ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die hof het nie gedink die verduideliking van "toorkuns" is voldoende om te verduidelik hoe die Makhado Polisie daarin kon slaag om 'n verhoorafwagtende te verloor nie. 

Ondersoek volg nadat polisie beskuldige "verloor"

Date: 16 September 2017 By: Isabel Venter

Die Makhado Polisie het ‘n in-diepte ondersoek geloods na die omstandighede wat daartoe gelei het dat hulle ‘n verhoorafwagtende prisonier “verloor” het.

Martin Ngwavara (19) moes verlede Dinsdag (5 September) in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn waar hy tereg sou staan op ‘n klag van bedrog. Ngwavara het egter spoorloos verdwyn en nie die polisie óf die gevangenisdiens kon verduidelik wat van Ngwavara geword het nie.

Volgens die Staat kon dit moontlik Ngwavara se slim gebruik van “toorkuns” gewees het wat hom gehelp het om weg te kom. Derhalwe het die Staat gevra dat die saak teen Ngwavara teruggetrek moet word.

Die hof was egter nie beïndruk met die verduideliking van toorkuns nie, en het aangedring op antwoorde. Ngwavara se prokureur het gesê hy het met Ngwavara se broer oor die telefoon gesels en uitgevind dat Ngwavara terug is na sy geboorteland. Hy kon egter nie verduidelik hoe dit vir sy kliënt moontlik was om in Zimbabwe te wees nie.

Beamptes van die Departement Korrektiewe Dienste het ook skouers opgetrek: Ngwavara was nie in die tronk nie. Hulle het glo laaste vir Ngwavara aan die polisie oorhandig om hom hof toe te neem.

Die hof het toe beveel dat die saak vir twee dae lank uitgestel word, sodat die polisie kans kan kry om hul rekords na te gaan.

Volgens ‘n verklaring wat verlede Donderdag by die hof ingelees is, was dit toe nie toordery wat Ngwavara gehelp het om te verdwyn nie. Wat wel glo gebeur het, was dat die polisie nie agtergekom het dat hulle vir Ngwavara, ná sy laaste hofverskyning op 21 Augustus, in die verkeerde sel gesit het nie. Ngwavara het glo tussen ander prisoniers beland wat daardie dag op bevel van die hof na Zimbabwe terug gedeporteer moes word. Dit is in hierdie stadium nog nie duidelik hoe Ngwavara oorgekyk is nie, want elke prisonier se naam moet teen ‘n lys afgelees word voordat hy in die vangwa gelaai en na Zimbabwe vervoer word.

 
 
 

Viewed: 672

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT