ADVERTISEMENT:

 

 
 

Pa voor 10-jarige seun geskiet

Date: 03 December 2017 By: Isabel Venter

“Waar gaan dit eindig?” Só het tannie Rita van Rensburg moedeloos gevra, nadat haar skoonseun voor sy 10-jarige seun deur rowers geskiet is.

Baie inwoners sal tannie Rita se skoonseun, Luis Marcos, onthou as die eienaar van die Rio Foodzone. Hy het ‘n paar jaar gelede die besigheid hier in Louis Trichardt gesluit en ‘n Foodzone in Lwamondo naby Thohoyandou gevestig.

Dit was juis by sy winkel by Lwamondo waar Luis en sy 10-jarige seun, Ruan, deur gewapende mans Sondagaand voorgekeer is.

Luis was hierdie week nog te getraumatiseerd om self met die media te kon praat. “Hy was vreeslik emosioneel oor hy vir klein Ruan saamgevat het,” het tannie Rita Maandag aan die Zoutpansberger gesê. Sy en haar man, oom Hennie, bedryf die Liquor Zone in Louis Trichardt namens Luis en sy vrou, Marinda.

Die aanvallers, vertel tannie Rita, het ongeveer 19:00 toegeslaan op Luis. Hy en Ruan was saam en het die winkel gaan sluit vir die dag. Agter op die bakkie was van die winkel se personeel wat Luis op pad was om te gaan aflaai naby hulle huise.

Tannie Rita sê hulle vermoed daar was drie, dalk vier, aanvallers. Een van die aanvallers het die bakkie se deur oopgepluk en vir Luis uitgeruk. In die proses het Luis, so half op sy sy, op die grond geval. Die rower het oor hom gestaan en vir hom gevra: “Where is the money!?”

Volgens tannie Rita vat Luis nooit die winkel se winste saam met hom nie, juis om veiligheidsredes. Dit is ook wat Luis toe vir sy aanvaller gesê het, waarna die rower hom koelbloedig in die rug geskiet het en Luis se rewolwer by hom afgevat het. Hierna het die rowers in die bakkie gespring en weggejaag.

Die skoot het tot groot verwarring gelei onder die werkers, wat totaal en al histeries geraak het. Ruan het kopgehou en besef sy pa bloei. Hy het uitgespring en na die nabygeleë motorhawe se kafee gehardloop en die mense daar gaan vra vir pleisters. “Klein Ruan het nog met die mense gereël dat hy hulle die volgende dag sal kom betaal vir die pleisters omdat hy nie geld by hom gehad het nie,” het tannie Rita gesê.

In daardie stadium het Luis self nog nie besef dat hy raakgeskiet is of bloei nie. Hy het op sy beurt vir Marinda probeer bel, sodat sy vir hom en Ruan kan kom haal en die polisie kan bel. Terwyl hulle gewag het vir hulp om op te daag, het Ruan sy pa se wonde met die pleisters toegeplak.

Luis se bakkie is ‘n uur later, met behulp van die opsporingstelsel, teruggekry in die bosse, nie te ver van die winkel af nie. ‘n Ambulans het intussen vir Luis opgelaai en deurgejaag na die Zoutpansberg Privaathospitaal, waar die skietwond skoongemaak is. Luis, het tannie Rita gesê, was baie gelukkig. Die koeël is skrams deur sy blad en het nie sy rugstring of enige slagare getref nie.

Luis is oornag in die hospitaal gehou, waarna hy ontslaan is. Teen Woensdag was hy al weer op die been en terug by die werk. “Dit is vreeslik wat met hulle gebeur het,” het tannie Rita gesê. Sy was dankbaar dat Luis en Ruan vir hulle gespaar gebly het.

Die hele voorval het vir tannie Rita ou wonde oopgekrap. Sy en haar man, oom Hennie, het amper in dieselfde tyd in 2015 ook ‘n gewapende aanval oorleef. Die egpaar bestuur Luis se drankwinkel, Liquor Zone, hier op Louis Trichardt.

Twee gewapende rowers het vir tannie Rita, die werkers en kliënte aangehou in die winkel. Hulle het hulself gehelp aan die kontant in die kasregister, sigarette, ‘n paar bottels drank, oom Hennie se rewolwer, asook tannie Rita se selfoon en rekenaartablet.  

Dit was ook nie die eerste aanval op Luis nie. Hy en Marinda het in 2006 ‘n aanslag op hulle lewens oorleef. Rowers het op die egpaar geskiet, terwyl hulle onderweg was van die supermark na hul huis. Dit was toe hulle nog die Foodzone in Louis Trichardt bedryf het.

Hulle is huis toe met Marinda se voertuig, nadat iemand twee van Luis se bakke se wiele stukkend gesteek het. Die egpaar was egter gereed gewees. Naby hul huis het ‘n bakkie, met vier gemaskerde verdagtes, voor hulle ingejaag en hulle tot stilstand gedwing. Kort daarna is daar op hulle losgebrand. Luis het teruggeskiet en die verdagtes het op die vlug geslaan. Drie van die vier verdagtes is later aangekeer, terwyl die vierde een (wat gewond is tydens die vuurgeveg) ontsnap het.

Luis en Marinda het na die voorval hul opregte dank uitgespreek teenoor almal van die plaaswag, Soutpansberg Dorpswag, polisie en dr. Anton Stroebel wat hulle bygestaan het ná die aanval.

 
 
 

Viewed: 4611

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT