ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wag gelukkig om te leef na wilde skietery en jaagtog

Date: 16 September 2017 By: Isabel Venter

Die bestuurder van ‘n sekuriteitsvoertuig by ‘n sekuriteitsfirma in Louis Trichardt ag homself gelukkig om te leef, nadat hy verlede week ‘n gewapende kaping en roof oorleef het.

Buiten dat Jutas Munyai, wat in diens is van BVS Sekuriteit, ongedeerd was, het hy ook kopgehou en die kapers se poging om die geld wat hy by hom gehad het te vat, gefnuik. Dié kapingsdrama het homself verlede Woensdag omstreeks 09:00 in Industriaweg afgespeel.

Volgens Jutas se bestuurder, mnr. Martin van Rensburg, was hy onderweg om ‘n kliënt se geld te gaan bank nadat hy dit pas in ontvangs geneem het. Jutas het in ‘n noordelike rigting gery in Industriaweg en skielik besef daar is moeilikheid. ‘n Silwer Mercedes 180 het, vanuit die teenoorgestelde rigting, gedeeltelik in Jutas se baan ingery. Jutas het op sy beurt dadelik probeer om ‘n U-draai te maak, maar voordat hy nog behoorlik kon omdraai, het die skote begin klap.

Die skote, het Martin vertel, was afkomstig van ‘n rower wat op die sypaadjie gestaan het, gewapen met ‘n 9mm pistool. Altesaam vyf skote is afgevuur, waarvan een Jutas rakelings gemis het. Dié koeël, wat die deur aan Juta se kant getref het, het gelukkig weggeskram. “Die koeël sou hom in die maag getref het as dit raak was,” het Martin gesê.

‘n Tweede koeël het die regter voorwiel getref. Dit het egter nie vir Jutas gekeer om verwoed weg te jaag nie. Die kapers in die Mercedes het intussen hulle makker langs die pad opgelaai en Jutas agternagesit.

Met die wiel wat pap was, kon Jutas egter net so ver as Trent Tyres kom op die hoek van Industriaweg en Meyerstraat. Hier moes hy noodgedwonge stop.

Met die uitspring het hy die geldsak gegryp en na Bridge Motors oor die pad gehardloop en geskreeu vir hulp. Die kapers het toe, het Martin gesê, nog ‘n paar keer om die blok gery en toe maar besluit om eerder op die vlug te slaan. Jutas was heeltemal ongedeerd.

Die Makhado Polisie het ‘n saak van poging tot moord en poging tot gewapende roof geopen vir verdere ondersoek. Martin het die hoop uitgespreek dat die polisie ernstig sal werk maak van die ondersoek. Hy het gesê dat dit nou al die derde poging is wat op BVS se wagte en sekuriteitsvoertuie gemaak is. “Ons het opgemerk dat daar baie meer kriminele aktiwiteite is in die laaste paar maande voor Kersfees. Desember is van ons stilste maande in die jaar,” het Martin gesê.

Martin het besigheidseienaars gemaan om hul sekuriteit op te skerp en meer waaksaam te wees. Veral as hulle tussen hul perseel en die huis reis. Hy het verwys na die voorval sowat drie weke gelede waarin Gerda Szluha en Ansie Bothma van die Pitstop Bottelstoor ook vermoedelik agtervolg en toe beroof is voor Ansie se huis.

Daar word vermoed, het Martin gesê, dat die rowers besigheidsmense beroof in die hoop dat hulle die dag se geld by hulle huise bêre.

Teen druktyd was die rowers wat op Jutas geskiet het steeds op vrye voet.

 
 
 

Viewed: 640

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Jutas Munyai wys waar een van die koeëls die voertuig van BVS Sekuriteit getref het. Dié koeël het gelukkig weggeskram en nie vir Jutas, wat die motor bestuur het, getref nie. Foto verskaf.

Altesaam vier koeëls het die bakkie getref waarin Jutas die geld vervoer het. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT