ADVERTISEMENT:

 

 
 

Hennie Bonnema. Foto Madeleen van den Berg.

Oom Hennie sal onthou word vir sy regverdigheid en goeie humorsin

Date: 29 October 2016 By: Isabel Venter

Familie en vriende het Woensdagoggend finale eer betoon aan die welbekende en gewilde boer van Levubu, mnr. Hennie Bonnema, wat op 18 Oktober deur ‘n onbekende aantal aanvallers op sy plaas vermoor is. Hy is Woensdag om 11:00 vanuit die NG-gemeente Levubu begrawe - ‘n gemeente waarin hy diep spore getrap het.

Hendrik Pieter Bonnema was die derde seun van Hendrik en Minnie Bonnema wat vanaf 1952 tot 1980 op Levubu geboer het. Hennie is op 16 Februarie 1954 in die Elimhospitaal gebore en het saam met ouboet Harm, Jan (slegs een jaar ouer ) en kleinsus Marina op Levubu  grootgeword. Hier het hy en sy broers en sussie jare se sorgelose pret op die plaas geniet. Hennie was ‘n seun van die Soutpansberg, ‘n leerling aan  Laerskool Levubu en het gematrikuleer aan Hoërskool Louis Trichardt.

Ná skool het Hennie en Jan saam weermagdiens gedoen en in Pretoria gaan studeer. Nadat Hennie sy kursus in die regte voltooi het, het hy eers in Benoni en toe in Kroonstad by Binnelandse Sake gewerk. In 1980 is hy bevorder tot Kommissaris van Binnelandse Sake in Louis Trichardt.

Dit was nie buitengewoon dat hy as kantoorhoof geweldig baie respek afgedwing het nie. Vir Hennie was korrupsie, pligsversuim, halfhartigheid en dislojaliteit onder sy personeel geen opsie nie. Alhoewel hy streng was, was hy uiters regverdig en geliefd.

In 1982 is Hennie met Nelia van Mollendorf getroud en twee seuns is uit die huwelik gebore.

In 1984 verruil Hennie sy kantoorpak vir kakieklere en sluit hom aan by broer Jan op Levubu, waar hy ook ‘n groot sukses gemaak het van sy boerdery. Hier op Levubu het Hennie sy merk gemaak as uiters suksesvolle makadamia-, piesang-, avo- en gemmerboer. Hy was ook betrokke by die mango atjarbedryf.

Later jare het Hennie se twee seuns, Hendrik (getroud met Alta-Marié Bekker) en Pieter (getroud met Luzaan Jansen) saam met hul pa in die boerdery betrokke geraak. Hulle het almal op aangrensende plase te Beaufort, Levubu, gewoon. Hennie het vir die laaste drie jaar alleen gewoon, nadat Nelia op 6 November 2013 oorlede is aan kanker.

Hennie het sy seuns en hul gades volledig opgelei in die boerdery, maar nogtans laat hy ‘n groot leemte. Die Bonnema-familie het ‘n baie hegte liefdesband en sy skielike en tragiese heengaan word diep betreur. Sy familie was vir hom ‘n sterk ondersteuningsbasis, veral na Nelia se afsterwe. Hy het Dinsdagaand (18de) by sy swaer Piet en Marina besoek afgelê. Met sy terugkeer is hy by sy huis oorval en vermoor.

Hennie sal onthou word as ‘n soliede, liefdevolle, vriendelike en nederige mens wat deur sy kinders, familie en die gemeenskap gerespekteer is. Hy het ‘n besondere humorsin gehad. Hierdie uiterste platjie het omtrent elkeen in sy familie laat deurloop onder sy poetse! Elke kind in die Bonnema-familie was gek oor hierdie kinderbederwer.                                                                                               

Sy kinders en familie wil elkeen bedank wat gesimpatiseer het deur besoeke, boodskappe en eetgoed wat aangedra is. “Al die ondersteuning van familie en vriende en veral ons Hemelse Vader se vertroosting sal ons deur hierdie diep waters dra. Hendrik Pieter Bonnema, ons salueer jou en dink in teer herinnering aan jou nagedagtenis,” was die familie se finale groet.

 
 
 

Viewed: 973

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Wyle mnr. Hennie Bonnema. Foto: Madeleen van den Berg.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT