ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Johan Greyvenstein (54). Foto verskaf.

Moordenaar gevonnis

Date: 08 May 2017 By: Andries van Zyl

Meer as ses jaar ná die gru-moord van die Greyvenstein-egpaar op hul kleinhoewe buite Musina, het die familie hierdie week ‘n mate van geregtigheid gesien.

Johan (54) en eggenote Annelise Greyvenstein (52) van die Cassel plotte buite Musina is op 2 November 2010 laas lewendig gesien, terwyl hulle in Musina inkopies gedoen het. Twee dae later is hul lyke in die egpaar se Hilux-bakkie op die kleinhoewe gevind. Albei is in die kop geskiet.

Op die dag van die egpaar se begrafnis het die Suid-Afrikaanse Polisiediens, in samewerking met die Zimbabwiese polisie, twee mans in die Esigodini-distrik in Zimbabwe in verband met die moorde aangekeer. Beide was voormalige werknemers van die egpaar wat uit diens ontslaan is.

Een van die gearresteerde mans, Gibson Banda (46), is Dinsdag (2 Mei) in die plaaslike afdeling van die Hooggeregshof in Thohoyandou twee keer lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die moorde, asook ‘n addisionele 21 jaar op klagte wat verband hou met roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.

Banda is tydens sy arrestasie in besit gevind van Johan se .38 Taurus-rewolwer en ammunisie, asook persoonlike besittings van die egpaar, wat onder meer ingesluit het twee silwer horlosies, ‘n videospeler, DVD-speler, sweismasjien, twee Raleigh fietse en ‘n Nokia en 'n Samsung selfoon.

Tydens Banda se verhoor kon hy nie verduidelik hoe hy in besit van die goedere gekom het nie. Hy kon ook nie verduidelik hoe hy geweet het waar die moordwapen is nie, aangesien hy dit aan die polisie uitgewys het.

Ten spyte hiervan het Banda egter onskuldig gepleit op al die klagte teen hom. Die hof het hom egter skuldig bevind op al die klagte.

Tydens uitspraak het Regter Khami Makhafola daarop gewys dat die Greyvenstein-egpaar op ‘n brutale en onmenslike wyse vermoor is. Hy het bygevoeg dat Banda nie kon bewys waarom hy nie die minimum voorgeskrewe vonnisse opgelê mag word nie.

Op die twee klagte van moord is Banda elk lewenslank gevonnis. Hy het 15 jaar gekry op die klag van roof met verswarende omstandighede en drie jaar elk op die klag van die onwettige besit van ‘n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie. Die vonnisse sal samelopend uitgedien word.

Ná vonnisoplegging het die Direkteur van Openbare Vervolging in Limpopo, advokaat Ivy Thenga, die uitspraak verwelkom. “Ek is regtig tevrede met die uitspraak. Geregtigheid het geseëvier. Dit is net ongelukkig dat twee onskuldige lewens verloor is,” het Thenga in ‘n verklaring van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gesê.

Die NVG is ná uitspraak gevra wat van die ander verdagte in die saak geword het. Hierop het die NVG se provinsiale woordvoerder, Mashudu Malabi-Dzhangi, gesê dat beide Banda en sy medebeskuldigde eers op ander klagte in Zimbabwe moes verskyn ná hul aanvanklike arrestasie. Beide is toe vrygelaat met ‘n boete. Banda is eers weer aangekeer nadat hy Suid-Afrika onwettig binnegekom het. Die ander verdagte is egter steeds op vrye voet.

 
 
 

Viewed: 2948

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Wyle Annelise Greyvenstein (52). Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT