ADVERTISEMENT

 
 

 

Carel Breytenbach, ‘n oud inwoner van Louis Trichardt en tans afgetree en woonagtig te Kleinfontein, Gauteng, skryf:

U berig oor die swak toestande op Mara Navorsingstasie, (Zoupansberger, 19 September 2020) het my weer laat terugdink aan die beginjare van die 1970’s toe ek op Mara Navorsingstasie gestasioneer was as ’n tegnikus om weidingnavorsing te doen. Mara, ‘n trotse inrigting waar elke amptenaar trots was op die prestasies van dié wat daar gewoon en gewerk het. Ek onthou nog die name van almal wat saam met my daar gewerk het. Het selfs nog ’n personeelfoto wat tydens ’n boeredag geneem is vir een van die dagblaaie van destyds.

As amptenare was ons trots op Mara en dit was lekker om daar te werk onder die bekwame leiding van Manie Eloff, daardie tyd se Verantwoordelike Beampte. Die plaas was altyd netjies, geboue is versorg en in stand gehou, kampdrade en grensheinings is op ’n daaglikse basis deur aangewese personeel geïnspekteer en herstel indien nodig. Veediefstal was ongekend, omdat die plaas daagliks gepatrolleer is, naweke ingesluit. Elke kudde is daagliks bymekaargemaak en byeen gebring by die suiping waar die beeste getel is, nuwe kalwers geweeg, gemerk en aangeteken is. Siek of beseerde beeste is ook dan net daar en dan behandel. In die laboratorium het ek self ontledings van gras, boomblare en ander plante wat op spesifieke tye van die jaar deur die vee gevreet word, ontleed, om die voedingswaarde daarvan te bepaal en te korreleer met lek en ander mineraal inname.

Dit is jammerlik om te lees van die verval van, en verlies aan, ’n eens trotse landbou navorsingsinrigting wat die navorsing en inligting bakermat was vir elke beesboer in die destydse Noord-Transvaal en droër bosveld gebiede. Mara Navorsingstasie het net nog ’n deeltjie geword van die gestadigde verval van Afrika, wat uiteindelik lei tot die finansiële afhanklikheid vir sy jammerlike voortbestaan van die Europese lande en Amerika se geldelike bydraes, waarvan die meeste van daardie gelde uiteindelik in die sakke van die Kommunistiese Chinese en Russiese poppemeester se sakke beland.

 

 
 

 
 
 
 
 
 

ADVERTISEMENT