ADVERTISEMENT:

 

 
 

Ander broer se beurt om borgaansoek te bring

Date: 12 March 2017 By: Isabel Venter

Niklaas van Deventer (51) het verlede Woensdag weer in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn, waar hy sy borgaansoek gebring het.

Sy medebeskuldigde en broer, Gideon “Deon” van Deventer (48), het tydens ‘n vorige hofverskyning verlede maand ‘n borgaansoek ingehandig. Die twee broers staan saam met ‘n derde beskuldigde, Onward Muchagowa (41), tereg op ‘n klag van die onwettige besit van ‘n renosterhoring, asook verdere aanklagte wat verband hou met onwettige aktiwiteite en die jag van ‘n beskermde spesie. Tydens Deon se hofverskyning het dit aan die lig gekom dat hy tussen 2005 en 2006 na bewering 17 renosters doodgemaak het vir hul horings.

Die twee broers en Onward is op 6 Januarie gearresteer, nadat hulle na bewering ‘n afgesaagde renosterhoring in ‘n plastieksak ten tye van ‘n polisiejaagtog op die Vivo-pad by hulle bakkie se venster sou uitgegooi het.

Net soos sy broer, het Niklaas hierdie weergawe ontken tydens sy borgaansoek. Albei die broers hou voet by stuk dat Deon dié betrokke dag die bestuurder van die bakkie was. Onward was saam en het agterop die bakkie gery toe hulle afgetrek en gearresteer is deur die polisie. Hulle is glo aangerand deur die polisie, sodat hulle moes erken die renosterhoring is in hulle besit gevind.

Die broers het getuig dat die herkoms van die betrokke renosterhoring nie van die plaas Witpoortjie naby Lephalale is nie, maar wel aan ‘n ene Reuben behoort het. Hierdie Reuben het volgens die broers met die renosterhoring by hulle huurwoning, in die Alldays-omgewing, opgedaag om dit te weeg en te verkoop. Hulle was van plan om die inligting van Reuben se onwettige aktiwiteite te deel met ‘n polisie-informant, maar het nooit so ver gekom nie.

Uitspraak in Niklaas se borgaansoek is teruggehou tot en met Maart, sodat Muchagowa ook eers sy aansoek kan bring. Al drie mans sal weer op 6 April in die hof verskyn, en sal tot dan in aanhouding bly.

 
 
 

Viewed: 420

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT