ADVERTISEMENT:

 

 
 

Twee ysters. Danika Malan (links) en Ziamay regs afgeneem tydens een van hul CrossFit oefensessies.

Drie van Malan-gesin die fiksste in Suid-Afrika

Date: 23 April 2017 By: Isabel Venter

Louis Trichardt se “ystergesin”, die Malans, het weer hul staal gewys in die CrossFit-arena.

Felix Malan en sy twee dogters, Danika (17) en Ziamay (15), maak nie net reg om aan die kwalifiserende rondte vir die CrossFit Wêreldkampioenskappe deel te neem nie, hulle het hierdie week ook die nuus ontvang dat hulle al drie eerste geplaas is wat fiksheid betref in hul onderskeie ouderdoms-afdelings in die hele Suid-Afrika!

Dit is egter die 15-jarige Ziamay wat hierdie jaar almal verbaas het. Sy staan saam met pa Felix ook eerste in hul ouderdomskategorie algeheel in Afrika. Tans beklee Ziamay, in haar ouderdomsgroep, die 21ste posisie wat fiksheid betref uit meer as ’n duisend deelnemers wêreldwyd. Pa Felix en ousus Danika beklee onderskeidelik die 81ste en 163ste posisies. “Dit is die eerste keer, sover ek weet, wat een gesin in Suid-Afrika almal saam so goed presteer,” het ’n trotse Felix gesê.

Die drie se posisies op die CrossFit-leierbord word bepaal oor vyf weke, waartydens hulle elke naweek een oefensessie moet voltooi voor onafhanklike beoordelaars. Hiervoor moes hulle na die Polokwane CrossFit Box (dit is wat mens die plek noem waar daar ernstig ge-CrossFit word), deurry.

‘n Oefensessie, verduidelik Ziamay, is gewoonlik ‘n verrassing. ‘n Deelnemer kry nooit dieselfde tipe oefeninge (soos burpees, crunches en box jumps om maar ’n paar te noem) twee keer na mekaar om te doen nie. Die doel is om die mees afgeronde en fiksste atleet te wees.

Ziamay en Danika het onderskeidelik vier en drie jaar gelede begin met CrossFit. Albei word deur pa Felix afgerig. Hy en sy vrou, Lee, is beide CrossFit-instrukteurs en bestuur die OpenDoors Gimnasium op Louis Trichardt sedert 2014.

Buiten vir ’n streng eetprogram, volg Ziamay en Danika ook ’n streng oefenprogram. Elke dag word die oefening gewissel, sodat daar op beide hul fiksheid en vaardighede gefokus kan word. Die twee sussies oefen ook lekker saam as ’n span. “Ek en my sussie komplimenteer mekaar. Sy is beter met die cardio-oefeninge en ek weer beter met die gewigte,” verduidelik Danika.  Die twee is ook uitblinker studente, atlete en hokkiespelers vir Hoërskool Louis Trichardt

Tydens die Zoutpansberger se besoek Dinsdagmiddag was hulle juis besig was om vir die komende naweek se uitdunrondtes voor te berei. Hierdie rondte, vertel Ziamay, sal ook ’n reeks van oefeninge insluit wat hulle oor die naweek moet voltooi. Die hele reeks moet op videokamera vasgelê word, sodat die beoordelaars kan seker maak hulle verneuk nie.

As enige een van hulle, verduidelik Ziamay verder, na die naweek daarin slaag om in die top 40 te eindig in hul onderskeie ouderdomskategorieë, kwalifiseer hulle om dan aan die CrossFit Wêreldkampioenskappe deel te neem wat later vanjaar in Amerika aangebied sal word.

 
 
 

Viewed: 1405

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Felix Malan, 'n plaaslike CrossFit-instrukteur, lê tans 81ste op die internasionale CrossFit ranglys en eerste in beide Afrika en Suider-Afrika. Foto verskaf.

Danika Malan.

Ziamay afgeneem tydens een van haar oefensessies Foto verskaf.

Twee ysters. Danika Malan (links) en Ziamay regs afgeneem tydens een van hul CrossFit oefensessies.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT