ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die huidige pastoorspaar by die AGS Charisma in Louis Trichardt, pastoor Leonie Meyfarth en haar man Duncan. Foto verskaf.

AGS Louis Trichardt vier 100 jaar

Date: 26 May 2017 By: Andries van Zyl

Die geskiedenis van die AGS Charisma in Louis Trichardt begin by die geskiedenis van die AGS in Suid-Afrika, met die Apostoliese Geloof Sending (AGS) van Suid-Afrika wat tans 109 jaar oud (1908 tot 2017) is.

Die denominasie is gebore uit die bediening van John G. Lake, ‘n Amerikaner wat op 14 Mei 1908 in Suid-Afrika aangeland het. Sy eerste dienste was in Doorfontein, Johannesburg, gehou.

“Lake is kragdadig deur die Here gebruik om wonderbaarlike genesing te laat plaasvind.  Duisende mense was deur sy gebede oombliklik genees van siektes, verlamming, sommige selfs uit die dood opgewek.  Om u net ʼn idee te gee – in 1911 het 2 023 bevestigde bonatuurlike genesings plaasgevind,” het die AGS Charisma in Louis Trichardt se past. Leonie Meyfarth gesê.

Dit is vanuit Lake se bediening wat die AGS van Suid-Afrika gebore is en steeds vandag bestaan.

Die eerste verwysing na Louis Trichardt in die notules van daardie eerste jare was in die notule van 16 Julie 1909.  In 1914 het die AGS ʼn konferensie gehou in Louis Trichardt, en weer in 1917.  Daarna het die AGS van SA het ʼn bedieningspunt in Louis Trichardt geword.

Met so 'n ryk geskiedenis het baie dinge al verander, en baie dinge dieselfde gebly. “Die AGS se teologie het weinig verander vanaf sy oorsprong. Ons glo steeds in genesing, vrymaking en verlossing as die vrugte van die werk van Christus aan die kruis. Vir die laaste 100 jaar het die AGS Charisma in Louis Trichardt gefunksioneer.  Deur elke storm en elke hoogtepunt, het die Here se roeping op die gemeente vasgestaan, en ons dank die Here dat Hy steeds ʼn roeping op die gemeente het,” het Meyfarth gesê.

Gedurende die laaste 100 jaar het vele pastore en gemeentelede die werk van die Here deur die bediening van die AGS Charisma gedoen.  “Daarvoor wil ons ieder en elk bedank. Mag die Here u elkeen ryklik seën in u ingang en in u uitgang. Ons is opgewonde oor die toekoms en oor ons rol en funksie in die gemeenskap en provinsie,” het Meyfarth gesê. Sy het bygevoeg dat hulle huidige logo die roeping van die gemeente simboliseer. “Die duif in die vlam simboliseer vir ons die Heilige Gees se werking, die vuur van God wat mense gesond en vry maak en tot wedergeboorte bring,” het Mefarth gesê. Dit is haar en die gemeente se ywer om Ligdraers tot eer van God te wees deur hul werk, deur hul dade, deur hul woorde en deur hul gebede en geloof om God se koninkryk aarde toe te bring.

Ter viering van hul 100ste bestaansjaar het Meyfarth die gemeenskap uitgenooi na hul Eeufeesviering vanaf 9 tot 11 Junie. Tydens die geleentheid sal Louis Brittz, 'n Christelike liedjieskrywer, musikant en outeur, by die gemeente optree. “Die wie hom al gehoor het sal saamstem dat dit nie aldag is dat jy in die noorde kan luister na iemand met soveel invloed en talent nie,” het Meyfarth gesê. Brittz se optrede vind Vrydag, 9 Junie, vanaf 18:30 plaas. Kaartjies kos R100 per persoon en is beskikbaar by die kerkkantoor, of skakel past. Meyfarth by tel. 084 219 4406.

Dr Isak Burger, voormalige president van die AGS van SA, sal op sy beurt die erediens op 11 Junie vanaf 09:00 behartig. “Ons nooi elkeen uit om na dié welbekende pastoor en spreker te kom luister,” het past. Meyfarth gesê.

 
 
 

Viewed: 612

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die amptelike inwydingsbrief van die AGS Charisma se nuwe kerkgebou in 1971. Die gemeente het voor dit al die jare hul dienste uit 'n gebou gehou op wie se fondasies die gemeente se huidige kerksaal gebou is. Foto verskaf.

Die AGS Charisma in Louis Trichardt se logo simboliseer die gemeente se roeping. “Die duif in die vlam simboliseer vir ons die Heilige Gees se werking, die vuur van God wat mense gesond en vry maak en tot wedergeboorte bring,” het die gemeente se past. Leonie Meyfarth gesê. Logo verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT