ADVERTISEMENT:

 

 
 

Louis Trichardt

Streek kom treetjie nader aan stigting van ‘n eie “satelliet” erfeniskantoor

Date: 17 March 2017 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg het nog ‘n treetjie nader gekom aan die stigting van ‘n eie “satelliet” kantoor van die Erfenisstigting.

Dit volg ná ‘n besoek van die Erfenisstigting aan Louis Trichardt in November verlede jaar as deel van die organisasie se landwye bewusmakingsprojek.

Tydens dié besoek het me. Riana Mulder van die Erfenisstigting inwoners meer kom vertel oor die rol van die organisasie en genoem dat die Erfenisstigting reeds vir meer as ‘n dekade ‘n belangrike rolspeler is in die  Erfenisbewaringswêreld, veral wat betref die bewaring van die Afrikaner-erfenis. Sy het gesê die organisasie is op die been gebring weens die leemte wat ontstaan het met die gebrek aan regeringshulp ten opsigte van die bewaring van die Afrikaner-erfenis. “Die organisasie kry geen befondsing vanaf die regering nie en steun baie swaar op die hulp en ondersteuning van lede-organisasies soos die ATKV, AfriForum, Rapportryers en talle ander vriende. Vandag onderhou hulle talle nasionale kultuurhistoriese geboue en terreine, selfs die Louis Trichardt-gedenktuin in Maputo,” het Mulder gesê.  

Die vergadering is goed ondersteun deur inwoners aan huis van Pétria de Vaal-Senekal en dit was duidelik dat daar ‘n opgewondenheid was om ‘n streekskomitee vir Louis Trichardt tot stand te bring. Ten einde hierdie komitee te realiseer, is daar besluit om vroeg in 2017 ‘n werkswinkel plaaslik aan te bied. “Die tyd het gevlieg, en die datum vir die beloofde werkswinkel het aangebreek. Pétria het weereens goedgunstiglik aangebied dat ons haar huis kan gebruik, en ons het probeer om ‘n datum en tyd te kry wat ons almal sal pas (wat natuurlik onmoontlik is),” het Mulder die afgelope week laat weet.

Voorlopig is daar besluit om die werkswinkel op Woensdag, 22 Maart, vanaf 15:00 tot 17:00 aan te bied met die doel om nou reeds ferm planne vir die toekoms op die tafel te plaas. “Ons het dit so probeer reël dat diegene wat voltyds werk nie te veel ure hoef af te vat nie. Dit hou ook vroeg genoeg op dat dit nie met ouerlike pligte soos aandete sal inmeng nie,” het Mulder gesê.

Persone wat belangstel moet asseblief voor Vrydag, 17 Maart, aandui of hulle die werkswinkel gaan bywoon.  “Ons sal baie graag soveel as moontlik belangstellendes betrokke wil hê. Ons erfenisterreine en -goedere word ernstig bedreig, en ons het werklik u hulp nodig om dit te probeer bewaar,” het Mulder gesê.

Vir meer inligting, skakel Pétria by tel. 082 555 1672 of Riana van die Erfenisstigting by 087 150 6582 of stuur ‘n e-pos aan haar by [email protected].

 

 
 
 

Viewed: 236

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT