ADVERTISEMENT:

 

 
 

Pita bepleit onskuld

Date: 11 September 2017 By: Isabel Venter

Danie Pita (46) se arrestasie verlede week het inwoners van Louis Trichardt aan die gis, met baie wat meen ‘n onskuldige man is agter tralies geboender.

Pita moes vyf dae in die polisieselle deurbring, nadat hy verlede Donderdag, 31 Augustus, gearresteer is deur die Valke. Hy is arresteer ná die Valke sy besigheidsperseel, Soutpansberg Spares in Kortstraat, deursoek het en militêre plofstof en ammunisie gevind het. Die Valke het gesê hulle het op ‘n wenk gereageer dat daar plofstof versteek word op Pita se perseel.

In totaal het die ondersoekspan beslag gelê op 552 R4-rondtes, een granaat, ses rookgranate, drie leë magasyne van ‘n R1-geweer en vyf potjiefakkels.

Pita is tot sy tweede verskyning in die plaaslike hof Dinsdag aangehou in die Makhado SAPD se aanhoudingselle. Hy het verlede Vrydag vlugtig in die hof verskyn, maar is nie borg toegestaan nie, aangesien die klag van die onwettige besit van plofstof ‘n ernstige oortreding is waarop die hof nie borg kan toestaan alvorens die beskuldigde geldige redes kan verskaf waarom borg wel toegestaan kan word nie.

Pita se arrestasie en aanhouding het egter wyd kritiek ontlok. Party van die Zoutpansbergerse lesers het uiting aan hul menings gegee op die koerant se Facebook-blad. Die oorwegende mening was dat Pita onskuldig toegesluit is. Sommige het ook gemeen dat die plofstof op sy perseel “geplant” is deur iemand wat hulle mes in het vir Pita.

Pita self wou nie enige kommentaar hierop lewer nie en gesê dat hy verkies om nie nou al met die media te praat nie. Hy het wel tydens die borgaansoek in die hof Dinsdag, by monde van ‘n verklaring wat sy advokaat in die hof voorgelees het, gesê dat hy onskuldig gaan pleit op die aanklagte teen hom.

Buiten die  klag van die onwettige besit van plofstof en ‘n klag van die onwettige besit van ammunisie, is daar ook ‘n klag van die besit van ‘n onwettige vuurwapen teen Pita gebring. Dit is deur die Staat teruggetrek, omdat die Valke nie op enige vuurwapens beslag gelê het nie.

Pita het aangetoon dat hy nie in hierdie stadium kan verduidelik hoe die beweerde plofstof en ammunisie op sy besigheidsperseel beland het nie. “Ek het geen bedoeling, hoegenaamd, om enige beweerde plofstof of ammunisie in my besit te hê nie. Daar is ander mense wat toegang het tot die perseel en daarbenewens is ek ook net die huurder van die perseel,” het Pita gesê.

Pita het verder aangevoer dat reg en geregtigheid nie sal geskied as ‘n onskuldige persoon toegesluit word nie. Hy het ook gesê hy is nie ‘n gevaar vir die publiek nie en dat hy geen wrok koester teenoor enige persoon insover dit enige betrekking het op die saak teen hom of in enige ander gevalle nie. “Ek is onskuldig op die klagte wat teen my gebring is en is van plan om onskuldig te pleit en is geadviseer dat dit nie in die belang van reg en geregtigheid is dat ‘n onskuldige man in aanhouding gehou word nie hangende die finalisering van ‘n verhoor,” het Pita gesê.

“Ek is ook verder geadviseer dat – weens my waarskynlike kwytskelding – my volle samewerking met die polisie en my persoonlike omstandighede soos wat ek dit aan die hof voorgehou het, dit nodig maak dat ek borg toegestaan word,” het Pita verder gesê. Hy het onder andere daarna verwys dat sy besighede en familie nie sal kan oorleef solank as wat hy in aanhouding bly nie.

Die hof het in antwoord Pita se borg vasgestel op R5 000. As deel van sy borgvoorwaardes  moet hy die ondersoekbeampte in die saak vooraf in kennis moet stel as hy die provinsie wil verlaat. Sy saak is uitgestel tot 3 November.

 
 
 

Viewed: 891

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

'n Lid van die Valke se ondersoekspan besig om die plofstof en ammunisie na te gaan. Foto: Limpopo Valke. 

Van die ammunisie en plofstof waarop daar beslag gelê is. Foto: Limpopo Valke. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT