ADVERTISEMENT:
Date: 03 March 2017 By: Isabel Venter
Net soos in die geval van die lys van onopgeloste moorde in en rondom Louis Trichardt, het die Zoutpansberger ook ‘n opname gemaak van onopgeloste inbrake.
Die Zoutpansberger het deur die afgelope twee jaar se argiewe gegaan en ‘n opname gemaak van onopgeloste polisiesake. In die Zoutpansberger van 15 Februarie is daar terugvoering gegee oor al verlede jaar se moordsake om uit te vind watter vordering daar gemaak is. Dié lys is saam met die vorige navraag op 3 Februarie aan die Makhado Polisie oorhandig.
Hier is die lys:
* Op 6 Februarie 2016 is mev. Dawood voor haar huis in Eltivillas ontvoer deur vier onbekende mans. Haar man, dr. Dawood, is in die voorval in die voet geskiet. In daardie stadium het die polisie ‘n saak van poging tot moord, asook een van ontvoering, geopen vir verdere ondersoek.
* Op 17 Maart 2016 is Nobert Mhlanga (29) weer in hegtenis geneem, nadat hy vanuit polisie-aanhouding ontsnap het. Hy word glo verbind met verskeie huisbrake in en om Louis Trichardt.
* Ridgeway College in Leeustraat rapporteer ‘n inbraak by die skool se kantore en snoepie op 10 April 2016. Die diewe het toegang verkry tot hul perseel deur ‘n gat in die dak te maak.
* ‘n Minibus-taxi eienaar, mnr. Rabelani Wilson Musandiwa (64), word op 9 Junie 2016 voor sy huis in Louis Trichardt doodgeskiet.
* Gedurende die naweek van 11 en 12 Junie 2016 is daar by Laerskool Louis Trichardt se stoor ingebreek en onderdele van hul skoolbussie afgesteel.
* Op 11 Augustus 2016 loop Pest Control Specialists in Louis Trichardt deur. Die onderdele en buitebande van hulle maatskappymotor word gesteel.
* Clement Symons (25) en Kineas Chimbwana (26) word op 31 Augustus 2016 gearresteer in verband met die diefstal van mev. Helen Yzel se voertuig. Dié twee staan tans tereg op ‘n klag van diefstal in die Louis Trichardt Distrikshof en die saak sal in Maart hervat word. Destyds het die polisie ook aangedui dat daar ‘n dissiplinêre verhoor gehou sal word teen een van hul eie lede, omdat hy glo nie die saak na behore ondersoek het nie en Yzel haar eie voertuig teruggekry het.
* Vroeg in September is twee verdagtes deur die polisie aangekeer – Moloko Tshidada (27) en Trevor Ghumba (30) – in verband met “verskeie huisbrake in die dorp.” Daar kon sedertdien nie met sekerheid vasgestel word hoe die polisie se ondersoek vorder en met presies hoeveel sake die twee verbind word nie.
* Op 6 Oktober 2016 is Henry Kaggwa (36) in die omgewing van Kroghstraat gevang deur die Makhado Polisie. Tydens die arrestasie het die polisie beslag gelê op dwelms ter waarde van R10 000.
* Daar is nog steeds nie antwoorde beskikbaar rondom die skietvoorval wat op 5 Desember 2016 in die sentrale besigheidsgebied van Louis Trichardt aangemeld is nie. ‘n Man en vrou is deur gewapende rowers van die pad af gedwing. Die man is in die arm gewond en die vrou was ongedeerd.
Buiten vir hierdie sake is daar ook gedurende November 2016 verskeie sake van motordiefstal aangemeld by die Makhado Polisie, waaronder dié van mnre. Sean Wolff, Johan van Rooyen en me. Alida Brits (Azaleastraat). Wolff se bakkie is teruggevind.
Reg deur die jaar is daar ook by meer as een geleentheid berig oor inbrake by die Lalapanzi Hotel, Ultimate Guest House en Adam’s Apple Hotel. In al hierdie gevalle is daar duidelike video beeldmateriaal oorhandig aan die polisie om hulle te help met die ondersoek.
Nog ‘n instansie wat deurgeloop het onder boewe was die Louis Trichardt Muurbalklub. Diewe het vier keer die klubhuis geplunder.
Nadat die koerant hierdie navrae herhaaldelik by die plaaslike polisie probeer opvolg het, sonder enige sukses, is die provinsiale kommunikasiekantoor van die polisie genader vir hulp en terugvoer op 14 Februarie. Weens die provinsiale staatsrede kon daar nie dadelik antwoorde verskaf word nie, en het ‘n woordvoerder, Kapt. Maano Sadiki, bevestig dat daar hierdie komende week dringend aandag geskenk sal word daaraan. Teen druktyd is daar nog gewag op terugvoer oor die vordering in die sake.
Viewed: 334
|
Tweet |
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.
More photos...
ADVERTISEMENT
ADVERTISEMENT:
ADVERTISEMENT