ADVERTISEMENT:

 

 
 

Laatoes, die nuutste boek uit die pen van Hennie van Deventer.

Van Deventer pluk ook plaaslike

Date: 14 October 2017 By: Anton van Zyl

Veteraan-joernalis Hennie van Deventer se nuutste boek het pas verskyn en te midde van die dosyne staaltjies, is daar ook ‘n paar vertellinge vanuit die Soutpansberg.

Laatoes – Kykweer van ‘n kanniedood koerantman, is pas deur Naledi Uitgewers vrygestel. Dit is Van Deventer se 18de boek, wat volg op treffers soos Scoops en Skandes (1993), Kronieke van ‘n koerantman (1998), Mayafudi (2005) en Spore in die bos: Swerftog van ‘n olifant (2012).

In Laatoes pluk Van Deventer as’t ware die stories uit die wingerde waardeur hy die afgelope paar jaar gewandel het. Die staaltjies is nie noodwendig nuut nie, maar eerder ‘n vars vermengsel met Van Deventer se unieke vertelgeur.

Die boek begin met die hartseer van die dood van die “prins van syfermense”, Eric Wiese. Dié 81-jarige voormalige finansiële direkteur van Naspers is in Augustus vanjaar buite sy huis in Kaapstad vermoor. Dit is een van die persone wat ‘n lang pad saam met Van Deventer in sy joernalistieke loopbaan gestap het.

Van Deventer se oeuvre is egter nie smart nie, en die humor slaan telkens deur in sy beskrywing van mense en selfs die natuur. Sy liefde vir die wildtuin is reeds in verskeie van sy vorige boeke verklaar en in Laatoes kom kuier Sabiepark se luiperd weer. Die humor kom veral uit sy joernalis-dae en sluit ‘n erg amusante hoofstuk oor koerantopskrifte in. Selfs die politiek kom in oënskou, met terugblikke op Hendrik Verwoerd se dood in 1966 en die Soweto opstande tien jaar later.

Nader aan die Soutpansberg is dit egter die gebeure rondom die Anglo-Boereoorlog wat hervertel word. Uit die boeke van plaaslike historikus Charles Leach ontdek hy weer die storie van konstabel Billy Eagle, die Kanadees-gebore polisieman wat in die Soutpansberg gestasioneer was. In September 1908 word hy tussen Messina en Pontdrif deur leeus oorval. Eagle slaag daarin om na ‘n epiese geveg met een van die leeus die dier dood te maak. Sy beserings was egter van so ‘n aard dat hy kort na sy aankoms by Elim hospitaal oorlede is.

Die rolprent Modder en Bloed is in April 2016 uitgereik en vertel die verhaal van die Bushveldt Carbinneers, onder leiding van Henry “Breaker” Morant en sy handperd, Peter Handcock. Van Deventer som die gruweldade wat teen die einde van die oorlog plaasgevind het pragtig op in die vier-bladsy hoofstuk.

Een van die “soetdruiwe” van Laatoes is sekerlik die hoofstuk wat handel oor John Murray, die Hertog van Atholl, wat vir die grootste deel van sy lewe op Haenertsburg in Limpopo gewoon het. Die 12de Hertog van Atholl is natuurlik sy seun, Bruce Murray, wat steeds op Louis Trichardt woon.

Van Deventer se boek is deels nostalgie, deels geskiedenis, maar grotendeels gaan dit oor menswees. Waar die humor deurslaan, is dit telkens met deernis. Dit is ‘n boek wat “korrel vir korrel” geniet kan word, sonder dat daar ‘n volgorde voorgeskryf word oor hoe hierdie “laat oes” geniet moet word.

Laatoes is beskikbaar by die meeste boekwinkels. Dit kan ook direk bestel word by Naledi: http://naledi.online.

 
 
 

Viewed: 300

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT