ADVERTISEMENT:

 

 
 

Tannie Marie Eyssell stoot ‘n inwoner van Ons Tuiste in ‘n kruiwa deur Kroghstraat in ‘n poging om geld vir die tehuis in te samel. Matrone Williams dra die plakkaat op die rug. Die foto is ook tydens die vroeë sestigerjare geneem. Foto verskaf.

Ons Tuiste vier kleurvolle halfeeu

Date: 02 September 2017 By: Andries van Zyl

Ons Tuiste Ouetehuis in Louis Trichardt vier op 6 September vanjaar hul 50ste verjaarsdag en, net soos die kleurvolle inwoners wat vandag daar woon, is die tehuis se geskiedenis ewe kleurvol.

Ter viering van ‘n halfeeu van bestaan het oom Bobbie Eyssell die volgende brokkie geskiedenis saamgestel van die tehuis waarvan hy vandag self ‘n inwoner is - ‘n tehuis wat op 9 September 1967 sy deure geopen het, danksy die versiendheid van sy ma, wyle tannie Marie Eyssell:

Dit was Marie Eyssell (gebore Albasini) se grootste lewenswens, droom en ideaal om ‘n ouetehuis tot stand te bring in Louis Trichardt.

Sy het as ‘n jong bruidjie saam met haar eggenoot, Tinus Eyssell, op die plaas Groblersplaas gewoon saam met Tinus se oupa en ouma Grobler. Tinus se moeder is met sy geboorte oorlede en sy grootouers het hom opgevoed. Die grootouers was toe reeds bejaard en dit was maar moeilike tye. Marie het vertel dat as sy ‘n koek wou bak, moes sy voor die stoof waghou, anders word die deur oopgemaak deur die oumatjie en die koek val plat.

Marie het begin navraag doen by die plaaslike owerhede. Sy het met Ben Cronjé, Mannetjie Bergh, Coenie van den Berg en nog andere gesels en ‘n komitee is gevorm deur mense soos onder andere dr. Kirk-Cohen, mevrou Thompson, Hettie Mostert, Bertie Knott, Ben Lavin, Danie Opperman, Jurie Geldenhuys en die Bannatynes, asook mnr. Torrence en vele meer.

Tinus het ná die oorlog op die handraad gedien by die Uniegebou en het kontak gehad met die destydse Minister van Gesondheid en Welsyn, waar hy die versoek tot die bou van ‘n ouetehuis aangevoer het. Tinus en sy gesin was huisvriende met generaal Jannie Smuts, die destydse Eerste Minister. Deur sy bemiddeling het die Departement Volkswelsyn alles daartoe bygedra om die konsep van die oprigting van ‘n ouetehuis goedgekeur te kry.

Marie en die komitee se volgende stap was om ‘n perseel te verkry vir die bou van die tehuis. Die veld langs die Sibasa-pad, waar daar nog geen uitbreiding was nie, is toe aangewys. Die huidige N1 was nog nie teen dié gedeelte nie. Dit het Marie nie afgeskrik nie en sy het gesê hulle gaan dit gebruik, en kyk nou net.

Marie en haar spanlede het toe met mening ingespring en al wat boer, besigheidsmens, boukontrakteur en mense orals genader vir skenkings en hulp vir die insameling van fondse vir die groot projek. Syself het op ‘n kruiwa wat deur iemand gestoot is deur die dorp gekollekteer en geld en beloftes ingesamel vir die groot taak. Tinus het self nooit die eindproduk gesien nie. Hy is gedurende Augustus 1960 oorlede aan ‘n hartaanval.

“Ons Tuiste is ‘n ware tuiste en ‘n pragtige sieraad. Dit is ‘n veilige hawe vir bejaardes wat met liefde en troue sorg versorg en verpleeg word. Daar hang verskeie foto’s van stigterslede in Ons Tuiste se gange, asook verskeie koperplate as erkenning van skenkers teen die mure. Ons sê as erkenning baie dankie aan Marie Eyssell en al die helpers vir die totstandkoming van haar droom wat waar geword het,” skryf oom Bobbie.

Nog name wat betrokke was met die totstandkoming en bou van Ons Tuiste was Johny van Breda, Coenie van den Berg, Sybrand en Lettie Mostert, Hans en Hester Lombard, Frank en Dorothy Turner, Hugh en Bettie Sheldon, Bettie Noakes, ds. Vermaak, ds. Frier, Manie Eloff, Piet Myburgh en Otto Beck. “Dit is slegs name wat onthou kan word,” skryf oom Bobbie. Dan was daar ook Harry Coxwell en Fanie Botha. “Marie het altyd met ‘n breë glimlag gesê dat dit een projek was waar die verskillende partye, naamlik die Natte en Sappe, saamgewerk het,” het oom Bobbie gesê.

 
 
 

Viewed: 210

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Uit die sestigerjare ... Ons Tuiste Ouetehuis se eerste kombi wat deur Zoutpansberg Motors in 1965 geskenk is. Foto verskaf.

Een van die twee oud inwoners wat die fondasie gelê het vir die totstandkoming van ‘n eie ouetehuis vir Louis Trichardt, wyle tannie J. J. C. (Johanna Jakoba Catherina) Thompson. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT