ADVERTISEMENT:

 

 
 

SAPD

Man vas ná droom

Date: 24 April 2017 By: Isabel Venter

‘n Inbreker bevind homself aan die verkeerde kant van die tronk se tralies, nadat hy verlede jaar besluit het om by die Van den Berg-egpaar van Louis Trichardt se huis in te breek.

Die 20-jarige Reward Magiga Takataka, wat ten tye van die inbraak in diens was van Joppie en Zonika van den Berg, het Woensdag skuldig gepleit op klagte van motordiefstal en huisbraak met die opset om te steel.

Takataka het erken dat hy op 30 Julie 2016 by sy werkgewers ingebreek het, terwyl hulle vir die dag op Tshipise gaan ontspan het.

Zonika en Joppie het met hul terugkeer by die huis dadelik gesien daar is iets verkeerd, aangesien Zonika se Toyota Fortuner anders gestaan het as wat sy gewoonlik haar kar parkeer. Nodeloos om te sê, daar was groot fout binne-in hul huis.

By verdere ondersoek het hulle gesien dat Joppie se kluis met ‘n hoekslyper oopgesny is en R10 000 daaruit vermis was. Hulle televisiestel, skootrekenaar, ’n selfoon en nog ander huisraad was ook vermis. “Dit was maar ’n paar van die goed wat ons dadelik agtergekom het is weg,” het Joppie Woensdag gesê.

Wat egter later geboemerang het vir Takataka, was ’n droom wat Zonika daardie aand van die inbraak gehad het. In haar droom het sy gesien hoe haar Fortuner met die gesteelde goedere bestuur word na ’n behuisingskompleks skuins agter die skrootwerf Reclam in Industriastraat.

Met die droom vars in haar gedagtes, het Zonika aan die Zoutpansberger gesê, is sy en Joppie met dagbreek die daaropvolgende Maandag na Reclam, waar hulle gevra het om na die besigheid se sekuriteitsvideos te kyk. En so wrintiewaar, net na 12:00 daardie selfde dag merk hulle op die beeldmateriaal op hoe haar Fortuner by die huis stop. Daar kon ook net-net uitgemaak word hoe ’n paar mense heen en weer loop tussen die Fortuner en ’n bakkie waarop die gesteelde goedere oorgelaai is.

Die Makhado Polisie het die ondersoek verder gevat en die inwoners van die huis ondervra. Die 39-jarige Pomeria Moyo was wel by die huis. In sy kamer het die polisie twee visstokke gekry wat Joppie uitgeken het as van sy gesteelde goedere. Moyo het gesê hy het nie geweet dat die stokke gesteel was nie en dat hy dit as ’n geskenk gekry het van Takataka.

Takataka, wat nie weer teruggegaan het na sy werk nie, is twee weke later, op 16 Augustus 2016, deur die Makhado Polisie vasgetrek.

Hy het aanvanklik eers skuld ontken op die klagte teen hom, maar toe hy Woensdag die beeldmateriaal van die sekuritietskamera gesien het, het hy sy storie verander en ‘n pleitooreenkoms met die Staat aangegaan. Takataka het erken dat hy die Fortuner daardie dag bestuur het.

Teen druktyd was daar nog gewag op die hof se uitspraak en vonnis in die saak.

 
 
 

Viewed: 954

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT