetus reeds ‘n persoonlikheid het, misken die feit dat ons selfbewussyn ‘n funksie is van ons brein, wat eers ná die ouderdom van vier jaar genoegsaam ontwikkel het om ‘n eie identiteit aan te neem.

Homoseksueles kry ook ‘n dwarsklap, weens godsdienstige vooroordeel. Homoseksuele gedrag is reeds by 1 900 dierespesies geïdentifiseer, insluitende ons naaste verwante, die grootape, sowel as olifante, wildsbokke en selfs leeus. ‘n Mens se seksualiteit word nie net deur jou anatomie bepaal nie, maar ook deur jou fisiologie. Jy het miskien grootgeword met die liggaam van ‘n seun, maar in jou tienerjare begin ander hormone jou gedrag verander, sodat jy meer soos ‘n vrou optree, insluitende in jou seksvoorkeur. Uiterste gevalle hiervan is transvestiete, wat gebore word met ‘n penis, maar later borste soos ‘n vrou ontwikkel. Dis nie so wit-en-swart soos wat die Kerk dit graag wil sien nie!

Is Jesus werklik die ‘Weg, Waarheid en Lewe’? Word ons ‘wedergebore’ deur geloof in hom? Die konsep van die wedergeboorte kom net in Johannes se Evangelie voor en is ontleen aan heidense godsdienste; dit het sy oorsprong in die jaarlikse seisoensiklus, met die son wat in die noordelike halfrond op 22 Desember sy laagtepunt op die horison bereik en dan ‘wedergebore’ word. Dit is, terloops, hoekom Kersfees op 25 Desember gevier word, hoewel al die getuienis daarop dui dat Jesus in April gebore is. Die sogenaamde ‘kruis van Christus’ is eweneens ‘n magiese simbool wat in prehistoriese tye op rotse uitgekap is. Dit was heelwaarskynlik  ‘n voorstelling van die twee stokkies wat gebruik is om vuur mee te maak; dit is later verbind aan die son, wat gelei tot die aanbidding van die son as god (soos Ra in Egipte), en die songod is ook as ‘n plusteken, dit wil sê ‘n kruis, voorgestel - die ‘arms’ van die kruis stel die sonstrale voor. In die tyd van Jesus was die Romeinse kruis meestal in die vorm van ʼn T of ʼn X, nie † nie.

Ek was lank self ‘n “wedergebore Christen” en ‘n toegewyde Bybelstudent wat baie leerstukke voorberei en Bybelstudies gelei het. Oor die jare was daar egter verskeie wrede ontnugterings, onder andere oor die Here se sorg vir sy kinders na aanleiding van Maleagi 3:16. Dit het een laaste krisis gekos om my oë oop te maak en die Bybel meer krities te benader. Daar is soveel teenstrydighede in die Bybel en in die besonder tussen die vier Evangelies dat dit hoegenaamd nie as die ‘Woord van God’ beskou kan word nie. As dit die beste is wat die alwyse ‘Skepper van hemel en aarde’ kon produseer, moet hy my nie kwalik neem as ek hom nie glo nie. Gaan lees gerus Johannes 3 vers 16 en dan Romeine 9 vers 11 tot 23: dis dieselfde ‘liefdevolle pappie’ wat met oop arms ‘die hele wêreld’ liefhet en wil omhels!

Vandag is ek ʼn vrydenker, want God en sy boek het my bitter teleurgestel. Godsdiens is ‘n fopspeen vir almal wat nie die wêreld vierkantig in die oë wil kyk nie.

Diegene wat meer wil weet oor probleme met die Nuwe Testament, kan my boek, Jesus van Nasaret, gaan aflaai by www.kobo.com.

 

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT