ADVERTISEMENT:

 

 
 

Louis Trichardt se eie “Voortrekkerplein” (ook genoem Voortrekkerpark) is geleë op die hoek van Erasmus- en Kroghstraat, regoor die NG Moedergemeente (Haantjiekerk). Foto verskaf.

Dorp se eie Voortrekkerplein ‘n besoek werd

Date: 14 September 2017 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt se eie “Voortrekkerplein” is hierdie week die plaaslike Erfeniskomitee se volgende besoekpunt in hul weeklikse skattejag.

Die dorp se “Voortrekkerplein” (ook genoem Voortrekkerpark) is geleë op die hoek van Erasmus- en Kroghstraat, regoor die NG Moedergemeente (Haantjiekerk). Dit vorm deel van die huidige Burgersentrum-kompleks. “Inwoner kan gerus ‘n oomblik neem en gaan kyk watter monumente en gedenktekens daar is,” het die komitee gesê.

Die Voortrekker-gedenksteen is in 1938 gelê deur Ds. J.J.F. van Schoor, destydse predikant van die Geloftekerk (NG Moedergemeente). Dit is gedoen as deel van die simboliese Ossewatrek en Voortrekkereeufeesvieringe. Daar is meer as ‘n paar honderd monumente en gedenktekens opgerig – by skole, voor stadsale, in munisipale tuine, by kerke en op privaatgrond en plase om sodoende die herinnering aan die Groot Trek tasbaar te visualiseer. Die gedenktekens wat opgerig is, het gewissel van die hoeksteenlegging van ’n monument tot ‘n eenvoudige klipstapel of waspore in ‘n sementblok vasgelê.

Die ossewa het op 5 Desember 1938 om 14:00 in Louis Trichardt aangekom. Sowat 6 000 mense het in die dorp saamgetrek om aan die verrigtinge deel te neem. Sowat 1 000 vroue, geklee in Voortrekkerdrag, het voor die wa deur die strate van die dorp gestap. In die dorpskern het raadslid Piet Otto 'n toespraak gehou en ds. Van Schoor het 'n gebed gedoen. Teen die aand was 8 000 mense by die kerk saamgetrek. Mnr. P. W. Botha, 'n bekende in kultuurkringe en onderwyser van Pietersburg, het 'n toespraak gelewer waarin hy daarop gewys het dat die liefde vir vryheid, met die hulp van God, dit moontlik gemaak het vir die Afrikaners om 'n sterk volk te word. In Voortrekkerpark het twee Boereorkeste tot laatnag musiek gespeel. Sommige mense het van so ver as die destydse Rhodesië gekom om hulde te bring aan die geslag van die 1830's. 'n Verdere seremonie is die volgende dag op Schoemansdal gehou waartydens hulde aan die Voortrekkerleier, Andries Hendrik Potgieter, gebring is.

Buiten die gedenksteen wat die 1938-feesvieringe gedenk, is daar ook talle ander monumente in Voortrekkerpark. Dit sluit in die monument wat opgerig ter nagedagtenis aan die historiese ontmoeting op 7 Augustus 1832 tussen Louis Trichardt, sy seun Karel, Johannes Strydom, hulle gids, Sekoer, en die Portugese Askari’s Antonio and Lourenço, vergesel van Gabriël Buys en Shangaans uit die fort te Lourenço Marques. Die ontmoeting het in die omgewing van Voortrekkerplein plaasgevind; Louis Trichardt se eie Taalfeesmonument; en ‘n gedenkplaat om hulde te bring aan onderwys met die eerste skool wat op 22 April 1837 noord van die Oranjerivier hier begin is, kan ook gesien word.

“Besoek gerus hierdie geskiedkundige plein in ons midde-dorp, neem foto’s en plaas dit saam met enige addisionele inligting en staaltjies op die Erfeniskomitee se Facebook-blad: ERFENIS BEWARINGS- EN BEWUSMAKINGSKOMITEE: LOUIS TRICHARDT EN STREEK,” het die komitee uitgenooi. (Bronne: De Vaal, PHC (1986). Die Dorp Louis Trichardt; Grobler, J. Gedenktekens in Suid-Afrika; Heunis, VR (2008). Monumente en Gedenktekens opgerig tydens die Simboliese Ossewatrek en Voortrekkereeufees, 1938 (ongepubliseerde MA-verhandeling in Kultuurgeskiedenis, UP); Tempelhoff, JWN (1999). Dorpsmense van die Soutpansberg – ‘n Eeufeesgeskiedenis van Louis Trichardt, 1899-1999; en www.taalmuseum.co.za/taalmonument-geskiedenis/)

 
 
 

Viewed: 402

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die gedenksteen wat gelê is ter viering van die 1838 Groot Trek in 1938. Foto verskaf.

Die grootste van die monumente is in 1965 deur die Historiese Monumentekommissie opgerig. Hierdie monument is tweërlei van aard: Eerstens ter nagedagtenis aan die historiese ontmoeting op 7 Augustus 1832 tussen Louis Trichardt, sy seun Karel, Johannes Strydom, hulle gids, Sekoer en die Portugese Askari’s Antonio and Lourenço, vergesel van Gabriël Buys en Shangaans uit die fort te Lourenço Marques. Die ontmoeting het in die omgewing van Voortrekkerplein plaasgevind. Tweedens het die hooflaer van Kommandant-generaal Piet Joubert en die Staatsartillerie tydens die Mpefu opstand in 1898 hier gestaan. Tydens ‘n besoek van Karel Trichardt aan die kommando is besluit om ‘n dorp, vernoem na Louis Trichardt, hier aan te lê. Foto verskaf.

Die grootskaalse veldtogte ter bewusmaking van die Taalmonument in die Paarl het baie patriotiese vure aangesteek, en heelwat ander dorpe het besluit om hul eie monumente op te rig, almal omstreeks die Taalfeesjaar, 1975. Louis Trichardt het een van hierdie monumente op Voortrekkerplein. Die Afrikaanse Sakekamer was betrokke by die skenking van die Taalfeesmonument aan die dorp. Wyle mnr. Dick Kirsten was een van die toonaangewende figure van die aksie. Die monument is op 10 Oktober 1975 onthul – dieselfde dag as wat die Taalmonument op Paarlberg in die Paarl geopen is. Foto verskaf.

Nog ‘n gedenkplaat op Voortrekkerplein bring hulde aan onderwys. Op Saterdag, 22 April 1837, skryf Louis Trichardt in sy dagboek: “Heb ouwe Daniel Pfeffer de kinderen in de school gezit.” Dit was die eerste skool Noord van die Oranjerivier – ‘n paal- en rietdakgeboutjie, ongeveer 4km suidwes van Voortrekkerplein, aan die Dorpsrivier. Die Rapportryerskorps het hierdie gedenkteken opgerig in 1994 en gee so erkenning aan die Voortrekkers se geloof en vêrsiendheid. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT