ADVERTISEMENT

 
 

 

Jacques van Heerden van Louis Trichardt, skryf:

Ek verwys na Johan Pretorius se briefie in die Zoutpansberger van 25 Augustus. Dit is ʼn kenmerk van armsalige mense dat hulle geen argumente kan aanbied vir hulle stellings nie, maar net ʼn paar afgesaagde clichés aanhaal en dan ʼn persoonlike aanval op hul teenstanders maak. Dit is nogal insiggewend dat hy meer ‘aggressiewe optrede’ teen nie-Christene voorstaan, presies soos Johannes Calvyn met sy teenstanders gedoen het, mense wat ook ernstige vrae gevra het.

Ek is oud, ja (76), maar nie verbitter nie — kom vra maar gerus vir die mense by Ons Tuiste. Ek is wel ontnugter, want ek het jare lank die Bybel met oogklappe gelees.

Johan twyfel oor my Bybelkennis, daarom wil ek graag vir hom ʼn paar vrae vra:

* Watter jaar is Jesus gebore? Volgens Matteus moes dit ongeveer 6 v.C. gewees het, want Herodes die Grote is in 4 v.C. dood, en die kindermoord was waarskynlik ʼn jaar of twee ná Jesus se geboorte. Volgens Lukas 2:2 moes dit in 6 n.C. gewees het, want Sirenius was eers van daardie jaar af goewerneur van Sirië.

* Was daar ooit ʼn kindermoord? Matteus gebruik dit as rede om die familie Egipte toe te neem, maar as Jesus eers in 6 n.C. gebore is, kon dit nie Herodes die Grote gewees het nie. Geeneen van die ander evangeliste maak melding van ʼn kindermoord nie, en die Joodse historikus, Josefus, weet ook niks daarvan nie.

* Is Jesus uit die geslag van Dawid deur sy seun Salomo (soos wat Matteus aandui), of uit Natan (Lukas se weergawe)? Terloops, as hy ‘uit die Heilige Gees ontvang is’, kan hy beswaarlik uit die fisiese nageslag van Dawid wees!

* Watter tekens was daar met die geboorte? Matteus vermeld die Ster van Bethlehem, wat egter self onseker was oor die geboorteplek en eers in Jerusalem moes aandoen sodat die astroloë (sterrewiggelaars) eers by die priesters moes uitvind waar die Messias gebore gaan word, en toe kon die Ster weer rigting kry. Lukas weet niks van ʼn ster nie, en nog minder van die wyse manne, en Matteus niks van die engele of die herders nie.

* Wat van die tempelbesoek? Volgens Matteus moes die familie oorhaastig vlug Egipte toe, want Herodes wou die kind doodmaak. (Dit is ʼn tema wat herhaaldelik in verskeie godsdienste voorkom.) Lukas sê weer hulle was in Jerusalem in die tempel, waar Josef en Maria gehoor het wat Simeon en Anna profeteer, en ‘Sy vader en moeder was verwonderd oor die dinge wat van Hom gesê is’ (Luk 2:33) — dit nadat daar herhaaldelik vir hulle gesê is dit is die Seun van God!

* Wat van die offerande? Volgens Luk 2:24 het sy ouers ʼn paar tortelduiwe of twee jong duiwe as reinigingsoffer aangebied, ooreenkomstig die voorskrif vir die armes — vergelyk bv. Eks 34:19 en Lev 5:7. Maar as die ‘wyse manne’ goud, wierook en mirre (aldrie kosbaar) as geskenke gebring het, sou sy ouers ten minste ʼn lam kon bekostig het!

Om hierdie verskille te kan opspoor, moet ʼn mens ʼn vergelykende studie van die vier Evangelies maak, maar gewoonlik doen ons een op ʼn slag en ‘glo en hoop’ daar is ʼn aanneemlike verklaring vir die verskille wat ons wel opmerk! Ek sal volstaan met nog ʼn paar items uit Jesus se bediening en sy einde.

* Johannes die Doper se doop was ʼn doop van bekering en volgens die drie sinoptici is Jesus deur Johannes in die Jordaan gedoop, m.a.w. Jesus het homself nie gesien as sondeloos nie, en dus ook nie as ‘seun van God’ nie. In die Johannes-evangelie is hierdie probleem omseil deurdat Jesus wel by die Doper is, maar daar is geen vermelding dat hy gedoop is nie.

* Volgens Luk 1:15 was Johannes die Doper reeds van sy geboorte af vervul met die Heilige Gees, maar Jesus moes wag totdat hy deur Johannes gedoop is voordat die Gees in die vorm van ʼn duif op hom neergedaal het.

* Volgens die Sinoptici is Jesus ná sy doop deur die Gees uitgelei in die woestyn om versoek te word, maar in Johannes vertrek hy binne ʼn paar dae Kapernaum toe; hierdie Evangelis het blykbaar geglo dat God niemand versoek nie en self ook nie versoek kan word nie (Jak 1:13 — in weerwil van Heb 2:18 en 4:15).

Al die voorgenoemde gevalle is maar ‘klein vissies’. Die groot vrae handel oor die kruisiging, opstanding en hemelvaart: Volgens Johannes was Jesus se laaste maal saam met die dissipels die Woensdagaand en is hy die Donderdag gekruisig; die sinoptici plaas dit op die Vrydag. Was Jesus dus twee of drie nagte in die graf? Volgens Mat 27:14 het Jesus niks gesê toe hy voor Pilatus was nie, maar volgens Johannes was hy baie spraaksaam! Wat was Jesus se laaste woorde aan die kruis? Lukas en Johannes het klaarblyklik probleme gehad met Jesus se uitspraak van verlatenheid aan die einde (Markus en Matteus) en het twee verskillende alternatiewe aangebied. Wie het hom die eerste dag (die Sondag) gesien en wat was die volgorde? Waar en wanneer het die hemelvaart plaasgevind? — Was dit dieselfde aand van die opstanding uit die huis in Betanië (Markus), of die Olyfberg (Lukas) of veertig dae later in Galilea (Matteus), of dalk glad nie (Johannes)?

Ek het nou maar ʼn paar punte van die ysberg hier belig en sal graag met enigeen wat wil, in gesprek wil tree, mits ons die wette van die logika sal eerbiedig. ʼn Mens kom nie by die waarheid uit as jy nie ʼn oop gemoed het nie.

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT