ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jacques Els omhels sy vrou, Christie, kort nadat die hof in Julie 2012 gelas het dat hy dadelik sy agt jaar gevangenisstraf moet begin uitdien. In die agtergrond staan Els se regsverteenwoordiger, adv. Tom Dreyer.

Els moet terug tronk toe

Date: 06 October 2017 By: Isabel Venter

Jacques Els, wat erken het dat hy onwettig in besit is van tientalle renosterhorings, het nie gevangenisstraf vrygespring nie.

Els is in Maart 2012, ingevolge ‘n pleitooreenkoms met die Staat, skuldig bevind op aanklagte wat verband hou met die onwettige handel en besit van renosterhorings sonder die nodige permitte.

Aanvanklik het die klagte teen Els betrekking gehad op 38 renosterhorings, maar die getal is later aangepas tot 30. Landdros Pat Cloete het Els in die Louis Trichardt Streekshof gevonnis tot agt jaar direkte gevangenisstraf plus ‘n verdere vier jaar, wat in geheel opgeskort is. Els moes ook R1 miljoen aan die Groen Skerpioene oorbetaal as deel van sy straf. 

Hy het in sy pleitooreenkoms verduidelik dat hy die renosterhorings aangekoop het met die oog om dit later te verkoop as die verbod op die handel in renosterhorings gelig sou word. Els het die horings aangekoop van sy medebeskuldigde, wyle mnr. Tom Fourie (51), wat in 2010 sy eie lewe geneem het. Die renosters is verdoof en hulle horings is geoes. Nie een is gedood nie. Els het gesê hy glo sy optrede het verseker dat hulle nie deur stropers geteiken word nie. Sy plan was om later bergingspermitte aansoek te doen, maar voordat hy dit kon doen, is die horings vanuit sy woning in Thabazimbi gesteel gedurende September 2010.

Els het net vyf maande van sy tronkstraf uitgedien. Hy is op borg van R4 miljoen vrygelaat, terwyl hy gewag het vir die Appèlhof om sy aansoek aan te hoor. Els het toe alreeds die Hooggeregshof genader, wat toe die boetevonnis tersyde gestel het, maar nié sy tronkstraf nie. Els het aangevoer dat direkte tronkstraf ‘n te swaar straf was vir sy oortredings waarop hy skuld erken het.

Die regters in die Appèlhof het, na hulle Els se besware aangehoor het, ingestem dat die Louis Trichardt Streekshof gefouteer het. Volgens die regters het die landdros aanvaar dat die renosters onwettig gejag en doodgeskiet is, terwyl hulle horings net onder verdowing afgesaag is. “Die streekshof het ‘n fout begaan deur Els te hanteer asof hy ‘n stroper is wat renosters gedood het, wat hy nie was nie,” het die regters in hul uitspraak gesê.

Alhoewel die regters nie saamgestem het met die agt jaar gevangenisstraf nie, het hulle wel landdros Cloete geloof vir die res van sy uitspraak. Die regters het ingestem dat Cloete reg was toe hy in sy uitspraak gesê het dat mense - hetsy hulle renosters dood vir hulle horings en dit onwettig besit om ‘n wins daaruit te maak of nie - se gedrag laakbaar is en bydra tot die vernietiging van Suid-Afrika se wildlewe. “Onwettige aktiwiteite, soos dié waaraan die appellant [Els] deelgeneem het, vuur die onwettige internasionale handel in renosterhoring aan,” het die Appèlhof bygevoeg. Daarbenewens het die hof ook gevoel dat ‘n opgeskorte vonnis die verkeerde boodskap sal uitstuur.

Die hof het beveel dat elke individu se straf in ooreenstemming met sy spesifieke oortreding uitgedeel moet word en Els se agt jaar tronkstraf is na vier jaar verminder. Dit beteken dat Els sal moet teruggaan tronk toe om die res van sy vonnis uit te dien. Die opgeskorte vonnis van vier jaar is ook deur die Appèlhof bekragtig.

Teen druktyd was dit nog nie bekend of Els al aangemeld het by Departement Korrektiewe Dienste om sy straf klaar uit te dien nie.

 
 
 

Viewed: 1685

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Jacques Els afgeneem tydens een van sy vroeër hofverskynings in die Messina Landdroshof. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT