ADVERTISEMENT:

 

 
 

Zelmari was vir 'n lang ruk afhanklik van 'n rolstoel terwyl sy herstel het ná 'n operasie om die skade aan haar linkerarm en -been te herstel. Foto verskaf.

Dit gaan baie beter met klein Zelmari ná ongeluk

Date: 08 October 2017 By: Isabel Venter

Dit gaan onder omstandighede sommer baie beter met klein Zelmari van Biljon.

Die vierjarige Zelmari was die enigste familielid wat die gru-ongeluk op 20 Augustus oorleef het wat die lewens geëis het van haar ma, Franzelle (33), sussie Marizelle (6) en oupa en ouma Dawie en Elsa Sadie. Die ongeluk het op die N1 tussen Mookgophong en Mokopane plaasgevind, nadat die Volkswagen Jetta waarin hulle op reis was en ‘n Toyota Corolla tromp-op gebots het. Die bestuurder en nog twee insittendes van die Corolla is ook in die botsing dood. Hulle is later uitgeken as Flora Maluleke (45), Tintswalo Nkombyame Maluleke (39) en Glen Nkombyane (25) wat op pad terug was van ’n begrafnis in die Xikundu nedersetting net buite Malamulele.

Zelmari se linkerarm- en been is in die ongeluk gebreek, en sy moes operasies ondergaan sodat die bene weer met ysterpenne geheg kon word. Sy is in die MediClini in Polokwane behandel en is ná ‘n week ontslaan. Weens die penne kon Zelmari vir lank ná die ongeluk nie loop nie, en moes sy in ‘n rolstoel oor die weg kom.

Dié blondekop dogtertjie bly nou by haar pa en stiefma, Marius en Elanna van Biljon, op ‘n plaas wat aan Elanna se familie behoort net buite Tzaneen. Sy het voor die ongeluk hier in Louis Trichardt gebly by haar grootouers se huis saam met haar ma en sussie. Franzelle en Marius is sowat drie jaar gelede van mekaar geskei.

Toe die Zoutpansberger gebel het om te hoor hoe dit deesdae met Zelmari gaan, was Marius juis op pad met haar na ‘n doktersafspraak. Hy het gesê dat dit sommer baie beter met klein Zelmari gaan, maar dat daar nog baie sessies terapie vir haar voorlê. Sy is intussen al uit die rolstoel en kan al ‘n bietjie rondhardloop ook.  

Marius het ook al vir Zelmari gevat om Franzelle en Marizelle se graf te gaan besoek. Hulle is in die plaas se kerkhof, saam in een graf, begrawe.

In die dag, vertel Marius, bly Zelmari op die plaas by haar nuwe ouma. “Haar balans is nog nie lekker nie en sy val maklik om as sy en die maatjies te rof speel,” het Marius gesê. Daarom, en buiten vir al die fisioterapie en berading wat nog moet kom, het Marius en Elanna besluit om Zelmari eers in Januarie terug te laat gaan skool toe. “Ons het klaar vir haar ‘n plekkie in ‘n plaaslike kleuterskool hier bespreek,” het Marius gesê.

Intussen word daar ‘n spesiale verjaarsdagpartytjie vir Zelmari gereël wat op 21 Oktober vyf jaar oud sal wees. “Maar vir nou is ons net baie dankbaar dit gaan goed met haar en vat dinge dag vir dag,” het Marius gesê.

 
 
 

Viewed: 1727

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Zelmari van Biljon (4) bly op die plaas saam met haar pa en stiefma en hardloop al self rond. Foto verskaf.

Zelmari was vir 'n lang ruk afhanklik van 'n rolstoel terwyl sy herstel het ná 'n operasie om die skade aan haar linkerarm en -been te herstel. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT