ADVERTISEMENT:

 

 
 

Onward Muchagowa (41) afgeneem saam met sy regsverteenwoordiger. Regs van hom is Niklaas van Deventer (51). Sy broer, Deon van Deventer, se kop steek agter Onward se kop uit. Die broers was nog met elke hofverskyning kamerasku, terwyl Onward al per geleentheid gedreig het om die koerant te dagvaar omdat hulle foto's van hom neem. 

Polisie het sterk saak teen vermeende stropers

Date: 15 April 2017 By: Isabel Venter

Die polisie se getuienis stem glad nie ooreen met die van vermeende renosterstropers, Niklaas van Deventer (51) en Gideon “Deon” (48) van Deventer, nie.

Dit het duidelik geword tydens die Van Deventer-broers en hul medebeskuldigde, Onward Muchagowa (41), se voortslepende borgaansoek verlede week. Die drie mans het Donderdag (6de) weer in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn op ‘n klag van die onwettige besit van ‘n renosterhoring. Hulle staar ook verdere aanklagte, wat verband hou met onwettige aktiwiteite en die jag van beskermde spesies, in die gesig.

Al drie is op 6 Januarie vanjaar gearresteer, nadat hulle na bewering ‘n afgesaagde renosterhoring in ‘n plastieksak ten tye van ‘n polisiejaagtog op die Vivo-pad by hul bakkie se venster sou uitgegooi het. Tydens hulle onderskeie borgaansoeke het veral die twee broers voet by stuk gehou dat hulle nooit enige renosterhoring in hulle besit gehad het nie.

Muchagowa se weergawe met sy borgaansoek, was dat hy ‘n saamrygeleentheid gekry het saam met die broers. Hy wou na Louis Trichardt reis om R20 000 te leen by ‘n vriend om sy skuld af te betaal aan die broers vir ‘n Izuzu bakkie wat hy vroeër by hulle gekoop het. Muchagowa wou ook sommer terselfdertyd noodsaaklike onderdele koop vir dié bakkie wat in daardie stadium stukkend was. Volgens hom moes hy egter onverrigte sake terugkeer, en het weer ‘n saamrygeleentheid by die broers gekry.

Terwyl hulle op pad terug was na Alldays, het hy gevoel of “hulle oor iets – amper soos ‘n hobbel” ry, voordat hulle van die pad af is en die polisie hulle gearresteer het. Hy het getuig dat hy nie bewus was van enige renosterhoring wat toe in die bakkie kon gewees het of by die venster uitgegooi is nie.

Die Van Deventer-broers het tydens ‘n vorige hofverskyning getuig dat dié renosterhoring nie van die plaas Witpoortjie (naby Lephalale) is nie, maar wel aan ‘n ene Reuben behoort het. Hierdie Reuben het, volgens die broers, met die renosterhoring by hulle huurwoning in die Alldays-omgewing opgedaag om dit te weeg en te verkoop. Hulle was van plan om die inligting van Reuben se onwettige aktiwiteite te deel met ‘n polisie-informant, maar het nooit so ver gekom nie.

Muchagowa het Donderdag sy borgaansoek afgehandel, waarna kapt. Dave Retief vir die Staat begin getuig het. Hy het getuig oor ‘n voorlopige DNS-verslag wat gedoen is op die renosterhoring wat by die bakkie uitgegooi is. Retief was ook die een wat gestop het om die renosterhoring op te tel. Hy het verder getuig dat Niklaas later aan hom erken het dat hy die een was wat die renosterhoring by die venster uitgegooi het, terwyl Deon bestuur het.

Buiten vir dit, het die DNS-toetse van die horing ooreengestem met bloedmonsters wat gekry is op messe en ‘n byl wat die polisie binne-in die broer se huis gevind het. Hierdie verslag het verder getoon dat die horing wel behoort het aan die renoster wat op Witpoortjie gestroop is. Deon het tydens sy arrestasie, het Retief getuig, voor ‘n polisieman erken dat hy en sy broer die renoster doodgemaak het. Niklaas het glo die renoster se karkas aan die polisie gaan uitwys.

‘n Tweede renoster is ook na aanleiding van die broers se arrestasie ontdek. Retief het getuig dat hulle ‘n papiertjie in die broers se huis gevind het waarop GPS-koördinate geskryf was. Die polisie het die GPS-koördinate gevolg tot by die karkas van ‘n renoster in die Polokwane Natuurreservaat. Dié renoster se horing is ook gestroop. Retief het getuig dat die broers ‘n bekentenis gemaak het voor ‘n landdros dat hulle hierdie renoster gestroop het.

Uitspraak in die borgaansoek van al drie beskuldigdes is teruggehou tot en met Mei, sodat Retief eers klaar kan getuig vir die Staat. Al drie die mans sal weer op 8 Mei in die hof verskyn, en sal tot dan in aanhouding bly.

 
 
 

Viewed: 708

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Niklaas van Deventer (51) afgeneem in die hof. 

Onward Muchagowa (regs) besig om te konsulteer met sy regsverteenwoordiger kort voordat hy sy borgaansoek gebring het in die Louis Trichardt Distrikshof verlede Donderdag.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT