ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Johan Moolman (70). Foto verskaf.

Oud-burgemeester se dood kom as groot skok

Date: 12 March 2017 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg het die afgelope week met groot hartseer verneem van die skielike afsterwe van bekende sakeman, oud-burgemeester en boer mnr. Johan Moolman (70).

Johan was saam met sy eggenote van 45 jaar, Lallie, op vakansie op Stilbaai toe hy siek geword het. Hy is opgeneem in die hospitaal in Mosselbaai waar hy op Donderdag, 2 Maart, oorlede is. Volgens sy seun, Johan (jnr), was die oorsaak van sy pa se dood nierversaking.

Alhoewel Johan nie ‘n boorling van die streek was nie, was hy in murg en been ‘n Soutpansberger. Hy het op negejarige ouderdom saam met sy ouers vanaf Vereeniging na Levubu verhuis. Hy was ‘n leerling van Levubu Laerskool en het sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Piet Potgieter voltooi. “My pa en ma het op buurplase grootgeword,” het Johan jnr. gesê.

Baie inwoners sal Johan onthou as apteker. Hy het in 1977 Weldons Apteek by ou oom Weldon gekoop en as eie besigheid begin bedryf. In 1985 het hy vennoot Christo Tait as apteker bygekry. Christo onthou Johan as ‘n stil en baie privaat mens. “Een ding wat ek van Johan kan sê, is dat hy nooit, ooit gekla het nie. As jy hom sou vra hoe dit gaan, het hy altyd gesê uitstekend!” het Christo gesê.

Johan het begin verlede jaar besluit om uit die aptekerswese te tree en het sy aandeel in Februarie 2016 aan Christo verkoop.

Johan het buiten vir sy bekendheid as apteker ook op baie ander vlakke van die plaaslike samelewing diep spore getrap. Hy is in 1982 vir die eerste keer as raadslid van die destydse Louis Trichardt Stadsraad verkies. Hy sou aangaan om vir vyf termyne as burgemeester van Louis Trichardt verkies te word en was die laaste burgemeester wat ingevolge die ou bedeling gedien het. Johan het as raadsheer van die plaaslike munisipaliteit uit diens getree.

As boer was Johan eweneens bekend, veral in die neutbedryf. Hy het self vanaf 1986 deeltyds met makadamias op sy plaas Tumble-Inn net buite Louis Trichardt geboer. Ná sy uittrede uit die aptekerswese het hy voltyds met makadamias  begin boer en het onder meer die laaste tyd op die bestuur van Royal Macadamia gedien, onder andere as voorsitter. Johan het ook vir 10 jaar opgetree as bestuurder van Ons Tuiste Ouetehuis.

‘n Roudiens vir wyle Johan vind eerskomende Saterdag, 11 Maart, om 10:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente plaas. Hy word oorleef deur sy vrou Lallie, seun Johan, skoondogter Kasia en kleinseuns Joshua en Noah.

 
 
 

Viewed: 1064

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT