ADVERTISEMENT:

 

 
 

SAPD

Is dorp nog veilig?

Date: 13 March 2017 By: Isabel Venter

Verlede week se misdaadstatistieke, soos uitgereik deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het menige inwoner van die Soutpansberg laat wonder hoe veilig dit is om nog hier te bly.

Veral die Makhado Polisiestasie (waaronder Louis Trichardt val) se syfers wek rede tot kommer. Inbrake, rooftogte en ander eiendomsmisdade het volgens die nuutste syfers ‘n skerp toename getoon.

Die syfers dek die tydperk vanaf April tot Desember 2016.

Volgens dié syfers is die Louis Trichardt-area – in vergelyking met die Musina- en Levubu-areas – die onveiligste area om in te woon. Die totale hoeveelheid misdaadgevalle in Makhado het met 908 gevalle gestyg (van 4 873). Musina toon ‘n kleiner toename 35 (van 3 864) ekstra gevalle en Levubu se syfers daal met 140 (van 2 246) voorvalle.

Die syfers moet egter geïnterpreteer word en faktore soos misdaaadvoorkomingsoperasies moet in ag geneem word. Makhado het heelwat misdaadgevalle gerapporteer wat ‘n direkte gevolg was van polisie-optrede. Meer misdade in hierdie kategorie dui gewoonlik, volgens die polisie, op voorkomingsoperasies soos byvoorbeeld padblokkades.  Volgens die syfers het Makhado 175 meer gevalle (van 466) aangeteken wat gespruit het uit dié aksies.  

Ernstige kontakmisdade, soos roof, aanranding en seksmisdade, se syfers het nie noemenswaardig verander nie. Vir Makhado het die aantal moordsake van 9 na 13 vermeerder, in Messina is daar een moord minder en in Luvubu een moord meer aangemeld as die vorige jaar. Musina se aantal moorde het gedaal van 10 na nege en Levubu s’n het gestyg van nege na 10.

Dit blyk verder ook dat die streek steeds vasgevang is in die wurggreep van ‘n toenemend gewelddadige samelewing. Inbrake by huise en besighede, byvoorbeeld, het nie by al die stasies ‘n afname getoon nie. Die Makhado-stasie het glad nie ‘n afname getoon in eiendomsverwante misdrywe nie. Dit sal die derde agtereenvolgende jaar wees wat dié plaaslike stasie se syfers in hierdie kategorieë almal styg. (Die enigste eiendom wat relatief veilig is – volgens die misdaadsyfers – is veë. By al drie polisiestasies is daar ‘n afname gerapporteer).  

Veral die aantal huisbrake wat aangemeld is by die Makhado SAPD toon ‘n skerp toename; van 316 tot 454 (138 gevalle meer as die vorige boekjaar). Inbrake by nie-residensiële persele styg met 35 (van 205) gevalle, huis- en besigheidsrowe neem onderskeidelik toe met 15 (van 38) en 21 (van 17) gevalle. Motordiefstalle was ook meer (van 27 tot 35) gevalle.

In Musina het die gevalle van huisbrake afgeneem met 67 gevalle (van 229) terwyl daar by besighede 23 meer gevalle aangemeld is (van 72). Motordiefstal het ook toegeneem met ses gevalle (van sewe). Huisrowe het ‘n afname getoon van 34 na 14 gevalle, terwyl besigheidsrowe gestyg het met 20 meer gevalle (van sewe).

In Levubu het huisbrake afgeneem met 32 gevalle (van 152) terwyl daar by besighede 21 meer gevalle (van 97) aangemeld is. Besigheidsrowe het met drie gevalle vermeerder (van 17 na 20), terwyl huisrowe afgeneem het van 17 na 12 gevalle.

Levubu se ander kontakmisdade neem ook af. Gewone roof daal van 33 na 27 gevalle en daar was ook vier minder gevalle van roof met verswarende omstandighede as die vorige jaar se 81 gevalle. By Makhado styg gevalle van roof (gewoon) van 53 na 56 en roof met verswarende omstandighede styg met 45 gevalle (van 147). In Musina neem hierdie syfers af met 34 gevalle van die vorige jaar se 141 terwyl gewone roof styg met nege gevalle (van 33).

 
 
 

Viewed: 590

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT