ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die brons borsbeeld van die Trekkerleier Louis Tregardt, deur die beeldhouer Jo Roos, is op 14 Oktober 1988 deur die burgermeester, Raadsheer Stephen Botha, onthul tydens die dorp se Groot Trek-herdenkingsfees. Die borsbeeld kan in Louis Trichardt se munisipale biblioteek besigtig word. Die biblioteek is weeksdae oop vanaf 08:00 tot 17:00 en Saterdae vanaf 08:00 tot 13:00. Skattejag-deelnemers moet hulle selfies op die Erfeniskomitee se Facebook-blad oplaai by ERFENIS BEWARINGS- EN BEWUSMAKINGSKOMITEE: LOUIS TRICHARDT EN STREEK. Foto verskaf.

Die man agter dorp se naam is volgende skat

Date: 01 September 2017 By: Andries van Zyl

Die man na wie die dorp Louis Trichardt vernoem is, is die volgende “skat” in die plaaslike erfeniskomitee se weeklikse skattejag.

Maar is dit nou Louis Tregardt of Louis Trichardt? Die erfeniskomitee het 'n bietjie navorsing hieroor gaan doen…

Voortrekkerleier en dagboekskrywer Louis Tregardt is op 10 Augustus 1783 in die Swellendam-distrik gebore. Die mees konkrete bewyse is dat sy voorsate van Sweedse afkoms was en dat die van "Tregard" afgelei is van die Sweedse woord “trägard” wat “tuin” beteken.

Die stamvader, Carolus Gustav Tregard, se afstammelinge skryf ook “Tregardt”, “Treegardt” en  “Triegardt”. Volgens prof. T. H. le Roux se boek Die Dagboek van Louis Trichardt, geskoei op dié van prof. Gustav Preller, was dit nie vreemd vir mense van daardie tyd om hulle vanne op verskillende maniere te skryf nie, veral met die “i” en “e” klanke wat soortgelyk uitgespreek word.

Louis Tregardt het in die Oos-Kaap geboer totdat hy in 1835 een van die eerste Voortrekkerleiers geword het om tydens die Groot Trek na die binneland te trek. Hy het tot by die Soutpansberg-gebied getrek en vertoef tot Augustus 1836 wes van die berg by die soutpanne. As gevolg van sterftes onder die vee en die ondraaglike somerhitte, verskuif Tregardt sy kamp suid van die berg. In sy dagboek noem Tregardt hierdie kamp De Doors, geleë by die samevloeiing van die Dorpsrivier en die Brakspruit (sowat 15 km wes van die huidige dorp).

Teen Maart 1837 begin malaria-aanvalle reeds slagoffers eis. Op 23 Augustus 1837 verlaat die Tregardt-trek die Soutpansberg-omgewing en vertrek na Delagoabaai. Op 13 April 1838 arriveer Tregardt en sy geselskap by die fort in Lourenço Marques. Op 10 Augustus 1838, op sy 55ste verjaarsdag, sluit Louis Tregardt sy dagboek af met die laaste inskrywing. Tien weke later, op 25 Oktober 1838, sterf hy.

Eers 60 jaar ná sy dood het die oorlog en oorwinning oor Mphephu in November 1898 die weg gebaan vir die stigting van ‘n nuwe dorp aan die voet van die Soutpansberg. Generaal Chris H. Muller, wat teenwoordig was met die beslissende slag teen Mphephu, se vertelling lui soos volg: “ Binne die stat ontmoet Generaal Joubert en Kolonel Fanie Trichardt mekaar. Hulle wens mekaar geluk met die oorwinning en kol. Trichardt sê aan genl. Joubert: ‘Generaal, ek het ‘n vriendelike versoek aan u. My grootvader was die eerste Voortrekker hier en daar is nog nie ‘n plek wat sy naam dra nie. Nou is my versoek dat die dorp my grootvader se naam sal kry, naamlik Louis Trichardt’”. Die generaal skud weer sy hand en sê: “Fanie, ek sal aan jou versoek voldoen, as ons hier ‘n dorp aanlê, sal sy naam wees Louis Trichardt.” Die stigting van die dorp Louis Trichardt word op 15 Februarie 1899 in die Staatskoerant gepubliseer.

 
 
 

Viewed: 408

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT