ADVERTISEMENT

 
 

 

Anoniem van Louis Trichardt, skryf:

"Wil jy weet hoekom is ons situasie so wanhopig?" vra ‘n vriend die ander dag.

Kyk na Facebook ... dit is om van naar te word.

Dis mos nou dié plek waar ons sit en kerm. Een vir almal, almal vir een en niemand (rêrig) vir iemand nie. Deesdae wil almal tog so graag hul stem laat hoor; van misdade, dienslewering en sulke dergelike dinge word alles getrou op hierdie gewilde geselshoekie gerapporteer.  

Dan praat ons nie van die mammas wat bekommerd wil weet of hulle ou skapie (‘n lys van simptome word gewoonlik gegee) dalk malaria of iets onder lede het nie. En bid jou aan, dan vra hulle vir raad van die publiek!

Mevrou,  tel op die foon en skakel jou huisdokter! Die kanse is goed dat jou gesprek met jou dokter jou net so lank sou gevat het as die tyd wat dit jou geneem het om daardie boodskap (dikwels nog vol spelfoute) te tik op Facebook.

Nog ‘n tipiese geval waaroor daar gereeld gekla word, is Louis Trichardt se water (of gebrek daaraan). Dikwels moet die groot boetie (hetsy die koerant, die DA of AfriForum) inspring en help en die probleem rapporteer én regsien. Meneer, en ja jy mevrou wat so kla, weet jy nie hoe werk die telefoon toepassing waarmee jy sekondes terug op Facebook jou lot bekla het nie??

So is dit ook met Louis Trichardt se misdaadgevalle.

“Waarsku almal!” sal ‘n tipiese boodskap dit ten hemele uit roep. Gewoonlik is vriend of familielid aangeval. “Wees tog asseblief paraat,” sal die boodskap dan mee afsluit. (Moet tog asseblief nie hier verkeerd verstaan nie; misdaad is ‘n euwel wat uitgeroei moet word).

“Almal” word mos gewaarsku of hoe?

Maar wat van ou tannie Sarie en oom Piet wat onder in die straat af bly? Tegnologie is vir hulle ‘n selfoon en Facebook is die ding waarin die kleinkinders se foto’s gebêre word.  

Plaaslik is daar ook nie so iets soos ‘n Facebook patrollie wat die heeldag kan sit en kyk waar misdaad aangemeld word nie. Dit is ook in my opinie nie regverdig om die polisie te wil kruisig oor halfgebakte werk as die misdaadklag dit net so ver as ‘n Facebook-pos maak nie.

Laat jou stem eerder geld deur hom ‘n bietjie dik te gaan maak daar by die polisie se aanklagkantoor. (Nog beter, sluit aan by jou buurt- of plaaswagstruktuur en maak ‘n werklike verskil). Gaan vertel die polisie van oom Johan wat jou alweer probeer belieg het vir selfoonlugtyd, of dat daar gisteraand by jou huis ingebreek is.

Of tel die foon op en vra bietjie vir die munisipaliteit hoekom hulle jou water afgesit het/nie jou kragrekening gestuur het nie. Dit is nie so maklik om mense te ignoreer as wat dit is om ‘n bloot aan te skuif na die volgende Facebook-post nie.

Sluit aan by plaaslike diensorganisasies wat probeer om die munisipaliteit tot verantwoording te roep. Dié organisasies is net so sterk soos hul ledetal en kan nie 'n verskil maak sonder die nodige ondersteuning vanuit die gemeenskap nie.

Probeer eerder ‘n deel van die oplossing te wees as om grondbone vanuit die Facebook-gallery te gooi.

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT