ADVERTISEMENT:

 

 
 

Willie Scheepers vra die vraag of die Zoutpansberger oorwegend Engels word.

Boikot koerant oor Afrikaans, vra leser

Date: 05 March 2017 By: 

Die Zoutpansberger se tweetalige aanbieding van nuus is minder gewild onder sommige van die koerant se lesers en daar is selfs diegene wat ‘n toename in Engelse beriggewing as ‘n direkte bedreiging vir die Afrikaner-erfenis sien.

Een van die lesers, mnr. Willie Scheepers, het verlede week skerp op sosiale media te velde getrek teen die gebrek aan Afrikaanse berigte die afgelope twee weke in die Zoutpansberger.

“Verlede week koop my vrou ‘n Zoutpansberger en begin dit lees. Sy sê na ‘n ruk maar dit is dan ‘n (Limpopo) Mirror want alles is Engels. Sy moes terugblaai na die buiteblad om seker te maak dit is 'n Zoutpansberger. Hierdie week is dit dieselfde storie. Ek bel die eienaar en volgens hom is hier nou te min Afrikaanssprekendes in die omgewing om Afrikaanse berigte te skryf,” skryf Scheepers.

Scheepers se standpunt het vinnig steun gelok van inwoners soos mnr. Frans Malan (sr), wat reken: “Afrikaans en Afrikaner is mos ‘n verleentheid. Hy moet net naam ook verander, iets soos Hanskaki, Joiner, Vendanews.”

Mnr. Kassie de Lange, nog ‘n inwoner, was van mening dat dit maar net nog ‘n doodsnik van Afrikaans is: “Dit wil voorkom asof die meerderheid Afrikaners sedert ‘94 gekastreer is aangesien hulle nie die ‘albasters’ het om eienaarskap van hulle erfenis te neem nie,” sê hy. Mnr. Lionel Donovan het hierby aangesluit deur te sê: “Ek dink dit is pateties (en) die Zoutpansberg moet wakker skrik. Dit was nog altyd die Afrikaanssprekende mense wat hom ondersteun het. Nou het hulle hulle siel verkoop vir ‘n pot lensiesop.”

Daar was egter diegene wat verskil het en die koerant verdedig het. “Moet nooit vergeet dat dit ‘n besigheid is nie,” skryf mnr. Barry Fourie. “Hierdie groepie joernaliste probeer hul beste om vir ons nuus oor ons gebied te bring, om almal te akkommodeer. Ek dink dit is nie reg om een taal voorkeur te gee nie, veral nie in ‘n klein gemeenskap soos ons nie. Hulle probeer hul beste, nog oor al die jare om die koerant gebalanseerd te hou ten opsigte van hul lesers. Ek dink dit is onregverdig om hulle so te kritiseer,” was sy mening.

Annamarie Bothma het met hom saamgestem en bygevoeg: “Die Zoutpansberger is 'n besigheid wat die adverteerders ook moet tevrede stel. Ek dink nie dis regverdig om almal nou die koerant te boikot oor daar Engelse berigte geplaas word nie. Ons het 'n groot aantal Engelssprekende persone in ons dorp en omgewing. Ek weet dat meeste Afrikaanssprekende mense wel Engels magtig is en dit kan lees en verstaan, waar dit nie altyd andersom werk nie.”

Die eienaar en bestuurder van die Zoutpansberger, Anton van Zyl, het die kritiek op die koerant se nuusaanbieding verwelkom en gesê dat dit ‘n belangrike komponent vorm van ‘n dinamiese gemeenskap. “Dit is baie nodig dat die lesers hul ontevredenheid uitspreek en sê as daar iets is wat hulle pla. ‘n Gemeenskapskoerant poog om ‘n doeltreffende boodskapper te wees en moet te alle tye relevant bly vir die mark wat bedien word,” sê hy. Volgens Anton is dit glad nie ‘n maklike taak nie, veral in ‘n gemeenskap waarvan die profiel die afgelope drie dekades dramaties verander het.

“En somtyds kry ons dit bloot eenvoudig nie reg nie. Die standaard van ons nuusaanbieding moet hoog wees, en die joernalis moet die rol vervul van boodskapper, waghond, vermaker en soms selfs trooster. Die mark wat bedien word, sluit ook lesers van alle geloofs-, kultuur- en taalgroepe in. Om dit vir meer as 50 weke per jaar getrou te kan doen, is ‘n besonderse uitdaging,” sê hy.

Wat die taalkeuse rondom berigte betref, is Anton ook baie realisties. “Die Zoutpansberger was in sy 32 jaar van bestaan nog nooit beperk tot een spesifieke taal nie.” Dit is wel so dat Afrikaans ‘n baie belangrike deel van die koerant se identiteit is, sê hy. “Dit is die taal waarin die meeste van die koerant se joernaliste droom. Dit is ook die taal waarin hulle skep en idees uitruil.”

Volgens Anton is ‘n gemeenskapskoerant nie noodwendig ‘n kampvegter vir ‘n spesifieke taal- of kultuurgroep nie. In die meeste gevalle is die mark geografies en ook geskoei rondom die spesifieke handelsbehoeftes in ‘n gemeenskap. "Die koerant poog om ‘n eie identiteit te hê en ‘n boodskapper vir ‘n bepaalde groep verbruikers te wees. Dit is egter ‘n groep wat ook verander, soos wat tye verander," sê Anton.

“Toe die Zoutpansberger in Januarie 1985 begin is, was dit baie duidelik ook gerig op die inwoners wat Engels magtig is. Die rede daarvoor was eenvoudig omdat die Afrikaanssprekende mark baie klein is,” sê Anton. Hy verwys na die 2011 sensussyfers wat toon dat slegs 1,3% van die inwoners in die Vhembe-distrik Afrikaans as huistaal het. Dit is ook nie ‘n syfer wat enigsins ‘n styging toon nie. “Interessant genoeg is daar in die 1911-sensus ‘n totaal van 9 411 wit inwoners in die Zoutpansberg getel uit ‘n totaal van 336 075 inwoners. ‘n Honderd jaar later, in 2011, is daar 14 599 wit inwoners in die Vhembe distrik uit ‘n totaal van net oor 1,28 miljoen mense. Nie almal van hulle is of was Afrikaanssprekend nie, maar dit wys hoe die gemeenskap verander het.”

Die rol van ‘n koerant is egter om as boodskapper te dien en inligting deur te gee wat elke inwoner se lewe raak. “Donderdagaand woon ek die sektorpolisiëringskomitee se vergadering by. Die voorsitter is Afrikaans asook enkele van die verteenwoordigers. Tog word die vergadering in Engels gehou sodat almal kan deelneem en belangrike inligting weergee. Moet die berig wat geskryf word oor die vergadering in Afrikaans wees of moet ons iets probeer skryf wat toeganklik is vir al die plaaslike rolspelers wat die moeite doen om insette te lewer?” vra Anton.

Volgens Anton is dit nie ‘n “ons en hulle” situasie nie. “Ons het ‘n verpligting om relevant te wees vir almal in ons lesersgebied. Dit is wel so dat ons sekere lesers uitsluit deur berigte in Afrikaans te skryf en ons moet dit oordeelkundig bestuur. Soms is ons keuses oor die taal vir ‘n berig ook net onvanpas, en dan moet ons staatmaak op lesers soos mnr. Scheepers om ons te kritiseer en weer daaroor te laat dink,” sê Anton.

 

 
 
 

Viewed: 755

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT