ADVERTISEMENT:

 

 
 

AfriForum blameer VDM dat watersaak sloer

Date: 18 September 2017 By: Isabel Venter

AfriForum het terugvoering gegee oor die stand van sake insover dit hulle hofsaak teen die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) aangaan.

Dit volg nadat die Zoutpansberger twee weke gelede met AfriForum se hoofkantoor én uitvoerende hoof, mnr. Kallie Kriel, geskakel het oor uitlatings wat op sosiale media gemaak is oor die plaaslike tak se bestuur wat nie herverkies is nie.

Die takbestuur se periode, het voormalige komiteelid mnr. Johan Fourie later in ‘n brief verduidelik, het verstryk. ‘n Nuwe bestuurskomitee kon nie verkies word nie weens, onder andere, ‘n baie swak opkoms deur lede van die publiek tydens die tak se algemene jaarvergadering.

Die tak se bestuur was ook ongelukkig omdat AfriForum se hoofkantoor nie inwoners se frustrasies kon beantwoord oor hoekom hul krane steeds leeg bly ten spyte van talle hofsake wat gewen is en ‘n dringende hofbevel wat op 28 Maart 2017 teen die VDM bekom is om watervoorsiening te verseker nie.

Dit was juis hierdie vraag waarop AfriForum verlede week geantwoord het.

Die hofbevel, het AfriForum verduidelik, is bekom nadat die VDM hulle nie gesteur het aan enige van die twee Hooggeregshofbevele wat teen hulle uitgereik is op 2 Oktober 2012 en daarna weer op 16 Mei 2013 nie. “Ons het gehoop dat wanneer ons die aansoek op die munisipaliteit beteken - waarin aangevoer word dat hulle besig was om twee hofbevele te minag - die munisipaliteit na die tafel toe sou kom en met ons sou onderhandel,” lees AfriForum se verklaring.

Helaas is die bevel in ‘n onbestrede hof, met ander woorde sonder dat die munisipaliteit ‘n woord van hulle laat hoor het, toegestaan op 28 Maart 2017.

Met die nuwe bevel wou AfriForum ook sommer die munisipaliteit dwing om ‘n boorgatprojek weer op die been te bring. AfriForum het geargumenteer dat daar dan water sal wees in die tye wanneer daar aan die Albasini pyplyn gewerk word en dat boorgate herstel sal word wat voorheen gevandaliseer is.

Die hofbevel het ook verder bepaal dat die VDM binne 30 vandat hulle in kennis is gestel is van die bevel, aan die vereistes moes voldoen. Indien nie, kon die VDM se Direkteur van Tegniese Dienste en die Munisipale Bestuurder 60 dae gevangenisstraf opgelê word en ‘n bestraffende kostebevel teen hulle uitgereik word. Die munisipaliteit se tyd sou op 10 Mei verstryk het.

Met net ‘n paar dae om te spaar, het VDM op 4 Mei sake beduiwel nadat hulle AfriForum in kennis gestel het dat hulle van plan is om by die hof aansoek te doen dat die bevel van 28 Maart tersyde gestel moet word. Dit, het AfriForum gesê, het die hele proses weer tot stilstand gebring. Die VDM se aansoek het, volgens AfriForum, bestaan uit ‘n kennisgewing van mosie met ‘n ondersteunende verklaring daarby aangeheg.

AfriForum het egter geweier om die aansoek te aanvaar, omdat die dokumente verkeerd opgestel was en het die munisipaliteit versoek is om dit oor in te dien op hul eie onkostes. “Die verklaring van die munisipaliteit was ‘n onvolledige verklaring onder eed geteken. Daar is spasies oopgelaat vir inligting wat ontbreek het en daar is ook notas van die opsteller wat daarop dui dat daar talle aspekte bestaan wat verduidelik moet word en/of inligting kort,” het AfriForum verduidelik.

Op 19 Mei het die munisipaliteit aangedui dat hulle nog tyd nodig gaan hê om hul aansoek te wysig én dat hulle sake in heroorweging sal moet neem “omdat hul benadering verander het.”

“... dit [is]duidelik dat die saak nog ’n hele tyd lank kan duur. Die regsproses neem bloot sy loop,” het AfriForum gesê.

Die VDM is genader vir kommentaar om uit te vind of hul aansoek al afgehandel is, en ook die redes agter die aansoek. Munisipale woordvoerder mnr. Ralushai Matodzi het 'n onderneming gegee om die inligting te bekom en deur te gee aan die koerant. Hy het ook aangedui dat die munisipaliteit tans besig is "met verskeie projekte om die watertekorte in Louis Trichardt en die omliggende areas" aan te spreek. Hy sou dié inligting ook later verskaf. Teen druktyd is daar nog gewag op sy kommentaar.

 
 
 

Viewed: 310

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT