ADVERTISEMENT:

 

 
 

Pasop vir dié vrygewige “boer” se slimpraatjies

Date: 06 February 2017 By: Andries van Zyl

Tannie Kittie de Bruin, bestuurder van Ons Tuiste Ouetehuis in Louis Trichardt, is woedend nadat sy deur ‘n “regte omgee-mens” in suiwer Afrikaans verkul is.

‘n Ontstoke tannie Kittie het Dinsdagmiddag die koerant geskakel, pas nadat sy uitgevind het sy is met ‘n slenter gevang. “Ek voel ek wil darem die mense teen die slenter waarsku,” het tannie Kittie gesê.

Omstreek 11:45 dieselfde dag het ‘n ene “Johan Botha” die skakelbord by Ons Tuiste geskakel en gevra met wie kan hy praat om ‘n skenking te maak. Hy is deurgesit na tannie Kittie se kantoor. “Ek het die foon geantwoord deur te sê dit is Kittie de Bruin wat praat. Daarna het hy my deurlopend Kittie genoem en gesê dat ‘Die feetjies het vanoggend die ring getrek en die ring het op my naam geval’. Hy het gesê hy maak elke jaar ‘n skenking van twee beeste en hy het besluit om vanjaar die twee beeste aan Ons Tuiste te skenk,” het tannie Kittie vertel.

Volgens “Johan” het hy ‘n melkery so 20 kilometer uit die dorp en het hy reeds die twee beeste verwerk in 4kg pakkies maalvleis en vleisblokkies – in totaal 700 kg vleis ter waarde van sowat R12 000. Al wat tannie Kittie moes doen, was om die vleis onmiddellik te kom haal, want “die vleis was saam met sy koeimelk in die koelkamer en as die gesondheidsinspekteurs daarvan uitvind, sou hy moeilikheid kry.”

By navraag oor waar presies sy plaas was, vertel tannie Kittie, was “Johan” aanvanklik bietjie die pad totaal byster. “Hy het vir my gesê 20 km uit die dorp op die Bela-Bela pad. Ek het vir hom gesê ek dink hy het die verkeerde Ons Tuiste, aangesien daar meer as een is, en dat ons in Louis Trichardt is. Hy het egter gesê hy is by die regte plek. Toe ek hom vra of sy plaas op die Bandelierkop-pad is, het hy ja geantwoord,” het tannie Kittie gesê.

Tannie Kittie het die man meegedeel dat sy eers ‘n paar reëlings moet tref, voordat hulle na sy plaas ry. Daar is talle oproepe na hom gemaak, onder andere om uit te vind in hoe ‘n formaat die vleis verpak is en of hulle kratte moes saambring. Nooit het “Johan” egter die oproep beantwoord nie. “Elke keer het hy ‘n rukkie later via die tehuis se skakelbord teruggeskakel,” het tannie Kittie gesê.

In ‘n stadium, toe die vrygewige weldoener “Johan” deur tannie Kittie ingelig is dat hulle reg is om te ry, het hy skielik ‘n nuwe storie gehad. “Hy vir my gesê sy ou liewe vroutjie het nou net vreeslik met hom baklei, want sy moes Internet betalings doen vir ‘n funksie wat hulle die volgende aand op die plaas sou aanbied. Sy vroutjie het egter nie meer lugtyd gehad nie, en hy het gevra of ons solank vir hom R275 se Vodacom-lugtyd kon koop,” het tannie Kittie gesê.

Tannie Kittie het gesê sy het nie ‘n probleem gehad om die lugtyd vir hom te koop nie, want sy het begrip daarvoor gehad dat hy nie van die melkery kon weggaan nie. Hulle het die lugtyd gekoop en die PIN-nommer vir die koopbewys aan “Johan” per SMS gestuur, want “sy kwaai vroutjies moes voor 13:00 die betalings doen!”

Intussen het die tehuis se Chris van Balen en Cato de Bruin na “Johan” se plaas begin ry. Hy sou vir hulle langs die pad wag in ‘n swart Jeep, “want die wind het sy plaas se naambord weggewaai.” Nodeloos om te sê, Chris en Cato het tot by die Lalapanzi Hotel gery met geen teken van “Johan” en sy swart Jeep nie. “In ‘n stadium het Chris die man van sy eie selfoon geskakel. Die ene Johan wou onmiddellik weet wie Chris soek en of tannie Kittie hom gestuur het? Toe Chris vir hom sê hy soek na hom, het Johan die telefoon in sy oor doodgedruk. Hy het daarna nie weer geantwoord nie,” het tannie Kittie gesê.

Dit was in hierdie stadium wat tannie Kittie-hulle besef het hulle is met ‘n slap riem gevang. “Ek was van die eerste oproep af agterdogtig, maar dit is bitter moeilik vir ‘n instansie soos Ons Tuiste om botweg net ‘n skenking te weier. Ons stel ons bloot aan ernstige kritiek, sou iemand werklik ‘n skenking wou maak en ons dit nie wou aanvaar nie. Net môre hoor jy: Ons wou gee, maar julle wou nie hê nie!” het tannie Kittie gesê.

Tannie Kittie sê die voorval het nie net haar nie, maar die hele tehuis verneder. “Hy het regtig geklink soos ‘n mens wat werklik omgee vir oumense deur die manier wat hy van die oumense gepraat het,” het tannie Kittie gesê.

Inwoners word gewaarsku om versigtig te wees vir die vrygewige melkboer Johan Botha se slimpraatjies. ‘n Vinnige internet soektog na die nommer wat vir die slenter gebruik word (082 705 4052) het gevind dat die selfde man met die alias Johan Botha verskeie nie-winsgewende organisasies en ander ouetehuise reg deur die land al uit lugtyd verkul het. Blykbaar altyd dieselfde storie  - hy wil graag vleis skenk.

 
 
 

Viewed: 1229

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT