ADVERTISEMENT

 
 

 

Mnr. Louis Linde, skoolhoof van Laerskool Louis Trichardt, het die volgende skrywe ingestuur na aanleiding van kritiek ten opsigte van beriggewing in hul skoolkoerant wat in verlede week se Zoutpansberger as ‘n invoegsel verskyn het:

Die Triegieflitse van verlede week se gebalanseerde beriggewing [Watter hoërskool?] deur ons leerders oor die verskillende hoërskole se opedae kon dalk die persepsie geskep het dat ek as skoolhoof nie die plaaslike hoërskool ten volle ondersteun nie en daarom wil ek graag hierdie week my mening oor bogenoemde vraag lug.

In ‘n onderwysloopbaan van meer as 30 jaar was ek en my vrou bevoorreg om by drie goeie hoërskole in ons provinsie skool te hou: Hoërskole Ben Vorster, Merensky en Eric Louw. Die tyd by hierdie skole en die opvoeding van ons eie drie kinders het ons duidelik onder die indruk van die volgende gebring:

* Daar is GEEN hoërskool waar nie dissiplinêre probleme is nie.

* Alles skole het beter en swakker onderwyspersoneel en dit raak ‘n groter stryd om kundige personeellede te kry, veral vir hoërskole.

* Die naaste skool aan die ouerhuis is in 95% van die gevalle die beste!

Die skool is die sekondêre opvoeders van u kind. Die primêre opvoeders bly die ouers. Waarom sou u hierdie opvoedingstaak wou verskuif?

Volgens my is daar so 10% van die huidige Graad 7-leerlinge wat sal baat by ‘n skool ver van die ouerhuis:

* Daar waar daar soveel onstabiliteit in die ouerhuis is, dat u kind baat sal vind by ‘n koshuis.

* Waar leerlinge op ‘n jong ouderdom ‘n absolute passie en aanleg getoon het in ‘n spesifieke rigting. Hulle sal dan soms baat by ‘n skool wat in daardie rigting spesialiseer.

* Wanneer u kind homself of haarself alreeds bewys het met buitengewone talent in ‘n buitemuurse aktiwiteit.

Die vraag ontstaan nou waarom ouers dan wel die moontlikheid oorweeg om hulle kinders weg te stuur.  Een rede wat ouers aanvoer, is dat die plaaslike hoërskool met sekere dissiplinêre probleme te kampe het. Dit mag soms die geval wees, MAAR ek praat op ‘n gereelde basis met al die hoofde van die skole in Polokwane en Tzaneen en ek kan u verseker dat Hoërskool Louis Trichardt se sogenaamde probleme op dié terrein geensins uniek is nie. Trouens, elkeen van die ander skole sit met presies dieselfde probleme. U is net nie altyd bewus daarvan nie, want u bly nie in die dorp waar dié skole is nie en hoor dus nie al die skinderstories oor dié skole nie.

‘n Ander rede wat aangevoer word, is dat die ander skole beter onderwysers het. Dit is ook nie die geval nie. Gaan bestudeer gerus die naskoolse tersiêre prestasies van leerlinge wat uit Hoërskool Louis Trichardt en Hoërskool Eric Louw kom. Hulle presteer op verskeie gebiede. Ouers, dit is nie slegs die hoërskool wat u kind se waarborg op ‘n suksesvolle toekoms is nie. Die waardes, omgee en geloofsopvoeding wat ‘n kind in die ouerhuis kry, kan met niks vervang word nie!

Ouers, jammer om te sê, maar as u kind nie deel is van die 10% meriete gevalle nie, voel dit vir my eerder na ‘n modeneiging om u kind weg te stuur. Gaan maak gerus u berekeninge: Is die finansiële en emosionele verlies, verlies aan gesinstyd (en ja, kwantiteit is net so belangrik as kwaliteit tyd by tieners) die moeite werd? Die natuurlike interaksie tussen ouer en kind ly vir seker skade. Die tyd saam met ‘n tiener is kosbaar en baie belangrik en ongelukkig besef mens dit eers as dit verby is en te laat is. Om saam met jou kind deur die emosies van adolessensie te werk, die groei in hulle geloofs- en lewensreis ELKE dag waar te neem en te ervaar, kan met geen “beter skool” vervang word nie. Boonop kry jy nog kans om direkte inspraak in hulle sekondêre opvoeding by die plaaslike hoërskool te hê deur middel van die uitvoerende bestuur, onderwysers en bestuursliggaam wat maklik bereikbaar is en waaraan jy kan deelneem.

Dis geen wonder nie dat een van Musina se leidende mammas (wie se kinders nasionale uitblinkers op verskeie gebiede is) gesê het: Daar is GEEN skool in hierdie hele land van ons, wat vir my kinders kan bied wat Eric Louw en hulle ouerhuis vir hulle bied nie!”

Ek hoop dat dit uit bostaande vir u duidelik is dat ek steeds oortuig is van die feit dat die skool naaste aan die ouerhuis die beste skool vir u kind is!     

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT