ADVERTISEMENT:

 

 
 

Nog 'n deel van Hlangananistraat.

Dorp se paaie in erge toestand van verval

Date: 04 March 2017 By: Isabel Venter

Alhoewel niemand kla oor die goeie reënval wat die afgelope paar weke oor die streek uitgesak het nie, kan dieselfde nie gesê word oor die streek se paaie nie.

Die nat weer het behoorlik sy tol geëis wat die toestand van paaie betref, met strate wat oortrek is van slaggate. Hierdie slaggate is soms ook so groot dat motoriste nie die waarskuwingslyne by kruisings kan uitmaak nie. Dit is nou te sê as daar wel nog ‘n stopteken by 'n kruising is wat motoriste kan waarsku.

Sedert 2014 was daar verskeie ongelukke wat toegeskryf kon word aan die gebrek aan padtekens, veral stoptekens wat deur boosdoeners by kruisings verwyder word.

Volgens die Makhado Munisipaliteit kan hul nie die blaam dra vir die tekens wat gesteel word nie. “Ons het agtergekom dat, hoe meer van die tekens ons vervang met houtpale, hoe minder word daarvan gesteel. Dit is die verkeerstekens met ysterpale wat die heeltyd afgesteel word,” het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi Woensdag in ‘n e-pos gesê.

Hy het verder bygevoeg dat wanneer vermiste verkeerstekens gerapporteer word, die munisipaliteit vinnig inspring om die tekens te vervang. “Ons doen ‘n beroep op inwoners om sulke gevalle aan te meld, en nie net stil te bly en hoop die probleem los homself op nie,” het Bobodi gevra.

In sover dit die slaggate betref, het Bobodi bevestig dat daar dringend aandag aan gegee word. Daar word tans verskeie tenders om plaaslike paaie te herstel en rehabiliteer opgeweeg teen mekaar. Volgens Bobodi sou dié tenders Donderdag hersien word.

Bobodi het ook kort voor druktyd geantwoord op gerugte dat sekere slaggate, soos dié in Hlangananistraat (sien foto op bladsy 12), tydelik met sement en sand herstel word. “Dit is glad nie waar nie,” het Bobodi gesê. “Ons [die munisipaliteit] het asfalt beskikbaar om slaggate te herstel.”

Die onlangse reënweer het dit moeilik gemaak vir die munisipaliteit om betyds by elke slaggat uit te kom, maar Bobodi het die hoop uitgespreek dat die situasie gou sal verander. Intussen word inwoners aangeraai om vermiste padtekens aan te meld by die direkteur van tegniese dienste, mnr. William Molokomme. Hy kan gekontak word by tel. 015 519 3000 of per e-pos by [email protected].

 

 
 
 

Viewed: 605

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Elandstraat.

Mopanistraat.

Leeustraat.

Hlangananistraat.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT