ADVERTISEMENT

 
 

 

Johan Fourie, voormalige komiteelid van AfriForum se Louis Trichardt-tak, skryf:

Ek wil graag net bietjie agtergrondinligting en 'n klein regstelling of twee maak na aanleiding van die berig "AfriForum-tak het nie ontbind."

Eerstens is die ongelukkigheid van die takbestuur rakende die watersituasie in die dorp en AfriForum hoofkantoor se hantering hiervan vroeër vanjaar met Kallie Kriel bespreek en was Kallie en AfriForum-hoofkantoor dus geheel en al bewus van die voorsitter en bestuur se siening en frustrasies rakende die aangeleentheid. 

Tweedens was die takbestuur van mening dat hulle nie aan hul lede in Louis Trichardt kon verduidelik waarom daar ná ses jaar nog nie water in die dorp se krane is nie (ten spyte van al die hofsake wat gewen is) en dat die gemeenskap waarskynlik nog tot twee jaar sal moet wag vir die reg om sy gang te gaan voor daar noemenswaardige verandering gaan plaasvind. Derhalwe is daar versoek dat AfriForum-hoofkantoor 'n afvaardiging na die tak se algemene jaarvergadering moes stuur ten einde die lede in te lig oor die huidige stand van sake en vrae van die gemeenskap te beantwoord.

Derdens het die takbestuur se periode as bestuur verstryk en moes daar uiteraard 'n nuwe komitee en voorsitter op 'n algemene jaarvergadering verkies word. Aangesien die voorsitter, Wally Schultz, en die sekretaris, Fanie Otto, in die proses was om die dorp te verlaat, was hulle uiteraard nie beskikbaar om weer op die komitee te dien nie. Die ondervoorsitter, Corné Smit, en addisionele lid, Johan Fourie, was nie beskikbaar nie weens besigheids- en werksverpligtinge. 'n Nuwe komitee moes dus verkies word.

Die algemene jaarvergadering is gehou op die datum soos geadverteer in die Zoutpansberger. Belangstelling en bywoning van die vergadering was ongelukkig baie swak en 'n nuwe komitee kon nie verkies word nie. Die beheer en bestuur van die tak is derhalwe in die streekverteenwoordiger van AfriForum se hande gelos.

Dit val buite die magte van die voorsitter en takbestuur om 'n tak te ontbind, so die tak was nooit ontbind nie. Daar is net nie 'n verkose voorsitter en bestuur om die tak se dag-tot-dag sake op grondvlak te bestuur nie. Soos Kallie Kriel tereg opgemerk het, sal AfriForum op 'n geleë tyd weer 'n algemene vergadering belê en hopelik is daar dié keer genoeg lede teenwoordig om 'n nuwe bestuur en voorsitter te kan kies. Dan kan dinge weer soos normaal aangaan.

Hopelik klaar bogenoemde al die onduidelikhede en vrae oor die aangeleentheid uit.

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT