ADVERTISEMENT:

 

 
 

Afgeneem saam met haar span is kapt. Danelle Fourie, toe hulle in 2014 aangewys is as die top ondersoekeenheid in Suid-Afrika. Voor, van links na regs, is  konst. Mokgadi Mamukhwana, Danelle, konst. Bologo Luvhani en konst. Rasilabi Tshimangadzo. Agter is A/O Daniel Ligege, lt. Thomas Niruna and A/O Samuel Thovhakale.

Staatmaker kaptein groet polisie

Date: 08 December 2017 By: Isabel Venter

Na meer as drie dekades in die polisie het kaptein Danelle Fourie besluit om af te tree.

In haar tyd by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) was Danelle 15 jaar lank betrokke by die kinderbeskermingseenheid in Louis Trichardt. Hierdie eenheid was verantwoordelik vir alle ondersoeke wat verband gehou het met gesinsgeweld, misdade teen kinders en seksuele misdrywe.

Danelle het op 30 November amptelik haar laaste dag gewerk as bevelvoerder van hierdie eenheid.

In haar jare van diens was daar hoogtepunte en laagtepunte, maar een ding is verseker, kapt. Fourie het ‘n verskil gemaak.

Een hoogtepunt was verseker toe haar eenheid in 2014 aangewys is as die top ondersoekeenheid in Suid-Afrika. Die toekenning is ook gemaak ter erkenning van die eenheid se toewyding en harde werk wat hulle aan die dag gelê het om verskeie reeksverkragters aan te keer gedurende 2012 en 2013. Een van dié suksesvolle gevalle was ‘n reeksverkragter wat positief gekoppel kon word aan nege ander onopgeloste verkragtingsake in en rondom die Louis Trichardt-gebied.

Nog ‘n saak wat Danelle help oplos het, was die geval van die verkragter Michael Khorombi. Khorombi is aangekeer toe hy na ‘n DNS-analise verbind is met twee verkragtingsake. In daardie stadium het ‘n Gautengse hof reeds nege lewenslange vonnisse aan Khorombi oorhandig. Die eenheid het in dieselfde tyd ‘n kinderverkragter, Hetekani Loyd Mabudza, gevang wat later lewenslange tronkstraf opgelê is.

Daarby gesê was die ondersoekwerk in hierdie eenheid nie altyd ‘n plesier nie en soms emosioneel uitputtend. Midde van dit alles het die gemeenskap se belange altyd eerste gekom en dit is waarvoor Danelle haar elke dag op kantoor beywer het.

Sy was maar 17 gewees toe sy by die polisie aangesluit het. Na haar verpligte opleiding was Danelle vir ‘n klompie jare aktief betrokke by die polisie se skakelkantoor, eers in Tzaneen, toe Thohoyandou en vir ‘n rukkie in Louis Trichardt.

Aan hierdie jare in die polisie dink Danelle terug met heimwee. Dit was vir haar, vertel Danelle, lekker om aktief betrokke te wees in haar plaaslike gemeenskap. Sy was, onder andere, betrokke by die organisering van skoue en heelwat verskillende uitreikprogramme om die polisie as’t ware bekend te stel aan die gemeenskap wat hulle dien.

So het dit toe by een skou, in Tzaneen, gekom dat Danelle inligting ontvang het wat gelei het tot die suksesvolle arrestasie en vervolging van ‘n bende bedrieërs wat mense destyds uitgevang het met ‘n sogenaamde ruby-scam.

Volgens Danelle sou die skelms gewoonlik hul visiere instel op niksvermoedende mense wat hul motors te koop adverteer. Een van die skelms sal dan vir die eienaar vra om saam met hom te wag omdat sy geld “uitgeklaar” moet word, en terwyl hulle dan saam wag sal nog bedrieërs daar aankom. Voor die eienaar sy oë kan uitvee het hy ‘n “ongeslypte robyn” (party was gemaak van gesmelte tandeborsels) gekoop en is die bedrieërs vort sonder om sy motor te koop.

‘n Toeskouer en vriend wat gestaan en luister het na Danelle se praatjie van dié verneukspul het snuf in die neus gekry dat dieselfde bedrieërs sy bakkie by hom wou koop. Danelle het inderhaas gereël dat hoofkantoor ‘n lokval stel vir die bedrieërs om hulle te vang as hulle die eienaar sou gaan ontmoet het om die kooptransaksie te bespreek. Die skelms wat tydens dié lokval gearresteer is het Danelle gehelp met haar ondersoek en dit het haar in staat gestel om die hele sindikaat oop te vlek.

Plaaslik sal baie oud-leerlinge ook vir Danelle onthou vir al haar praatjies oor misdaadvoorkoming en hoe om die euwel van dwelms te bestry.

Die feit dat Danelle egter die tuig neergelê het beteken nie sy gaan ledig rondsit nie. Sy sien vreeslik uit na nuwe uitdagings wat haar en haar man se proteaboerdery inhou. Buiten vir die proteas sal Danelle haar ook besig hou met haar eie aarbei-boerdery.

“Albei hou my al reeds so besig, dit voel nog nie vir my of ek uitgetree het by die polisie nie,” sê Danelle.

 
 
 

Viewed: 454

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT