ADVERTISEMENT:

 

 
 

“Uitendelik het ek aangekom by die Kunene-rivier." Met dié foto het Dave van Graan uit Namibië laat weet dat hy sy staptog voltooi het.

Dave maak Namib-stap klaar

Date: 11 February 2017 By: Isabel Venter

Twee maande, vier dae en 12 ure - dit is hoe lank dit gevat het vir Dave van Graan om sy epiese tog deur Namibië te voltooi.

Hy het kort voor die einde van verlede jaar sy stapskoene aangetrek en sy geel Bart Mobile gepak om van suid na noord deur Namibië te stap, van Roshi Pinah tot by die Kunene-rivier.

Sondag, 5 Februarie, kom daar ‘n boodskap van Dave: “Uiteindelik het ek aangekom by die Kunene-rivier.” By die boodskap is ‘n foto aangeheg van Dave met die droë watervalle van die rivier in die agtergrond.

“Wat ‘n gevoel van vervulling was dit nie,” het Dave verder laat weet. Hy bieg dat hy wel soms daaraan gedink het om op te gee, maar dat sy ou Recce vriend Koos hom geleer het dat opgee nie ‘n opsie is nie. “Ek het dié woorde ter harte geneem,” het Dave gesê.

Dave se motivering was aanvanklik ‘n persoonlike uitdaging wat hy aan homself gestel het. Dave het vir jare aan ‘n baie pynlike siekte gely wat sy rug aangetas het. Dit was so erg dat hy baie sterk pynstillers moes drink om net deur die dag te kom. Hy het toe vir homself belowe dat as hy sou herstel, hy graag deur Suid-Afrika sou wou stap om ‘n pynvrye lewe te vier. Nou is die stap vir Dave beide ‘n persoonlike uitdaging en ook ‘n manier om geld in te samel vir iets baie na aan sy hart – die bewaring van die land se renosterbevolking as deel van die Save the Rhino-projek.

Dave het Maandag so langsaam begin terugdraai huis toe. As als goed afloop, behoort hy teen volgende week terug te wees in Louis Trichardt. Hy het almal bedank vir hulle volgehoue ondersteuning en aanmoediging langs die pad. In besonder het by sy twee “slawedrywers”, Karen en Michael Kuhne, bedank wat met die voorbereidings gehelp het.

Dit was egter sy familie se ondersteuning wat vir Dave van onskatbare waarde was. “My vrou, Jacqui, was my rots en sonder haar sou ek dit nie gemaak het nie. En my 82-jarige ma wat altyd bekommerd was, soos enige moeder maar is, en elke voetval gevolg het deur middel van die satellietskakel. Baie dankie,” het Dave gesê.

Met ‘n kenmerkende cheers het hy vir eers weer gegroet ... tot die volgende staptog.

 

 
 
 

Viewed: 387

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

'n Himba ma met haar kind, uitgevat in hul tradisionele klere, was 'n moet-stop-fotogeleentheid vir Dave. Hy vertel dat hy hulle langs die pad gekry het op pad na die Kunene watervalle. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT