ADVERTISEMENT:

 

 
 

Moenie gevaar van hondsdolheid onderskat

Date: 22 July 2017 By: Isabel Venter

Louis Trichardt se staatsveearts, dr. Bridget Edmunds, het gewaarsku dat inwoners hondsdolheid heeltemal onderskat.

Daar is steeds geen behandeling vir die gevreesde siekte nie en as die virus eers in jou bloed is, kan daar absoluut niks gedoen word nie. Dood is die enigste uitkoms. “Daarom is voorkoming van die uiterse belang,” het dr. Edmunds gesê.

Hoewel daar nie plaaslik enige statistieke bekend is nie, kom gevalle van hondsdolheid meer algemeen voor as wat mense vermoed.  Die siekte, verduidelik dr. Edmunds, word oorgedra deur die speeksel van ‘n siek dier, in meeste gevalle deur ‘n hond. Mense moet egter nie deur die naam om die bos gelei word nie; ander soogdiere soos vlermuise, jakkalse, katte, bokke en perde kan ook hondsdolheid opdoen.  

Simptome kan tussen twee en 10 weke vat voordat dit wys by mense. Die eerste tekens is gewoonlik angs, braking, koors, hoofpyn en ‘n vrees vir water. Dit lei tot verlamming, waarna die slagoffer in ‘n koma gaan en sterf.

By diere kom daar sekere gedragsveranderinge voor. Mak diere sal byvoorbeeld wild en aggressief raak. Wilde diere kan weer geweldig vriendelik word en mense nader sonder vrees. Siek diere se eetlus kan ook wisselvallig word.

Indien iemand deur hul troeteldier of ‘n wilde dier gebyt word, beveel dr. Edmunds aan dat die wond deeglik met water en ‘n ontsmettingsmiddel geskrop word, selfs voor mens by jou naaste dokter of hospitaal uitkom.

Die risiko vir hondsdolheid word gemeet aan die soort dier wat betrokke is, die hondsdolheidinentingsrekord van die dier, die toestand van die dier en die geografiese ligging waar blootstelling plaasgevind het, verduidelik dr. Edmunds.

In die meeste gevalle word hondsdolheid-immunoglobulien aanbeveel. Dit bestaan uit vooraf gevormde teenliggaampies wat ’n mens oombliklik beskerming teen die virus bied. Dit is egter belangrik dat die immunoglobulien opgevolg word met ‘n entstofinspuiting.  

Indien dit moontlik is moet daar probeer word om die dier te vang, sodat ‘n veearts die hondsdolheidrisiko kan bepaal. As daar ‘n vermoede is dat die dier hondsdolheid het, moet dit van kant gemaak word. Ongelukkig is die enigste toets vir hondsdolheid om die brein te toets vir die virus.

Omdat hondsdolheid nie suksesvol behandel kan word nie is dit wet in Suid-Afrika dat troeteldiereienaars hulle diere teen die siekte moet inent. Op hierdie manier word nie net die troeteldier teen die siekte beskerm nie, maar ook die eienaar.  

Eienaars kan hulle ore op die grond hou vir gratis staatsgesubsidieerde inentingsprojekte, meestal in September elke jaar, en hulle diere laat inent. Dit is veral noodsaaklik op die platteland, op ‘n plaas of gebiede waar daar baie rondloperhonde en –diere voorkom.

 
 
 

Viewed: 220

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT