ADVERTISEMENT

 
 

 

Anoniem van Louis Trichardt, skryf:

Stille kontemplasie. So bevind ek myself vandag terwyl ek besig is met die eeue-oue tradisie van winter biltonghang. Onwetend het my dislojale verbeelding sy eie paadjie begin stap agter die skans van repeterende meganiese werk. My gedagtes en emosies hardloop ongesensor rondomtalie en steek vas voor die herinnering van hierdie bok. Hierdie bok wat nou nog net in my geheue leef en tasbaar slegs in die biltong stukkies wat drup-drup bloei op my sementvloer.

Ek dink aan die jag. Die argaïese daad wat deesdae deur baie as onbeskaafd en bloeddorstig beskou word. ‘n Beskrywing wat tog goed sou gepas het in my bloeddorstige jeug en die hoed sou ook met trots gedra gewees het. Soos met so baie dinge egter, skaaf die tyd hierdie emosies tot iets nuuts. Wanneer jy ‘n ouderdom bereik waar jy voel dat die wêreld al meer van jou geneem het as wat jy ontvang het, dan begin jy anders te dink oor soveel. Wanneer jy baie pyn ervaar het in die lewe word elke nuwe teistering beide onbenullig en onuithoudbaar op dieselfde tyd. Die realisasie kom oornag maar die proses is heel moontlik heelwat langer. Soos die jong paartjie wat eendag alleen is en die volgende dag ouers is verander jou denkwyse skielik, alhoewel jy al vir jare hiervoor voorberei word.

Deesdae sit die diere se bloed taai op my hande en dit voel of ek elke keer meer sukkel om hulle skoon te kry en elke keer is hulle bietjie rooier. Maar tog elke winter word ons gedryf na die jagvelde met ‘n senuagtige opgewondenheid deur wat voel soos ‘n onvermydelike krag. Miskien het ek uiteindelik mondig geword as ‘n jagter? Wanneer ons jonk is dink ons die “werk” vir jou wild beteken fisiese opoffering, en dit is ‘n alternatief wat vir baie jare werk, maar uiteindelik besef jy jou offergawe moet emosioneel wees. Wanneer jy neem moet jy iets los in die veld. Iets wat vir jou belangrik is om die ekwilibrium van jou karma te behou. Die ou jagters het dit verstaan en hierdie idee probeer oordra, maar ons het maar so met die een oor geluister terwyl ons die Mauser gestreel het. Ek is as kind geleer dat as jy nie ‘n bietjie hartseer is elke keer wanneer jy ‘n dier se lewe neem nie, dan doen jy dit vir die verkeerde redes. Nou, in die tweede helfte van my lewe begin ek die waarheid hiervan eers regtig waardeer.

Ek is nie een om te preek teen die drankaangedrewe doodmaaksessies hierdie tyd van die jaar deur die GP bendes wat op ons plase toesak nie - kom ons los die klipgooiery vir dié van ons sonder sondes! Die bedryf moet ongelukkig gestook word … Moet hulle egter nooit verwar met die etiese jagter nie. So ‘n eenvoudige term wat rondgegooi word – Etiese Jagter. Al wat dit vir my beteken is, wees trots op wat jou aksies in die jagveld is en leer dat die hartseer deel is van die genot en wees bly dat jy die kans gegee is om te verstaan waaroor dit regtig gaan.

As jy gelukkig genoeg is om in die jagveld te wees hierdie jaar en jy bevind jouself op ‘n tyd waar jy alleen sit op ‘n droë Mopaniestomp, laat los jou gedagtes om bietjie rond te hol en miskien vou daai blom van waardering vir jou oop. Ware jagters het meer respek vir lewe as mense wat nooit op daai skeiding gestaan het en die besluit moes neem nie.

Geniet julle biltong en respekteer die lewe wat geneem is daarvoor.

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT