ADVERTISEMENT:

 

 
 

Twee van die kameras wat "gereed staan" vir Saterdag se uitstappie. Links is 'n Zeiss Ikon Nettar wat dateer uit 1933 en regs is 'n 1929 Voigtländer Bessa.

Saterdag word die ou kameras weer uitgehaal

Date: 07 September 2017 By: Anton van Zyl

Die volgende ekskursie in die Zoutpansberger se antieke kamera-projek vind Saterdag (9de) plaas wanneer die “opvou”-kameras afgestof gaan word en gebruik word om hopelik pragtige foto’s te neem.

Tydens die vorige ekskursie is die “boks”-kameras soos die Kodak Box Brownies gebruik om foto’s te neem. Die volgende uitdaging is egter om die kameras wat uitgevou word wanneer dit gebruik word, te gebruik. Hierdie tipe kameras dateer vanuit die 1880's, toe dit belangrik geword het om die kameras meer kompak en draagbaar te maak. Dié tipe ontwikkeling het momentum gekry toe ontwerpers soos George Eastman (van Kodak-faam) die tegnieke verbeter het om emulsie op buigbare film te sit. Dit het meegebring dat, instede van lomp en breekbare glas- en metaalplate, fotograwe film kon koop wat opgerol kon word en later ontwikkel kon word.

Deur die jare het talle kameravervaardigers sulke “folders” op die mark gesit. Buiten Kodak, het bekende make soos Ensign, Voigtländer, Agfa en Zeiss opvoubare kameras gemaak. Die bekende Kodak Vest Pocket kameras word allerweë beskou as die tipe kamera wat die meeste foto’s van die eerste en tweede wêreldoorlog geneem het. Die kamera, waarvan meer as twee miljoen tussen 1912 en 1926 gemaak is, was klein genoeg om in ‘n soldaat se hempsak te pas.

In die Zoutpansberger se kameramuseum is daar ‘n dosyn of wat van dié kameras, waarvan die meeste nog in werkende toestand is. Belangstellendes wat Saterdag wil saamgaan en foto’s neem, is welkom om een van dié kameras te leen. Die wat hul eie kameras wil saambring, kan dit ook doen. Film sal verskaf word en die ontwikkeling sal later gedoen word.

Saterdag se ekskursie begin om 09:00 by die koerant se kantore in Joubertstraat. Ná ‘n kort inleiding oor die kameras, kies die groep koers na Madi a Thavha, ‘n pragtige toeriste-aantreklikheid net buite die dorp. Hier sal die groep geleentheid kry om foto’s te neem en ook later middagete te geniet.

Enige persoon wat ‘n belangstelling het in ou kameras en fotografie, is welkom om die uitstappie mee te maak. Dit is geensins nodig om spesialis-kennis te hê oor fotografie nie. Die koste vir die middagete beloop R100 per persoon, maar dit is opsioneel. Besprekings moet egter vooraf gemaak word.

Belangstellendes kan vir Anton, Isabel of Andries kontak by (015) 516 4996/7 en hul teenwoordigheid bevestig.

 
 
 

Viewed: 331

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Twee van die kameras wat "gereed staan" vir Saterdag se uitstappie. Links is 'n 1929 Voigtländer Bessa en regs is 'n Zeiss Ikon Nettar wat dateer uit 1933.

Twee van die kameras wat "gereed staan" vir Saterdag se uitstappie. Links is 'n Zeiss Ikon Nettar wat dateer uit 1933 en regs is 'n 1929 Voigtländer Bessa. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT