ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Onlangse foto van Kabous en sy tweejarige seuntjie, Ashvinne. Foto: Facebook.  

Jong man se dood laat familie met baie vrae

Date: 26 May 2017 By: Andries van Zyl

Die Odendaal-familie van Louis Trichardt is steeds niks nader aan antwoorde wat betref die dood van die 21-jarige Ashley “Kabous” Odendaal nie.

Odendaal, jongste seun van Alan Odendaal van Louis Trichardt, was ‘n oud-leerling van Laerskool Louis Trichardt en die CVO Skool Zoutpansberg. Hy is dood ná ‘n motorfietsongeluk in Pretoria op Donderdag, 18 Mei. Die ongeluk het omstreeks 02:30 plaasgevind.

Odendaal was op pad om sy vrou, Venessa (22),  by die restaurant te gaan oplaai waar sy werksaam was, toe die ongeluk plaasgevind het. Die omstandighede wat tot sy dood gelei het, bly egter steeds duister. Die vermoede bestaan dat ‘n motoris hom op sy motorfiets raakgery het, waarna die motoris vanaf die ongelukstoneel weggejaag het. Die botsing het in Van der Hoffweg naby die laagwaterbrug plaasgevind.

Die erg beseerde Odendaal is deur ‘n verbygaande motoris gevind. Sy selfoon het langs hom op die grond gelê en die motoris kon met die hulp daarvan die familie van die ongeluk in kennis stel. Odendaal is met uiters ernstige inwendige en uitwendige beserings na die Steve Biko Hospitaal geneem, maar het kort voor vyfuur die oggend weens die ernstige aard van sy beserings beswyk. “Die dokters het vir ons gesê dat hulle amper 100% seker was dat Kabous reeds op die ongelukstoneel breindood was. Daar was niks wat hulle vir hom kon doen nie,” het pa Alan Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Te midde van die hartseer en trauma van die nuus van sy seun se dood, was daar die afgelope naweek ‘n sprankie hoop dat die polisie dalk die persoon kon vastrek wat vir die ongeluk verantwoordelik was. “My gewese vrou [Kabous se ma Amanda] het my laat weet dat iemand Sondag homself aan die polisie oorgegee  het. Toe hulle hom na Kabous se ongelukstoneel neem, het die man egter gesê dat hy nie betrokke was by hierdie ongeluk nie, maar wel by ‘n ander ongeluk waar hy ‘n motorfietsryer raakgery het,” het Alan gesê.

Soos reeds genoem was Kabous op laer- en hoërskool in Louis Trichardt. Hy was ‘n kranige fietsryer gewees wat onder meer een jaar die moordende Kremetart 175 km-wedren suksesvol voltooi het. Nadat hy in 2012 sy hoërskoolloopbaan by die CVO Skool Zoutpansberg voltooi het, het hy na Warmbad verhuis waar hy vir Venessa ontmoet het. Die tweetjie is in November 2014 getroud. Een seuntjie, Ashvinne (2), is uit die huwelik gebore. Die egpaar het einde verlede jaar na Pretoria verhuis op soek na beter werksgeleenthede.

“Met alles wat hy in sy lewe aangepak het, het hy nooit opgegee nie. Selfs al het mens vir hom gesê om iets te los, het hy besluit hy sal jou wys hy kan dit doen. Hy het kans gesien vir alles, want hy het twee ouer boeties gehad. Hy het dus geleer om sy eie battles te veg,” onthou pa Alan sy seun met 'n glimlag.

Kabous was baie erg oor Venessa en sy seuntjie. Die gesin het tans bietjie deur ‘n moeilike tyd gegaan, met Kabous wat onlangs sy werk verloor het vanweë ‘n operasie wat hy moes ondergaan. “Vir tyd en wyl gaan Venessa en Ashvinne eers by my gewese vrou in Warmbad bly,” het Alan gesê.

‘n Roudiens vir wyle Kabous vind eerskomende Vrydag, 26 Mei, om 11:00 vanuit die Ou Apostoliese Kerk in Warmbad plaas. Kabous word oorleef deur sy vrou Venessa, seun Ashvinne, pa Alan (en stiefma Karen), ma Amanda en broers Ryan en Bradley.

“Ek wil graag almal bedank wat my en my familie in hierdie moeilike en hartseer tyd ondersteun het en steeds ondersteun. Daar is egter een persoon wat ek wil uitsonder. Dit is Sybrand Smit wat vanaf vyfuur die oggend toe ons die nuus gekry het tot die aand so sesuur by my gesit het,” het Alan gesê.

 
 
 

Viewed: 411

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

‘n Familiefoto van die jong Kabous, vrou Venessa en seun Ashvinne. Foto Facebook.

‘n Trotse Kabous voltooi die Kremetart 175 km-wedren. Hy was ‘n kranige fietsryer, beide pad- en bergfiets. Foto: Facebook.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT